Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Pa-en-dogter-duo: Portia en Cedwyn Joel skitter saam
10 Junie 2021
Portia Joel het in haar pa Cedwyn


As kind het Portia Joel (40), gewilde sepie Suidooster se sakevrou, Lee-Ann Jacobs, en middelste van drie dogters, baie keer gevoel soos die afskeepkind, die een wat niemand raaksien nie.

Vir pa Cedwyn (68), Suidooster se AB, was Portia altyd sy odd one out, definitief een van sy drie gunstelingkinders “en die enigste linkshandige in die hele familie”. “Ons het haar probeer regs dwing, maar sy wou van niks weet nie. Sy is my odd kind en ek is net so lief vir haar, in fact liewer miskien as vir die ander! Soms het sy linkse idees wat sy op my uithaal, maar nou ja . . .,” lag hy.

Vandag is dié pa en dogter nader as ooit aan mekaar, en Cedwyn is verskriklik trots op sy dogter wat in sy voetspore volg, al het hy haar gewaarsku om dit nie te doen nie. En Portia weet, maak nie saak watter keuses sy in die lewe maak nie en al stem hy nie altyd saam nie, hy sal haar altyd ondersteun en onvoorwaardelik liefhê.

Die band tussen hulle is onbreekbaar. Pa en dogter is juis onlangs beide genomineer vir die gesogte Safta-toeken-nings (South African Film and Television Awards) vir hul rolle in Suidooster. Dit is die eerste keer in die geskiedenis wat dit gebeur het en vir altwee was dit baie spesiaal, al het hulle nie gewen nie. “As kind het ek altyd gedink my susters was die gunstelinge, maar soos ek ouer geword het, het ek begin besef jou ouers het nie regtig favourites nie – hulle hanteer maar net verskillende persoonlikhede op ander maniere,” verduidelik Portia.

“Ek het my eie issues gehad, maar my kinderdae was eintlik wonderlik.” Cedwyn erken hy het altyd gehoop vir ’n seuntjie, maar dit was hom nie beskore nie. “Toe die derde een óók ’n girl is, toe begin ek bekommerd raak,” lag hy. “Maar die derde een was ’n laatlam – ses jaar ná Portia, so toe gooi ek maar tou in . . .”

Streng en liefdevol

As pa was Cedwyn baie streng. “Maar ek het vinnig besef ek het met vroue te doen en kan nie te rof wees nie; moes maar my mates van dissipline mooi check. Maar ek wag nie vir ’n vrou nie! As ek honger is, dan eet ek . . . Gelukkig het ek baie gehoor-same kinders.” Hy voel hy het homself altyd baie duidelik gemaak. “Ek praat gewoonlik met baie passie, so daar is nie ’n manier dat jy my verkeerd gaan verstaan nie!” Dít het hy by sy ma gekry, vertel hy.

“Sy was ’n vreeslike feisty vrou – dit was óf reg óf weg by haar. Ek is baie dankbaar sy het my so goed op lyn gehou en ek wonder soms wat sou van my geword het as ek nie ’n ma gehad het soos sy nie.” Dit maak vir Cedwyn bitter hartseer as hy kyk na die jeug van vandag.

“Die goete wat hulle aanvang – hulle kom weg met ’n klomp dinge. Ek is baie disappointed in die jong manne van vandag. Dit lyk asof hulle half ’n luiheid ontwikkel. Hulle wil nie werk nie. “Hulle het niks ambisie nie. Dis verskriklik teleurstellend. Selfs die outjies wat nou vroegtydig pa geword het. Hel, man, en hulle maak nie voorsorg vir die kleintjies nie. Dis eintlik pateties hoe dinge in die buurt gebeur.

“Daar is vir my so ’n agteruitgang in terme van morele waardes in die gemeenskap. My vraag is altyd: ‘Watse tipe ouer is ons besig om groot te maak vir die toekoms?’ Daar bestaan omtrent nie meer so iets soos pa-figure nie. Ek weet nie hoe maak ons dit reg nie. Soveel kinders word sonder pa’s groot. Ek wens hierdie manne wil besef jy sal altyd ’n pa bly, so maak seker jou kinders kan na jou opkyk; na jou voorbeeld. Jou kinders moet kan trots wees op jou as pa,” sê hy passievol.

