Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Quinne Brown dolgelukkig in die Laan
29 Oktober 2020

Quinne Brown (41) is al ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse TV. Twintig jaar gelede het sy in ons harte ingekruip as die effens verstrooide Connie van der Lecq in die gewilde sepie 7de Laan. En net soos haar karakter deesdae vir ons wys, het Quinne ook vele fasette aan haar persoonlikheid en dit wat jy op die oog af sien, is nie al wat jy kry nie! Quinne se karakter het die Laan in 2003 verlaat en kykers was hartseer omdat sy so geliefd was.

So toe sy weer in 2016 haar verskyning in die Laan maak, was aanhangers van dié sepie aangenaam verras. Maar tog wonder almal wat het van haar geword in “those missing years”? Ná drie jaar in die Laan het sy besluit om in 2003, nadat haar pa oorlede is, haar tasse te pak en op ’n Amerikaanse avontuur te gaan. Sy dood het haar tot in haar siel geruk en sy wou na sy gunstelingstad, San Francisco, reis, om nader aan hom te voel.

Dit is hier waar sy die liefde van haar lewe ontmoet en besef het haar lewe gaan in ’n rigting in wat sy glad nie beplan het nie. Nadat Quinne en haar man, Ryan (46), die bierbrouer agter Naked Face Brewing, in 2006 getroud is, het hulle vir 10 jaar in Amerika gebly. In 2010 het sy en Ryan uitgevind hulle verwag ’n pienkvoet. “Die soete vreugde wat my hart en gedagtes gevul het, was beide kalmerend en oorweldigend op dieselfde tyd. Dit was duidelik dat ons lewe weer ’n ander rigting gaan inslaan.”

Lewe met oorgawe

Sy vertel hoe die geboorte van hul eerste dogter, Charlotte Quinta (nou 9), die “birth junkie” in haar aangewakker het. “Met behulp van ons doula het ek so bemagtig gevoel as vrou, geïnspireerd as ’n ‘wild woman’ en asof my moederlike instink natuurlik geaktiveer is.” ’n Doula is iemand wat ondersteuning en aanmoediging bied tydens geboorte en Ryan het vir Quinne aangemoedig om self ’n doula te word.

“Om ’n doula te word, was een van die natuurlikste dinge in my lewe, om my passie vir mense uit te leef deur vroue te dien. Dit omsluit alles wat vir my belangrik is en wat my stem waarde gee. Moederskap is ons grootste transition en dis ’n metafoor vir alles in die lewe. Die proses van ma-word is nie ’n eenvoudige ding nie. Ons wêreld dink baie keer hier druk jy nou ’n kind uit en nou is jy ’n ma en moet maar net aangaan . . .

Party dae is makliker as ander. My motto is so ’n bietjie ‘follow what feels good’.

“Ons word as vroue vreeslik in rolle in geïdentifiseer en elke mens, in al ons rolle, is ons eintlik maar net besig om uit te figure wie is dit wat ons wil wees. Dit is baie soos jy ma word vir die eerste keer.” In 2013 is die paartjie geseën met nog ’n dogtertjie, Lara (nou 6).

“My lewe het eksponensieel besiger en voller geword en ek lag en huil nou meer as ooit!” vertel sy. “Hulle is so ’n bietjie soos ek en so ’n bietjie soos hul pa en so ’n bietjie baie van hulself,” lag sy. “Dis ’n goeie balans, dink ek.” ’n Jaar later het hulle Suid-Afrika toe getrek sodat Quinne vir haar kinders die kinderlewe kon skep wat sy gehad het. “Ek wou weer deel wees van hierdie gemeen-skap en die Suid-Afrikaanse landskap.”

Ná 10 jaar het Quinne weer Connie se skoene aangetrek en haar aangesluit by die mense van die Laan. Quinne vertel sy en Connie, met wie sy nou al aan en af vir die afgelope 20 jaar ’n pad stap, is glad nie dieselfde nie. “Haar storie is baie kompleks en ons weet eintlik so min van haar. Ons weet hoe sy reageer in die oomblik, maar sy is iemand wat eintlik baie alleen is en groot besluite op haar eie geneem het, en crave vir liefde.

