Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Polisse: Lees en verstaan mooi wat gedek word
10 Junie 2021


Wanneer die onvoorsiene gebeur, moet daar ’n manier wees om jou, jou eiendom en jou geliefdes te beskerm. Daarom is dit belangrik om, voordat jy teken by die bepalings en voorwaardes, eers honderd persent seker te maak jy verstaan álles wat in die poliskontrak vervat is. Baie mense neem aan wanneer hulle geteken en die versekering gekoop het, die versekeraar daarna alle eise uitbetaal. Nie waar nie.

Die nuutste verslag van die versekeringsombudsman het weer die kollig laat val op die verantwoordelikheid wat jy as polishouer het wanneer jy enige vorm van versekering uitneem. Volgens die verslag van die versekeringsombudsman vir 2020, was 52% van alle Covid-19-verwante klagtes wat hulle ontvang het oor afgekeurde eise.

Die verslag sluit onder meer eise op begrafnispolisse, lewensdekking, motorversekering, huisversekering en ongeluksdekking in. In baie gevalle van afgekeurde eise was die polishouer nie bewus van bepalings en voorwaardes, omstandighede en situasies wat uitgesluit word, en sy eie verantwoordelikhede wat die polis betref nie. So waarvoor moet jy uitkyk?

Vanessa Smith (46), ’n aptekersassistent van Johannesburg, sê sy was eers woedend vir haar versekeraar toe dié nie ’n eis vir waterskade ná ’n groot Hoëveldse storm wou uitbetaal nie. Nou besef sy dat sy haar verantwoordelikheid om haar huis in stand te hou, nie nagekom het nie. Dít het beteken sy moes haar slaapkamerplafon en volvloermat op haar eie onkoste vervang, asook hangkaste wat skeefgetrek het en R2 000 se leerstewels wat water gekry en nie weer reggedokter kon word nie. Sy was die middag by die werk toe die storm losbars en die dak bo die hoofslaapkamer só erg begin lek het dat die plafon ingegee het en dit in die kamer ingereën het.

“Ek het dieselfde middag ’n eis by my versekeraar ingestel. Hulle het ’n dag of wat later ’n assessor uitgestuur om die situasie te bekyk. Die versekering het kort hierna laat weet die eis is gereject. Hulle betaal nie ’n sent nie, want ek het nie die huis se dak onderhou nie. Daar was egter bewyse dat die dakteëls op verskeie ander plekke ook begin skuif het. Ek het nie ’n voet gehad om op te staan nie. Ek het vandat ek die huis tien jaar terug gekoop het nog nooit na die dak laat kyk nie,” erken sy. Vanessa sê wel sy sou graag wou hê dat haar versekeraar die dinge met haar uitgeklaar het toe sy die huisversekering uitgeneem het.

Weet wat aangaan

Anders as Vanessa, het Marcia Rudd (52), ’n verkoopskonsultant van George in die Suid-Kaap, haar verpligtinge nagekom en seker gemaak alle inligting op haar begrafnispolis is korrek. Tog het die versekeraar haar eis afgekeur toe haar jongste dogter ’n paar jaar terug oorlede is. Volgens haar het die versekeraar voorgehou die kind se geboorte is nooit vermeld nie en dat sy daarom nie gedek is nie.

Marcia het egter weer na haar polis gaan kyk en kon nêrens ’n voorwaarde kry wat stipuleer dat dit ’n voorvereiste vir dekking is nie. “Ek het gelukkig nie nodig gehad om na die ombudsman toe te gaan nie. Ek het saam met iemand by die versekeraar deur al die terme en voorwaardes gelees en hulle het saamgestem dat hulle foutief was. Die eis is uitbetaal,” sê Marcia.

Debbie Barnard, versekeringsmakelaar van Lichtenburg in die Noordwes-provinsie, sê ’n fout wat baie polishouers maak, is om nie hul kontrak deeglik deur te gaan nie. “Bel en vra die makelaar as jy onseker is oor enigiets, taalgebruik, bepalings, voorwaardes, uitsluitsels. Bly vra tot jy heeltemal verstaan,” sê sy.

Bel en vra die makelaar as jy onseker is oor enigiets, taalgebruik, bepalings, voorwaardes, uitsluitsels. Bly vra tot jy heeltemal verstaan.

Vermy dié slaggate

Denise Daniels, assistent-ombudsman vir langtermynversekering, sê daar is nóg algemene slaggate wat jy moet vermy.

• Die polis voldoen nie aan jou spesifieke behoeftes nie.

• Jy teken ’n blank vorm of ’n vorm wat nie heeltemal ingevul is nie.

• Jy verstaan nie jou verpligtinge nie, soos wanneer die premies betaal moet word, hoeveel jy moet betaal – nie net met aanvangs nie, maar ook in die toekoms – en hóé jy dit kan betaal.