“Om ’n pa te wees, is ’n groot verantwoordelikheid. Ek is so dankbaar dat ek ’n pa gehad het wat volgens die boek gewerk het. Hy was ’n baie wyse man. Ek mis steeds my ouers vir hulle insig, veral as ek na my kleinkinders kyk.” Cedwyn het reeds vier kleinkinders en hulle is almal oupa se hart se punt! “Maar hulle weet ook Oupa en Ouma hou van die regte ding . . .

Al kom hulle nogal weg met goeters wat ek nie die ander sou toelaat nie! Die kleintjies draai jou nogal om die pinkie,” lag hy. Vir hom is een van die lekkerste dinge van oupa-wees, om vir die kinders stories te vertel. “Ek is maar by uitstek ’n storieverteller en ek dink dis een van my gawes. Ek is ook mal daaroor om na stories te luister van ander mense.”

Toe sy dogters klein was, was dit ook vir Cedwyn heerlik om vir die kleinspan poppekas te hou. “My sussie het vreeslik gesukkel om haar seuns te oorreed om te bad, dan het ek gesê, ‘daar word niks in ’n show gesit as ’n man nie sy pajamas aanhet nie,’ en dan het hulle vinnig gaan was! Die kinders het amper half geleef in die stories wat ek hulle vertel het en dit was vir my heerlik! Ek is gefassineerd met die manier waarop kinders dink en hoe hulle op my stories reageer,” vertel hy.

Portia het in Eersterivier buite Kaapstad grootgeword en daarna in die Kaap by City Varsity studeer terwyl die res van hul gesin Johannesburg toe getrek het. Kort ná haar studies het sy die gesin gevolg en ook omdat die vermaaklikheidsbedryf in Gauteng in daardie tyd geskitter het. “Dit was regtig Egoli, place of gold, vir akteurs!” lag sy.

Vir my is hy soos ’n rots. Hy is iemand met wie jy kan praat oor enigiets.

Cedwyn was nie baie geneë oor die idee dat Portia in sy akteursvoetspore wou volg nie. “Hy sal dit steeds vir enigeen wat wil luister, vertel,” lag sy. “Toe hy sy loopbaan begin het, was dit in die apartheidsjare. Dinge was rof. Hy het geweet hoe moeilik dit vir my sou wees, hoe dikvellig ek sou moes word om in die industrie te oorleef en hy wou nie hê ek moet daardeur gaan nie.”

Portia het nooit eens ’n plan B gehad nie en was vasbeslote om ’n aktrise te word. “Ek glo steeds ek wil nooit ’n plan B hê nie, want dan set jy jouself up vir failure. Ek wil my alles in my passie insit.” Cedwyn vertel op sy beurt hy was aanvanklik eintlik baie kwaad vir haar. “Daai jare het ek my permanente werk opgegee om ’n professionele akteur te word en dit was nogal ’n plunge. My vrou het my eintlik aangemoedig en gesê ek moet doen wat op my hart lê. Die passie is steeds daar en ek weet nou Portia is netso lief daarvoor.”

Die eerste keer wat Portia en Cedwyn saamgewerk het, was by Generations. Cedwyn was kroegman Sonny, terwyl Portia die rol van Randy vertolk het. “Dit was fantasties! My pa het nooit vir homself involve of ingemeng in my besigheid nie. Hoewel sy deur altyd oop was vir advies, was ons professionals op stel,” onthou sy.

“By die werk was ons kollegas. Dis eintlik meer weird nou, want ek is nou ouer, en ons is ook nou nader aan mekaar.” Vir Cedwyn was hulle werk saam op Generations aanvanklik nogal vreemd. “Hier skielik staan ek in ’n toneel saam met my dogter en toe dog ek: ‘Hel, jong, ek hoop nie sy sien nou haar pa wat ’n bietjie sy krag op haar uithaal nie’, want dit was so ’n tipe verhouding met die karakter wat sy gespeel het. Ek was glad nie beïndruk met haar verhouding met die ander outjie in die bar nie. Ek is nie seker of sy dalk op daai dag gevoel het asof ek regtig weer in my rol as pa daar opgetree het en dit dalk persoonlik opgevat het nie,” lag hy. Maar vir hom was dit nog altyd ’n groot voorreg om saam met sy dogter te kan werk.

