Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Paxton Fielies: Musiek in haar hart
10 Januarie 2018

Ses maande gelede was sy ’n doodgewone graad 11-leerder by Belhar High School op die Kaapse Vlakte.

Vandag is sy ’n miljoenêr en het oornag beroemd geword. Paxton Fielies bly egter die nederige meisie wat sy was voordat sy verlede jaar op 17 die jongste wenner in die geskiedenis van Idols SA geword het.

Vir haar familie, vriende en mense in haar gemeenskap van Bishop Lavis, sal sy ook altyd daardie skaam, teruggetrokke meisie bly, maar met een uitsondering: As sy haar drome kan volg, kan hulle dit ook doen! Op Idols was Paxton die toonbeeld van selfvertroue. Kuier het juis hieroor berig nog voordat sy die kroon gewen het!

Haar vriende by die skool sê egter hulle was verbaas dat sy aan Idols deelgeneem het omdat sy so skaam is. Sy is baie stil in die klas, vertel Kyle Holmes (17) wat musiek as vak saam met Paxton gekry het en saam met haar in ’n a capella-groep gesing het. “Sy het nog nooit voor die skool opgetree nie, so ons was verbaas dat sy gegaan het vir die oudisie, maar het geweet sy kan dit doen.”

Paxton se vriende sê hul matriekjaar vanjaar gaan nie dieselfde wees sonder haar nie. “Ons het reeds gepraat oor wat ons wil doen. Ons het gesê ons wil op ons eie kamp gaan as vriende in plaas daarvan om met al die matrikulante te kamp.” Paxton gaan ook uitmis op haar matriekafskeid, maar sê dis nooit iets wat sy wou bywoon nie. Sy het telefonies ’n paar dae ná haar oorwinning met Kuier gesels. “Snaaks genoeg het ek altyd vir my ouers gesê ek wil nie ’n matriekafskeid hê nie. Ek is nie oor die hype nie en dis regtig nie my vibe nie. Ek hou nie van die idee om soveel geld op een aand te spandeer nie.”

Skaam en kunstig

Gevra watter persoon Paxton in die vriendegroep is, spot Mishka Ganie (17) dat sy die “blondine” is. Dis presies dieselfde antwoord wat Paxton op daardie vraag gegee het. “Ek sal sê ek is die blondine in die groep en ek is socially awkward.”

Uit die meisies in die groep is Paxton die enigste een wat ’n kunsvak doen en dus beskryf sy haarself ook as die “artsy” een in die groep. Paxton was halfpad deur haar graad 11-jaar toe sy Johannesburg toe gegaan het vir Idols.

Sy beoog om vanjaar haar matrieksertifikaat deur korrespondensie te voltooi. Sy erken dit gaan uitdagend wees, omdat sy baie optredes het en begin ook vandeesmaand om haar album op te neem. “Dit gaan besig wees, maar dit móét gedoen word.”

Dit was en bly nog altyd ’n doelwit van haar om musiek te studeer wanneer sy klaar is met skool, vertel Paxton. Dit is dus geen verrassing dat musiek haar gunstelingvak is nie. Sy sê die vak waarvan sy die minste hou, is wiskunde, al pronk ’n trofee wat sy as beste leerder op laerskool in wiskunde gekry het in haar ma se sitkamer.

“Skool is ’n baie belangrike deel van enigiemand se lewe. Dit is jou fondasie vir wanneer jy verder wil studeer. Ek hou daarvan dat in my skool baie op kuns gefokus word. Dit help regtig as jy in dans, drama of musiek wil gaan. En ek is net so bly dat ek sulke ongelooflike vriende ontmoet het, wat daar sal wees vir my wanneer ek deur moeilike tye gaan, hartseer voel of iets het om te vier,” vertel Paxton met ’n laggie.

Wanneer jy Paxton se ma, Chrystal (44), ontmoet, besef jy hoekom haar jongste dogter so plat op die aarde is en so ’n goeie kop op haar skouers het. Dis nie elke ouer wat hul kinders sal ondersteun om ’n loopbaan in die kunste na te streef nie. Dis moeilik om dit in hierdie bedryf te maak, maar Chrystal het haar dogter van dag een ondersteun in alles wat sy doen.

