Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Paasfees: Idees vir jou tafel – vis tot sjokolade
1 April 2021

Lamsboud gemarineer in jogurt, heuning en speserye

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 1 groterige lamsboud van ongeveer 2,5 – 3 kg
  • 6 knoffeltoontjies
  • 1 x 5 cm-knoets vars gemmer
  • 2 teelepels sout
  • Gerasperde skil en sap van 1 groot suurlemoen (of 2 kleintjies)
  • 1 opgehoopte teelepel fyn komyn (cumin)
  • 1 opgehoopte teelepel borrie
  • 1 opgehoopte teelepel droë roosmaryn
  • ½ teelepel fyn naeltjies
  • 300 ml ongegeurde jogurt
  • 1½ eetlepels heuning
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Gebruik ’n skerp mes met ’n dun lem en steek fyn snytjies oor die hele boud.

Maak die snytjies tot diep in die vleis. Sit die boud in ’n oondroos- terpan. Gooi die knoffel, gemmer, sout, suurlemoenskil en -sap, komyn, borrie, roosmaryn en naeltjies in die bekerge-deelte van ’n voedselverwerker en meng goed totdat jy ’n lekker gladde mengsel het.

Smeer dié mengsel oor die hele boud. Moenie die beker skoonmaak nie – giet die jogurt en heuning net so in en meng goed. Giet oor die boud.

Bedek die oondroosterpan met foelie en los dit oornag in die yskas. Haal die boud uit die yskas en laat staan vir ’n halfuur buite voordat jy dit in ’n voorverhitte oond van 220 °C vir 30 minute sit.

Verlaag die hitte tot 160 °C en bak vir nog 1½ uur. Lig die foelie so af en toe en bedruip die boud met die pansappe.

Verwyder die foelie, geur met sout en peper en bak vir nog 30 minute onbedek. Sit die boud op ’n mooi opdienbord en giet die pansappe in ’n souspot of bekertjie op die eettafel en bedien saam met die gemarineerde boud.

WENK:
As die boud nog nie bruin genoeg bo-op is nie, stel die oond op rooster en verhoog die temperatuur tot 220 °C. Hou mooi dop terwyl jy dit ’n paar minute lank verbruin.

Marbella-hoender

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1 heel hoender
  • ½ koppie klewerige donker bruinsuiker
  • ¼ koppie olie
  • ¼ koppie balsemieke asyn
  • ½ koppie pitlose pruimedante (prunes)
  • ¼ koppie vars basiliekruid (basil)
  • ¼ koppie pitlose groen olywe
  • ¼ koppie kappertjiesaad (capers)
  • 3 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 1 koppie droë wit wyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ¼ koppie vars pietersielie, gekap

METODE

Sit die hoender in ’n houer waarin dit knussies pas. Giet die bruinsuiker, olie en balsemieke asyn in ’n mengbak en meng goed. Roer die pruimedante, basiliekruid, olywe, kappertjiesaad en knoffel by.

Giet die mengsel oor die hoender. Maak seker jy vul ook die holte van die hoender met die mengsel. Bedek die bak met ’n deksel of kleefplastiek en marineer oornag in die yskas.

Sit die hoender met marinade en al in ’n oondroosterpan waarin dit knussies pas. Bedruip met die wyn en geur met sout en peper. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir 80 – 90 minute of tot die hoender deurgaar is.

Gebruik die pansappe en bedruip die hoender so elke 20 minute daarmee terwyl dit gaar word. Skep die hoender en sous in ’n mooi opdienbord en sprinkel die pietersielie oor.

WENK:
Jy kan die witwyn met tee vervang. Trek twee sakkies rooibostee lekker sterk op 1 koppie kookwater en geur dit met 1 eetlepel heuning en 1 eetlepel suurlemoensap.