Hoe sy daarmee identifiseer, is baie anders as ek. Sy is vreeslik emosioneel. Maar die een ding wat ons tog gemeen het, is dat ons onvoorwaardelik liefhet. Ek het nie baie judgement nie. Sy het, maar nie wanneer dit kom by André nie. Almal anders veroordeel die arme ou, maar sy staan agter haar man.”

Haar rots

As mens, aktrise, doula, ma, vrou en vriendin het Quinne baie balle in die lug, maar is uitstekend daarmee om balans te vind in haar lewe. “Party dae is makliker as ander. My motto is so ’n bietjie ‘follow what feels good’ en dit is om elke dag my prioriteite te herevalueer. So, my balans kom deur te volg wat lekker voel sodat ek altyd van ’n goeie plek af kom, van inspirasie en nie ’n gedrukte gevoel van verpligting nie.”

Quinne, haar man, Ryan, en hul dogters, Charlotte en Lara.

Tog vertel sy wanneer sy deur haar dagboek blaai, is dit interessant om weer te lees wat sy geskryf het, planne wat sy beraam het, wat sy toe wou doen – begin nou manifesteer. “Ons dink altyd ’n ding moet nóú gebeur, maar as jy iets eers in jou gedagtes sien as ’n waarheid, dan uiteindelik gebeur dit wanneer jy gereed is en jy dit toelaat. En dit begin ek nou raaksien, so dis nogal ’n lekkerkrytyd!”

Vir haar dogters het Quinne een droom. “Ek wil hulle leer om met vertroue in hulself te loop. Ek wil nie hê hulle moet hulself verander vir die wêreld nie. Ek het grootgeword met baie wonderlike ouers, maar in ’n wêreld wat gesê het ‘hier is die boksies waarin jy moet pas.’ Ek wil hê my kinders moet wees net wie hulle is en met die wete dat enigiets moontlik is, as jy dit genoeg aandag gee.”

Iemand by wie Quinne al baie lewenslesse geleer het, is haar man, Ryan. “Ooo, ek is baie lief vir my man! Hy is ’n engel.” Quinne en Ryan het by ’n familietroue ontmoet toe sy 17 was. Toe sy ná haar pa se dood besluit om in Amerika te reis, het sy ma daarvan te hore gekom en haar by die lughawe gaan haal om saam met haar gesin Kersfees te vier. Ryan was daar. Daarna het Quinne vir so ’n week alleen getoer, waarna hy by haar aangesluit het. “Ek het onmiddellik geweet dis ’n game changer.”

Toe sy moes terugkeer na Suid-Afrika het sy vir hom gesê as die ding ernstig is, moet hy haar elke dag bel. In daardie tyd was daar nog nie WhatsApp of selfs Skype nie en hulle moes foonkaarte koop om internasionaal te kan bel, maar Ryan het klokslag daagliks gebel vir twee jaar lank, ondanks die nege uur tydsverskil. “En die res, soos hulle sê, is geskiedenis . . .”

By Ryan het Quinne geleer om regtig haarself erkenning te gee. “Hy het nie goedkeuring van ander nodig nie. En om iemand te sien wat met soveel selfvertroue deur die lewe loop, met grasie vir homself en op te staan ná foute – en deur onvoorwaardelike liefde en aanvaarding – het hy die optimis in my ge-highlight.”

As sy nou vir 20-jarige Quinne iets kon sê, sou dit wees: “Meisie, kyk, jy het nie ’n idee hoe baie lekker daar op jou wag nie! Hou net aan. Moenie goed te ver vooruit speel nie. Geniet waar jy is en wat jy doen ten volle. Moenie so bang wees om ’n fout te maak nie, want jy gaan dit maak en jy gaan baie daaruit leer.” En as meer volwasse Quinne wat vrede in haarself gevind het, is haar passie vir die lewe aansteeklik!

* Foto’s: Donovan Roets Photography en Liezl Kruger

* Grimering: @chiniquecosmeticsmakeupartist

Meer oor:  Kuier  |  Quinne Brown  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.