Chrystal, ’n enkelma vir Paxton en ’n ouer suster, vertel hoe trots sy alreeds was toe Paxton een Vrydag huis toe kom en die golden ticket langs haar kopkussing neersit. “Ek het haar altyd aangemoedig om vir ’n oudisie vir SA’s Got Talent te gaan. Dan sê sy, ‘Nee, Mommy, dis nie ’n sangkompetisie nie, dis ’n talentkompetisie. Ek gaan wag vir Idols.’” Chrystal, wat soms gesukkel het om geld te kry om Johannesburg toe te vlieg om haar dogter te sien optree, kan nie genoeg uitgepraat raak oor hoe trots sy op Paxton is nie. “Sy het regtig almal trots gemaak.

Toe ek daardie Maandagaand (ná die finaal) huis toe kom, was Bishop Lavis nog in chaos. Baie mense het my kom gelukwens. Dit het my verbaas dat mense selfs uit die Paarl en Worcester gekom het net vir haar.” Duisende van Paxton se ondersteuners het op die plaaslike sportveld byeengekom om die finaal op die big screen te kyk. Net soos sy by die skool is, was Paxton ook altyd “baie skaam” by die huis, vertel Chrystal.

“Sy was altyd in haar eie wêreld en het altyd haar eie ding gedoen. Sy sou sing, haar huiswerk doen, slaap en in die koor gaan oefen. Wanneer sy op die verhoog is of in die kerk optree, is sy soos ’n ander Paxton. Sy is Paxton die performer en Paxton die sanger. En dís wat mense van haar hou. Sy is só plat op die aarde.”

Skool bly belangrik

Hoewel sy Paxton se loopbaan ondersteun, sê Chrystal haar dogter se skoolloopbaan is baie belangrik. Toe die skool en departement van onderwys instem dat Paxton aan die kompetisie mag deelneem en skool later klaarmaak, het Chrystal gesê, “ons sal kyk hoe ver jy kom en dit weer bespreek”.

Toe sy wen, het sy vir Paxton gesê, “ons vat dit van daar. Ons vat dit een slag op ’n tyd, maar jy gáán skool klaarmaak.” Chrystal besef egter matriek is deesdae nie genoeg om ’n ordentlike werk te kry nie en wil graag hê Paxton moet ten minste ’n graad agter haar naam kry.

Chrystal, wat by die Kaapstad Internasionale Lughawe werk waar sy onder meer check-in’s doen, sê mense het haar alreeds anders begin behandel omdat Paxton R1 miljoen as deel van haar pryse gewen het. Mense het opgemerk dat sy nou seker met ’n tjekboek in plaas van kontant rondloop en haar vriendinne was verbaas dat sy nie bedank het nie.

Sy het Paxton aangeraai om haar geld te belê en nes haar dogter het sy dit nie na haar kop laat gaan nie. “Sodra jy dit na jou kop laat gaan, gaan jy dink, ‘joh, ek is ryk’. Vir solank as wat my kinders lewe, het ek vir hulle gewerk. Daai geld was nie hier nie. So, ons dink nie eens daaroor om aan daai geld te raak nie, want jy gaan grootkop raak en ek wil nie myself verander nie,” vertel Chrystal trots. Vir Paxton is Idols net die begin. “Die kompetisie is ’n groot deel van my journey, maar dis nie my forever nie.

Daar is nog baie dinge wat ek wil doen en dít was net ’n stepping stone tot waar ek wil gaan in my loopbaan.” ’n Belangrike doelwit vir haar is om haar eie album te skryf en vervaardig en om dit internasionaal te maak. Paxton het reeds talle jongmense geïnspireer en gewys dat hulle dit ook kan maak, maak nie saak waarvandaan hulle kom nie. “Ek sê altyd moet nooit vergeet waarvandaan jy kom nie. Jy kan jou gemeenskap inspireer om beter te doen, maar hou jou voete plat op die aarde.”

Foto’s: Dale Fourie en Mzansi Magic

Meer oor:  Kuier  |  Paxton Fielies  |  Idols
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.