Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Paramedici offer op om lewens te red
11 Desember 2019

Vir die meeste mense is dit nou tyd vir vakansie en om ’n welverdiende breek te vat ná ’n uitmergelende werkjaar. Maar daar is diegene wat hierdie tyd van die jaar ekstra hard moet werk om ander se lewens te red.

Een só ’n mens is Kathleen Louis (58), ’n paramedikus wat al vir die afgelope 20 jaar in die nooddienste werk. ’n Traumatiese ervaring op ’n stasie het daartoe gelei dat Kathleen uit haar werk as administratiewe klerk by ’n groot winkelgroep bedank en by nooddienste aangesluit het.

Kathleen van Portlands in Mitchells Plain moes een middag hande gevou staan en kyk hoe ’n man sy lewe verloor omdat sy nie die nodige kennis en ervaring gehad het om sy lewe te red nie. Die voorval het net ’n bietjie meer as 20 jaar gelede gebeur toe die man, wat saam met haar was op die platform op Ysterplaat-stasie, gesteek en beroof was van sy besittings.

Hoewel nooddienste vergeefs probeer het om hom te stabiliseer en sy lewe te red, het die voorval Kathleen se belangstelling in hul werk geprikkel. Net daar en dan het Kathleen besluit sy wil nooit weer in daardie bootjie wees nie en dat sy haarself gaan bekwaam om lewens te red. Sy het sommer die daaropvolgende week daadwerklik opgetree om haar nuwe loopbaan te begin.

Kathleen vertel met ywer hoe sy destyds haar nuwe loopbaan begin het. “Ek het toe vrywillige diens gedoen. Dit was opwindend en vervullend om te weet dat jy mense se lewens red en jou lewe daaraan wy. Hoewel dit soms ook baie uitdagend was, was dit lonend om te sien watter verskil jy maak en die verligting op ’n familie se gesigte wanneer jy dit reggekry het om ’n pasiënt te stabiliseer.”

Ná twee jaar se vrywillige diens het ’n permanente pos oopgegaan en Kathleen het daarvoor aansoek gedoen. “In 2002 het ek aansoek gedoen vir ’n permanente pos en my loopbaan het amptelik afgeskop.” Maar dit is eintlik in 2005 dat sy regtig die belangrikheid van haar werk besef het. “Daar het weer poste oopgegaan en dié keer vir die pad. As ek die werk sou kry, moes ek na die tonele uitgaan.”

Sy het skouer aan die wiel gesit om haar in dié pos te kry, want dit was juis die rede hoekom sy aanvanklik by die nooddienste aangesluit het. “Was dit maklik? Nee, nie in die minste nie, maar dit was alles wat ek gehoop het dit sou wees en meer.”

Deel van Kathleen se werk is om pasiënte op die toneel te behandel. Hier staan sy by ’n ambulans.

Lief & leed van werk

Kathleen vertel dis ’n onbeskryflike gevoel wat jy ervaar wanneer jy uiteindelik ’n pasiënt kan stabiliseer. “Dis die beste wanneer jy die goeie nuus aan die familie kan oordra dat jy dit reggekry het om hul geliefde te red. Die dankbaarheid wat hulle en veral ook die pasiënt betoon, laat ’n mens opnuut die klein dinge in die lewe waardeer.”

Sy dink eers diep na voor sy die vraag antwoord of daar al ’n geval was wat haar in trane gelaat het. Sy vryf met haar hand oor haar oë, haal diep asem en antwoord met ’n diep sug. “Ja, eintlik was daar twee gevalle wat my gebreek het.”

In die eerste voorval is hulle uitgeroep na ’n huis waar ’n baba nie kon asem kry nie. “Met ons aankoms was die baba al blou, maar daar was steeds ’n pols. Ons het probeer om die kind by te bring, maar niks het gewerk nie. Ons het die kind verloor.” Sy vee vinnig die trane met die agterkant van haar hand af voor sy weer diep asemhaal en vertel oor die tweede voorval. Dit was ook ’n kind.

“Die voorval het gedurende skoolure gebeur. ’n Kind het van die trappe afgeval en het ernstig gebloei. Ons is na die skool uitgeroep en hy het nog met ons aankoms daar gelewe. Ons kon hom ook nie red nie en hy het hom doodgebloei.” Kathleen sê dié gevalle het haar gebreek omdat sy ook op daardie tydstip klein kinders by die huis gehad het. “Dit kon netsowel my eie kinders gewees het. Dit breek my wanneer ’n klein kind sterf. Die dood is erg, maar dit voel soveel erger as dit ’n kind is.”

Vir ’n rukkie heers daar ’n stilte voor Kathleen haar emosies onder beheer kry. Sy vertel dan voorts om dié werk te doen, moet jy deur jou passie gedryf word. “Daar is so baie dinge wat jou van spoor af kan gooi en dit moet regtig jou passie wees om mense se lewens te red, anders sal jy dit nooit kan maak nie.” Op dié noot vertel sy dat jy ook jou hart sterk moet maak vir die werk anders gaan jy jouself in ’n baie moeilike situasie bevind. “Die aanvalle op paramedici en veral noodvoertuie is aan die toeneem.

Toe ek destyds begin het, was dit nie so erg nie, maar dinge het net ál hoe erger geword. Ek was al in situasies waar iemand ’n vuurwapen op ons uitgepluk het, probeer het om ons te hijack en wie weet nog alles, maar ek was elke keer gelukkig om weg te kom.” Van Kathleen se kollegas het dieselfde paadjie gestap, maar ongelukkig sukkel baie van hulle steeds met die sielkundige letsels wat die voorvalle gelaat het. “Daar is baie van my kollegas wat al vir ses maande by die huis is nadat hulle onder misdaad deurgeloop het.

Dit is baie moeilik. ’n Mens voel deesdae meer veiliger in die rooi sones omdat jy dan deur die polisie vergesel word na ’n toneel.” Sy sê dié tyd van die jaar is nie veel anders as middel en einde van die maande nie. “Die soort trauma wat oor Krismistyd gebeur, is dieselfde as in die middel en einde van die maand en meeste daarvan is alkohol- en dwelmverwant.

So dit gaan basies twee keer ’n maand regdeur die jaar soos dit dié tyd van die jaar gaan. Daar is ook baie gesinsgeweld. Dit lyk en gaan maar rof in die trauma-eenheid om eerlik te wees – daar is nie ’n besering wat ons nog nie gesien het nie.” Hulle word egter wel dié tyd van die jaar meer uitgeroep na ongelukstonele. “Die paaie is vol en mense is geneig om onder die invloed te bestuur. Dit is hartseer dat daar elke jaar dieselfde goed gebeur en dat mense net eenvoudig nie leer nie.”

Die moeite werd

Maar al is haar werk nie altyd maanskyn en rose nie, sê Kathleen sy verruil dit vir niks in die wêreld nie. “Niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Ja, jy stel jou lewe in gevaar om iemand anders s’n te red, maar dit is jou lewensdoel. Dit is soveel meer fulfilling om ’n werk te doen wat deur jou passie en die liefde vir mense aangedryf is.” En al gaan dit soms moeilik meen dié positiewe paramedikus dat ’n mens nie moet toelaat dat vrees jou lewe oorheers of regeer nie. “Leef voluit, werk voluit – doen alles wat jy kan voluit, want jy weet nooit wanneer dit jou laaste is nie!”

Ja, jy stel jou lewe in gevaar om iemand anders s’n te red, maar dit is jou lewensdoel.
Kathleen Louis

* Foto’s: Dale Fourie en Verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Loopbaan  |  Paramedici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.