• Jy weet nie jy moet enige verandering in jou omstandighede aan die versekeraar kommunikeer nie. As jy lewensversekering uitneem in jou twintigs en later in jou lewe ’n outo-immuunsiekte ontwikkel, is dit iets wat jy aan jou versekeraar moet sê.

• Jy scan net die gesondheidsvrae (lewensversekering) en beantwoord dit nie 100% eerlik nie.

• Jy is haastig om die polis te koop of word gedruk om dit te koop, veral as dit telefonies gedoen word, sonder om alles regtig te verstaan.

• Jy slaan premies oor sonder om met jou versekeraar te reël. Dit kan veroorsaak dat jou polis gekanselleer word.

• Jy maak nie seker jou dekking is voldoende nie. Hou in gedagte jou polis moet groei en jou premies moet jaarliks verhoog word, anders gaan die polis se waarde daal. Baie mense maak dié fout met lewensdekking en begrafnispolisse. Hulle besef nie hoe duur begrafnisse is nie. Jy kan vandag byna nie eens ’n kis met R5 000 betaal nie, wat nog van begrafnis hou.

Weet dít van jou versekering:

Begrafnispolis

Daar is ’n groot verskeidenheid begrafnispolisse beskikbaar. Sommige is groeppolisse, ander is individuele polisse wat slegs een lewe dek of uitgebreide familielede dek. Sommige polisse vereis dat die lede wat dekking ontvang, gespesifiseer moet word, in ander word dit gekategoriseer en is daar ’n limiet van wie dekking ontvang.

Daarom is dit uiters belangrik dat jy die definisies verstaan en jou verwantskap met die familielede korrek beskryf wanneer jy die polis uitneem. Onthou ook: begrafnispolisse het gewoonlik ’n ses-maande-wagperiode voordat jy kan eis. Dit beteken as jy of ’n ander lid wat deur die polis gedek word voor hierdie tyd sou sterf, die eis nie aanvaar sal word nie.

Lewensdekking

Hierdie tipe polisse is gewoonlik onder-skryf. Dit beteken die versekeraar assesseer die risiko wanneer die polis uitgeneem word. Dit is daarom baie belangrik dat jy die vrae wat gevra word (soos oor jou gesondheid of werksomstandighede) ten volle en eerlik beantwoord.

Selfs onskuldige terughouding van feite kan lei dat ’n eis afgekeur word, selfs wanneer ’n dood nie direk verband hou met die gesondheidstoestand wat nie geopenbaar is nie. Sommige polisse het dikwels generiese uitsluitings aan alle polishouers, soos ’n twee jaar selfdood-uitsluiting. Ander sluit voorafbestaande siektes uit.

Motorversekering

Aadielah Soliman van die ombudsman vir korttermynversekering, sê jy moet seker wees oor watter motorversekering jy uitneem en watter jy nodig het.

Omvattende versekering (word uitgeneem as jou kar nog gefinansier word); brand en diefstal (cover nie jou kar as jy in ’n ongeluk is nie, maar wel as jy jou kar verloor in ’n brand, hijacking of diefstal); en derdeparty (is die goedkoopste, maar dek slegs die ander mens se motor).

Die meeste motorversekeraars sal slegs jou eis uitbetaal as die persoon wat bestuur het, gespesifiseer is as die “regular driver” op jou polis.

Gebouversekering (huis)

’n Algemene fout wat mense maak, is om te dink die assessor wat uitkom as jy jou huis koop, dieselfde is as die assessor van die versekeraar. Dit is nie. Die verbandwaardeerder is die ou wat na jou eiendom kom kyk om die sekuriteit te verseker. Die versekeraar het geen verpligting om jou huis te inspekteer voor jy ’n polis koop nie.

Dit is jou plig om seker te maak die huis is in ’n goeie toestand. Maak ook dubbel seker wat jou polis sê oor jou pligte as huis- eienaar is as dit by onderhoud kom. Daar is ’n algemene misverstand dat alle verliese deur die versekeraar betaal sal word omdat premies betaal word.

Huisinhoud

Die grootste fout volgens Aadielah is dat mense nie die voorwaardes van die polis nakom nie. Wanneer jou polis byvoorbeeld vereis dat jy ’n sekuriteitstelsel moet installeer wat aan sekere voorwaardes voldoen, sal hulle nie ’n eis uitbetaal as jy nié hierdie stelsel geïnstalleer het nie. Weet ook dat sekere items gespesifiseer moet word, soos selfone, rekenaars en kameras.

So, maak doodseker jy weet wat jy teken wanneer jy daai polis uitneem voordat jy vir jare aan iets betaal wat jou nie in tye van nood gaan help nie.

* Foto: Gallo Images/Getty Images

* Illustrasies: Ryan Carolisen

Meer oor:  Kuier  |  Polisse  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.