Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
29 Oktober 2020

In vandag se lewe is dit tog so belangrik om seker te maak jy kyk na jou gesondheid en nie net na jou fisieke gesondheid nie. As ons dit nie doen nie en ook nie ’n gebalanseerde lewe lei nie, kan dit in ons uiterlike weerspieël.

Hoeveel keer het jy nie al gelees van iemand wat selfmoord gepleeg het en hoe hul naasbestaandes dan nie verstaan waarom hulle so iets kon doen nie? Omdat geestesversteurings nie dadelik opgemerk word nie, weet ’n mens nooit regtig wat iemand anders deurmaak nie. Dis nie soos ’n kankerpasiënt wie se kaalkop vir jou byvoorbeeld ’n aanduiding kan gee nie.

Mense loop nie rond met bordjies waarop byvoorbeeld “depressie”, “angstigheid” of “persoonlikheidsversteuring” staan nie. Soveel mense getuig hulle sukkel met hul geestesgesondheid en baie praat deesdae meer openlik daaroor. Dit het my ’n lang tyd gevat om te aanvaar ek sukkel met angstigheid. Deel daarvan is omdat ek nie ’n naam daarby wou sit nie, want dan is dit te finaal. Dan word ek dit . . .

Dit kon nie verder van die waarheid wees nie, want om uiteindelik ’n naam daarby te sit, was bevrydend. Dit gee jou die kans om stappe te neem om jou lewe weer reg te kry.

Dit klink dalk baie eenvoudig, maar daagliks maak ons keuses en dis so belangrik om ons geestesgesondheid in ag te neem in die keuses wat ons maak.

En daar was ’n paar moeilike lesse wat ek moes leer om weer myself te kon wees. Die grootste les was dat my innerlike vrede die belangrikste ding is wat ek moet beskerm. Ek moes my onttrek van vriende, plekke, situasies wat my ongemaklik gemaak het of wat my vrede compromise. Ek moes my-self uit ’n diep gat haal. Ek dink min mense besef hoe groot is die impak wat vriende of die geselskap waarin hulle verkeer op hulle het.

As jy jouself met negatiwiteit omring dan is dit swaar om verder as dit te kyk. Ek dink ook die dinge wat jy aan energie gee, kan jou maak of breek. Dus deur jou energie te wy aan positiewe dinge sal outomaties positiewe resultate in jou lewe bring. Dit klink dalk baie eenvoudig, maar daagliks maak ons keuses en dis so belangrik om ons geestesgesondheid in ag te neem in die keuses wat ons maak.

Ek weet ’n vriend van my het opgehou om sosiale media te gebruik en toe ek haar vra hoekom, was haar antwoord: sy het haarself elke dag vergelyk met Instagram-modelle en dit het haar later siek gemaak. Sy het depressief gevoel omdat sy gevoel het sy moet soos hulle lyk en sy het gevoel sy behoort al verder in die lewe te wees. Vandag voel sy nie meer so depressief nie, want sy volg nou haar eie tydlyn van sukses en nie ander s’n nie. Dit was die kopskuif wat sy moes maak voor sy erger in daardie depressie sou val.

Soms, vir jou eie beswil, moet jy dinge doen sodat jy met ’n rustige hart slaap. Jy hoef aan niemand te verduidelik wat jy doen om vrede te hê nie. Geen situasie of mens is dit werd om jou innerlike vrede te versteur nie. Baiekeer wen ons onsself op oor dinge wat ons nie eens raak nie. Ons raak betrokke in konflik of argumente wat kon gebly het. Soms moet jy dit net in God se Hande los.

Soms moet jy net sekere goed ignoreer. Ek het al op ’n punt gekom waar ek mense moes unfriend of block, want só kon ek myself nie elke dag ontstel nie. Dis klein dinge wat elke dag triggers is. Ons behou mense in ons midde wat nie die beste bedoelings vir ons het nie. Ek onthou jare gelede het iemand vir my gesê net omdat iemand elke dag by jou is beteken nie hulle is aan jou kant nie.

En die moeilikste ding wat ek moes leer, was om te weet wie moet bly in my sirkel en wie moet gaan. Toe ek my begin omring met mense wat omgee vir my en ’n positiewe bydrae in my lewe maak, het my lewe begin beter word. Mense wat jou geestesgesondheid respekteer, is so belangrik. Ek sien vandag soveel groei in myself en is dankbaar vir die pad wat ek moes deurmaak tot hier.

Dit was nie altyd maklik nie maar vandag is ek op ’n goeie plek in my lewe. Ek het hulp gekry vir my angstigheid en met die nodige veranderinge wat ek genoem het, lewe ek nou voluit. As jy sukkel met jou geestesgesondheid, weet net daar is hulp daarbuite. Maak daardie besluit vandag en neem die nodige stappe vir ’n beter lewe.

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.