Spinasie-en-feta-pasteitjies

Genoeg vir 6

BESTANDDELE

  • 200 g spinasieblare
  • 175 g songedroogde tamaties in olie of vinaigrette
  • ½ koppie fetakaas, verkrummel
  • 2 eiers, liggies geklits
  • ½ x 500 g pak fillodeeg
  • ½ koppie botter, gesmelt

METODE

Verwyder die stingels en wit ribbe van die spinasie en snipper die blare. Sit die spinasie in ’n kastrol saam met ¼ koppie water. Verhit die pot en kook totdat die blare net-net verwelk is.

Dreineer die spinasie in ’n sif en laat effens afkoel. Druk die oortollige water uit in ’n skoon doek. Dreineer die tamaties en versnipper. Sit die spinasie, tamaties, feta en eiers saam in ’n bak en meng goed.

Bespuit die gate van ’n 6-gat-reuse-muffinpan met oliesproei. Rol die fillodeeg versigtig oop en hou tussen twee klam doeke. Sny 18 vierkante wat heelwat groter is as die gate van die pannetjie. Hou die deeg steeds onder die klam doeke terwyl jy elk van die vierkante met ’n kwas wat in die botter gedoop is, smeer. Pak 3 vierkante oorkruis in elk van die gate.

Verdeel die vulsel tussen die 6 deeggevoerde gate. Vou die oorhangpunte terug oor die vulsel en druk liggies vas. Verf botter oor die pasteitjies. Bak in voorverhitte oond van 180 °C vir 25 – 30 minute of totdat die deeg goudbruin en bros is.

Vyeslaai met balsemieke vinaigrette

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

Slaai

  • 200 g jong spinasieblare
  • 8 vye, met skil en al in kwarte gesny
  • 1 – 2 avokado’s, ontpit, geskil en in skyfies gesny
  • 1 groot rooiui, in dun skyfies gesny
  • ½ koppie granaatpitte

Vinaigrette

  • ½ koppie olie
  • ¼ koppie balsemieke asyn
  • 1 knoffeltoontjie, fyngekap
  • 1 eetlepel Dijon-mosterd
  • 1 teelepel esdoringstroop (maple syrup) of heuning
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

METODE

Slaai:

Rangskik die bestanddele op ’n mooi opdienbord. Vinaigrette: Klits die bestanddele vir die vinaigrette liggies saam of giet dit in ’n glasfles met ’n skroefdeksel en skud goed. Giet oor die slaai en bedien.

WENK

Jy kan geroosterde okkerneute bo-oor sprinkel vir ’n ekstra dekadente slaai.

Bengaalse viskerrie

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 eetlepels olie
  • 3 uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, fyngekap
  • 1 x 3 cm-knoets vars gemmer, fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 1 eetlepel matige kerriepoeier
  • ½ teelepel borrie
  • 1 teelepel fyn koljander
  • 1 teelepel fyn komyn (cumin)
  • 1 x 400 g-blik tamaties, gekap
  • 1 koppie water Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 500 g stokvismootjies (hake), sonder vel en in happiegroottestukke gesny
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ’n Hand vol vars koljanderblare, gekap

METODE

Verhit die olie in ’n groot swaarboompan of -kastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, gemmer en rissie by en braai vir ’n minuut of twee saam voordat jy die kerriepoeier, borrie, koljander en komyn byvoeg. Roer goed deur.

Voeg die tamaties, water, suurlemoenskil en -sap by en meng goed. Kook vir 5 minute saam voordat jy die stukkies vis byvoeg en sorg dat elkeen met die sous bedek is.

Geur met sout en peper na smaak. Bedek die pan of kastrol gedeeltelik met ’n deksel en kook vir 5 minute saam of totdat die vis net-net gaar is. Sprinkel die koljanderblare bo-oor en bedien saam met basmatirys.