 Dié pa-en-dogter-duo geniet dit om op een stel te
Dié pa-en-dogter-duo geniet dit om op een stel te werk.


Ondersteun mekaar

Terwyl Portia steeds in Generations was, het Cedwyn en sy vrou teruggetrek Kaap toe. “Dit was amper asof my wêreld onder my uitgeruk is. Skielik was ek heeltemal alleen,” deel sy.

Vir 15 jaar het Portia haar potjie in Johannesburg gekrap, maar haar hart het Kaap toe verlang en sy het sak en pak teruggetrek. “Dit was so twee jaar voor Suidooster begin het. Ek het my familie en die lewe hier gemis – dit was een van die dryfvere vir die skuif.” Dit was egter ’n groot geloofsprong omdat sy nie werk aan die Kaapse kant gehad het nie. “Ek het maar ’n kans gevat, want dinge in Johannesburg het toe ook nie so great gegaan nie en ek het my mense nodig gehad.”

Vandag weet sy dit was die beste besluit wat sy kon maak. Portia vertel sy en haar pa was nog altyd geheg aan mekaar. “Ons is ’n baie tight-knit familie – dit sluit die uitgebreide familie soos neefs en niggies in. Ons het saam grootgeword in een huis in Bellville-Suid, voor ons Eersterivier toe getrek het toe ek tien was.” Vir Portia is Cedwyn nie net ’n wonderlike man nie, maar die beste pa waarvoor sy ooit kon wens.

“Hy het so baie fantastiese eienskappe. Ja, oukei, daar is ’n paar waarmee ek nie noodwendig saamstem nie,” skerts sy, “maar vir my is hy soos ’n rots. Hy is iemand met wie jy kan praat oor enigiets. Hy behandel alle mense – maak nie saak wie jy is of van waar af jy kom nie – met respek. Hy respekteer ook jou besluite, selfs al stem hy nie noodwendig daarmee saam nie. Dit is een van die belangrikste lesse wat ek by hom geleer het. Hy sal vir jou raad gee en waarsku, maar nooit probeer oortuig nie. Hy is ook baie, baie nederig. En hy is mal oor mense! Hy kan met enigiemand ’n geselsie aanknoop. Hy kan verskriklik baie praat!” lag sy.

“Een gesprek met hom bestaan uit 10 000 onderwerpe en hy gaan net aan en aan en aan . . . Partykeer is dit lekker om net te sit en te luister, maar ander kere raak dit lank as jy iets het om te gaan doen en hy hou nie op nie! As ek nou ’n swakpunt moet uitdink, is dit seker dit.” Wanneer Portia vir Cedwyn nodig het, is hy egter altyd daar. “Ek gaan gewoonlik deur moeilike tye op my eie. Ek sal nie sommer daaroor praat tot ek reg is nie. Maar ek weet ek kan altyd na my ouers toe gaan as ek hulle nodig het.”

Portia is in ’n verhouding met ’n vrou en hoewel dit vandag steeds iets is wat almal nie aanvaar of begryp nie, glo Portia jy moet getrou bly aan jouself en wie jý is. En nie noodwendig wat die verwagtinge is van ander nie. Dít is volgens haar die sleutel tot jou geluk. “Die mense wat jou liefhet, sal sien jy is gelukkig en jou ondersteun, maak nie saak wat nie.”

Portia het onlangs haar troue uitgestel van Maart na Desember vanjaar as gevolg van die pandemie. Sy en haar verloofde, Romaine Rhoda (36), is al vir meer as tien jaar saam en reeds sewe jaar verloof, en het besluit hulle kan nog ’n rukkie wag vir hul droomtroue eerder as om hul gaste in gevaar te stel.

