Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Reg of weg?: Oop verhoudings en poligamie
29 Oktober 2020


Kykers regoor die land het die afgelope ruk oopmond sit en toekyk hoe Suidooster se geliefde AB Mymoena se hart in stukke breek omdat hy halsoorkop verlief geraak het op die nuweling Farah.

Die twee duifies het onlangs aan mekaar ewige trou beloof toe AB (Cedwyn Joel) en Farah (Lee-Ann van Rooi) ingevolge die Moslem-geloof, en met Mymoena (Jill Levenberg) se goedkeuring, vir Farah sy tweede vrou gemaak het.

Mymoena het ingestem omdat sy AB nie wou verloor nie. En al het bogenoemde in ’n sepie afgespeel, laat dit baie mense kopkrap oor die konsep van poligamie (waar ’n man meer as een vrou het, soos in die geval met AB, Mymoena en Farah en oudpresident Jacob Zuma met sy vier vroue) en die implikasies daarvan.

Suid-Afrika erken poligamie, wat beteken ’n man kan meer as een vrou hê, maar nie andersom nie. ’n Vrou mag net met een man of een ander vrou trou. ’n Man mag ook nie met meer as een man trou nie. Daar is tans meer as 342 800 geregistreerde “customary” of tradisionele huwelike op die nasionale register, met meer as 8 000 waar meer as twee partye betrokke is en amper ’n 1 000 met drie of meer partye.

’n Man moet altyd by die hooggeregshof aansoek doen om toestemming te kry vir so ’n huwelik en ’n kontrak oor hoe die eiendom in die huwelik gereguleer gaan word om al die betrokke partye te beskerm. Poligamie is wettig in 58 lande wêreldwyd, maar meer algemeen in Afrika-lande en Midde-Oosterse lande en Moslem-geloof.

In Europa, Amerika, China, Australië en baie ander lande is dit onwettig, hoewel dit onlangs in sekere state in Amerika gedekriminaliseer is. Paartjies wend hulle soms tot alternatiewe reëlings om hul huwelik op te kikker wanneer die vonk verflou. Met vier uit elke tien Suid-Afrikaanse huwelike wat op die rotse beland voor paartjies se tiende huweliksherdenking, volgens Statistieke Suid-Afrika, is daar deesdae baie meer paartjies wat eksperimenteer met ander soort verhoudings.

Verskillende tipes

Dr. Elmari Mulder Craig van Pretoria, ’n bekende seksuoloog, verduidelik daar is vandag verskillende tipes verhoudings, soos onder meer oop verhoudings, poli-amoreuse verhoudings en poligamie. Oop verhoudings is waar ’n paartjie met ander partye intieme konneksies mag hê. Poli-amoreuse verhoudings is waar drie of meer partye ’n vrywillige verhouding het.

Poligamie is waar ’n man met twee of meer vroue getroud is. Volgens haar mag elke paartjie en selfs mens se definisie van ’n oop verhouding verskil. “Die kern is, ons het met mekaar se wete en toestemming verhoudings met ander (een of meer) mense van dieselfde of teenoorgestelde geslag. “Daar is definitiewe reëls wat deur die paartjie vasgestel word – byvoorbeeld jy mag alleen na ’n klub toe gaan en iemand soen (maar nie vat onder die belt nie); of ons het ’n threesome, maar net ek en jy mag penetrasie met mekaar hê; of dit is net seks en niks emosioneel nie.”

Anita Heyns* (35) van Johannesburg vertel sy en haar man was ’n paar jaar gelede in ’n oop huwelik. “Ons is al 14 jaar saam en het twee kinders. Vir my man was die idee dat ek met ander persone, behalwe hom, seks het, ’n turn on.” Aan die begin het hulle baie reëls neergelê. “Ek mag byvoorbeeld nie met enige man in ons vriendekring geslaap het nie. My man was in die begin baie jaloers. Hy wou elke detail van die begin tot die einde weet. Ek moet bieg die paar kere wat hy ’n ander vrou gekry het, was ek ook ’n bietjie jaloers.”

Anita reken as die buitewêreld weet hoeveel oop huwelike daar is, sal mense verbaas wees. “Mense doen eerder dinge agteraf as om eerlik te wees. Maar as jy in hierdie opsig eerlik is, word jy veroordeel.” As Anita nou terugkyk, sien sy dit het baie druk op haar en haar man se verhouding geplaas en onder meer baie trust issues en jaloesie na vore gebring. Sy en haar man het besef hul huwelik is vir hulle belangrik en hul kinders is hul eerste prioriteit. “Ons het nie meer ’n oop huwelik nie.”