Meringuekrans met sjokoladehasies en spikkeleiertjies

Maak 5 nessies

BESTANDDELE

Meringuekrans

  • 3 eierwitte
  • ’n Knippie sout
  • ¼ teelepel kremetart (cream of tartar)
  • 1 koppie strooisuiker (castor sugar)
  • ½ teelepel vanilla essence

Sjokroom

  • 150 ml room
  • 1 eetlepel versiersuiker (icing sugar)
  • 1 teelepel kakao
  • 150 g ongegeurde jogurt

Samestelling

  • 5 klein sjokoladehasies
  • 25 – 30 spikkeleiertjies
  • 80 g donker- of melksjokolade, gesmelt

METODE

Meringuekrans:

Klits die eierwitte met die sout en kremetart tot styf, maar nie droog nie. Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die vanilla essence by en klits goed. Voer ’n bakplaat met bakpapier.

Trek ’n sirkel van ongeveer 20 cm in deursnee. Teken 5 kleiner sirkels in die groot sirkel. Draai die bakpapier om. Skep die meringue in ’n spuitsak en spuit vyf sirkels op die potloodgids wat jy geteken het.

Maak ’n effense holte in die middel van elke sirkel. Bak in ’n voorverhitte oond van 120 °C vir 1 uur en 20 minute. Skakel die oond af, hou die oonddeur effens oop deur ’n houtlepel aan die kant in te druk en laat staan die meringue tot heeltemal afgekoel.

Pak die krans versigtig op ’n opdienbord. S

Sjokroom:

Klits die room styf en klits die versiersuiker en kakao by. Klits die jogurt by. S

Samestelling:

Skep die mengsel in die kranse en pak 5 of 6 spikkeleiertjies in elkeen. Smeer ’n bietjie gesmelte sjokolade aan die bodem van elke hasie en monteer een op die rand van elke krans. Gebruik die res van die sjokolade om die krans te bedruip.

Sjokoladebrood

Maak 2 brode van 20 cm

BESTANDDELE

  • 6 – 8 koppies koekmeel
  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • ½ koppie suiker ½ koppie donkersjokolade, krummelfyn gekap (byna verpoeier)
  • 2 teelepels sterk kitskoffiepoeier
  • 2 teelepels sout
  • 1 koppie louwarm water
  • 1 koppie louwarm melk
  • 6 eetlepels botter, gesmelt
  • 2 eiers
  • 150 g donkersjokolade, grofweggekap
  • 60 g melksjokolade, grofweggekap

METODE

Meng 2 koppies van die koekmeel met die kitsgis, suiker, verpoeierde sjokolade, kitskoffiepoeier en sout. Voeg die warm water en melk, gesmelte botter en eiers by en meng met mening totdat jy ’n lekker gladde mengsel het. Roer die gekapte sjokolades met ’n houtlepel by.

Wees versigtig om die sjokolade nie te veel op te breek nie. Voeg die res van die koekmeel, ’n halwe koppie op ’n slag by, totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het wat van die rande van die bak af lostrek. Keer die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en knie vir 5 minute of totdat die deeg lekker elasties is. Jy kan ’n bietjie koekmeel byvoeg as die deeg nog kleef, maar voeg dit 1 eetlepel op ’n slag by totdat jy ’n lekker elastiese deeg het.

Sit die deeg in ’n glasbak wat met olie gesmeer of met oliesproei gespuit is. Draai dit om sodat die bokant ook met die olie bedek is of spuit ’n lagie oliesproei bo-oor. Bedek die bak met kleefplastiek en ’n skoon doek en laat staan vir 1 – 1½ uur op ’n warm plek totdat dit dubbel die grootte gerys het.

Knie die deeg effens af, baie liggies, en verdeel in twee. Sit elke deeghelfte in ’n gesmeerde losboom-koekpan van 20 cm in deursnee. Bedek met kleefplastiek en laat staan ’n halfuur lank op ’n warm plek. Haal die plastiek af en bak in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir 40 – 45 minute.

Keer die brode op ’n draadrak uit om effens af te koel. Jy kan die brood so warm of heeltemal afgekoel bedien met botter. Aarbeikonfyt gaan ook heerlik daarmee saam of roomkaas gemeng met ’n bietjie soetrissiesous

Meer oor:  Kos  |  Kuier  |  Resepte  |  Paasfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.