“Dit was eintlik ’n maklike besluit. Ons wil die perfekte troue hê en met die huidige reëls en regulasies, is dit nie moontlik nie. “Toe Romaine my ouers gaan vra het, het ek buite by die venster sit en afluister,” onthou sy laggend. “My pa het nogal baie daai dag gepraat!”

Respekteer besluite

Hoewel Portia se lewenskeuses nie noodwendig altyd strook met hoe Cedwyn die lewe sien nie, het sy van kleins af geweet sy het sy volle ondersteuning en onvoorwaardelike liefde. “My pa respekteer my en ek vir hom. Soms is dit ’n geval van agree to disagree, maar hy is nie een van daardie mense wat jou probeer oorreed om te dink soos hy dink of glo nie. Dit is iets wat ek baie van hom waardeer.”

Cedwyn beaam dit. “Sy het haar manier van na dinge kyk en ek het myne. ’n Mens moet verstaan die skool waar ek vandaan kom, baie konserwatief, beteken nie ek is nie buigsaam nie. Ek maak compromises hier en daar as dit volgens my boek reg is. Maar aan die einde van die dag moet my kinders hulle eie besluite neem en ek raak nie betrokke nie, selfs nie eens in hul liefdeslewens nie. Dis nie my saak nie,” sê Cedwyn.

Portia Joel saam met mede-aktrise, Denise Newman,
Portia Joel saam met mede-aktrise, Denise Newman, as Bridgette.

Hy sê voorts sy kinders weet wat die verwagting is en wat sy view is oor sekere issues, maar hy baklei met niemand oor niks nie. “Ek gee advies bloot uit liefde en my vaderlike plig om my dogters te beskerm. Sleg of reg, jy gaan jou kinders beskerm. Selfs die diere doen dit, so wat nog te sê van mense. Dis instinktief. Ek gaan goed sê as dit my pla, al hou jy nie daarvan nie. Maar jou keuses maak nie dat ek minder lief is vir jou nie, al stem ons nie altyd saam nie. Hulle moet net nie terughol na my toe en sê ek het hulle nie gewaarsku nie. Jy moet verantwoordelikheid vat vir jou besluite.”

Portia se ouers se voorbeeld is die een waarop sy haar verhouding skoei. “Die strength in hulle verhouding, die absolute vertroue tussen hulle is ’n inspirasie. Daardie vertroue gee vir jou die endurance van ’n leeftyd om watter ook al situasie of probleme oor jou pad kom, te hanteer. Vir hulle is hul vows nie net beloftes nie, maar eerder iets wat niemand kan breek nie. Hulle is totaal en al ’n voorbeeld van hoe ’n huwelik moet lyk.”

Oor hul Safta-nominasie is pa en dogter beskeie. Cedwyn sien dit as erkenning vir sy bydrae tot die bedryf en waardeer die erkenning. Maar meer as dit, is hy baie trots op sy dogter. “Ek wil hê sy moet ook weet hoe trots haar susters en almal wat haar ken, is op haar. Dit is nou haar beurt om die voorbeeld vir ander te wees. Dit wys ook vir my sy het tog vir my oor die jare geluister oor die belangrikheid van gedissiplineerd wees in hierdie game. Ek hoop sy gaan baie meer sukses hê in die bedryf as ek.

Ek sien uit daarna om eendag onder ’n boom agteroor te sit en te sê: ‘Dáái is my dogter!’” Cedwyn sê hy weet nie hoe lank hy nog in die bedryf gaan wees nie, “want ’n mens raak moeg”, maar hy is opgewonde oor dit wat sy dogter nog in haar loopbaan en lewe gaan vermag.

AAN MY VADER

Ek dink ek praat vir myself, maar ook vir my susters en almal wat jou sien as hul vaderfiguur . . .

Dankie vir die fondasie wat jy vir ons gebou het. Dankie vir die liefde, leiding en ondersteuning wat jy vir ons gegee het om ons te kry waar ons vandag is.

Jy het ons grootgemaak om die beste te wees wat ons kan. Ons streef altyd daarna om jou trots op ons te maak, maar net omdat ons so geseënd is om jou as ons pa te hê.

Ons is lief vir jou. Portia

Meer oor:  Cedwyn Joel  |  Kuier  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.