Anita voel paartjies moet introspeksie doen oor hoekom hulle ’n oop huwelik wil hê. As seks die probleem is, raai sy paartjies aan om te kyk hoe hulle die vonk kan terugkry. Elmari sê oop huwelike is baie algemeen en sy kom dit al meer en meer in haar praktyk teë. “Eerstens gaan dit oor kitsbevrediging, asook die opwinding daarvan eerder as intimiteit. Baiekeer is mense ook bloot nuuskierig. ’n Verdere rede is verskille in die seksdrang van paartjies. Die klem is dus op seks eerder as die verhouding met die buitestaander.

Dikwels word vroue ook emosioneel gemanipuleer deur hul mans om toe te stem tot oop huwelike en hulle sien dit as ’n manier om hul huwelik te red.” Sy voeg by navorsing bewys dat dit wel kan werk, maar daar is talle nadele aan so ’n huwelik. “Dit gebeur dikwels dat een van die huweliksmaats bedreig kan begin voel en dan sluip jaloesie in. Op die lange duur werk dit slegs in ’n klein persentasie van gevalle en die magsbalans in huwelike word ook versteur.”

Farah en AB op hul troudag.

Werk vir baie mense

Wanneer dit by poli-amoreuse verhoudings kom, verduidelik Delene van Dyk, ’n sielkunde seksuele opvoeder van Centurion in Gauteng, is dit etiese meervoudige liefdesverhoudings. Dus meer as net seksuele verhoudings, waar elke persoon in die verhouding bewus is van mekaar, met toestemming. Sy meen ook oop en poli-amoreuse verhoudings is baie meer algemeen as wat ’n mens besef.

“As gevolg van die samelewing se geneigdheid om te glo in die monogamie, ervaar nie-monogame individue en verhoudings steeds erge bevooroordeling, wat veroorsaak dat hul meervoudige liefdesverhoudings dikwels nie openbaar gemaak word nie. Statisties, sien ek meer poli-amoreuse verhoudings wat werk as monogame verhoudings, ironies genoeg.”

Haar raad vir iemand wat verkies om in ’n oop verhouding te wees, is om eerlik te wees met hul maat oor hul nie-monogame verhoudingsbehoeftes. Maar, waarsku Delene, wanneer ’n verhouding vol konflik en in die moeilikheid is en iemand probeer hul affair regverdig met hul “nuwe behoeftes”, is dit nie die regte tyd om ’n verhouding oop te maak nie.

Wanneer dit egter kom by poligamie, is dit ’n heeltemal ander situasie. “Baie keer in poligamie is daar ’n wanbalans in terme van mag in die verhouding omdat een party gewoonlik nie ’n keuse het nie. Dit is gewoonlik meer vroue wat met een man ’n verhouding het, maar nie met mekaar nie. Daar is gewoonlik ook ’n baie spesifieke hiërargie van die eerste vroue, tweede vrou en so aan. Elkeen moet haar plek redelik goed ken,” verduidelik Delene.

Aimee Ahmed* (32), ’n weduwee-enkelma van twee, het onlangs ’n tweede vrou geword. Sy is aan haar man voorgestel deur ’n vriend. “Ek was eers huiwerig. Ek was bang ek is te jaloers. Maar hoe meer ek daaroor gedink het, het ek die volwasse mooi daarin begin sien.”

Die paartjie het vooraf ooreengekom hoeveel dae hy saam met haar en hoeveel hy saam met sy ander gesin per week sou deurbring, die finansiële aspekte ensovoorts. “Ek sien hom op die oomblik drie keer per week, behalwe as iemand siek is. Ek sal mal daaroor wees as hy heeltyd by my was, maar ek geniet ook die vryheid om soms te kan doen wat ek wil.”

Dit was aanvanklik moeilik vir haar om aan te pas by die feit dat sy tweede viool moet speel, maar sy sien haar man se ander vrou amper as ’n ouer suster. Volgens Aimee was die tweede huwelik vir haar man sy godsdienstige plig. “Baie mense dink dit gaan net oor seks, maar vir hom was dit sy plig om na my om te sien.” Elmari waarsku jy moet waak daarteen om ander mense se verhoudingskeuses te oordeel. Dit bly per slot van rekening ’n baie persoonlike keuse . . .

* Skuilnaam

* Foto’s: Ernina Niemand en Donna Lewis

* Bykomende bronne: bit.ly/3dofrNJ; bit.ly/3iTo1oV; bit.ly/3dlXqQo

Meer oor:  Poligamie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.