Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
26 November 2020
Derek Hendriks

Gewoonlik raak baie van ons opgewonde wanneer ’n jaar besig is om einde se kant toe te staan, want dit beteken die tyd om te ontspan, is amper hier.

Maar baie van ons raak ook bekommerd oor sekere goedjies wat nog nie in plek is nie en dit laat ons weer angstig en gespanne. Sommige van ons worstel weer met seer van die afgelope jaar en ook gefaalde nuwejaarsvoornemens. Dié tipe gevoelens werk met ’n mens se denkwyse en dit laat jou soms baie onverantwoordelike besluite neem.

Dus sê ek altyd dat jou manier van dink, tog jou leefwyse kan bepaal en dit dan aan die einde van die dag jou omstandighede raak. Dit is hoekom vanjaar vir sommige van ons nie ’n lekker jaar was nie. Die geheim vir ’n goeie feestyd lê by deeglike en opregte beplanning. Dan moet ons ook almal dankbaar wees dat God ten spyte van ons probleme en tekortkominge ons uitgespaar het om die feestyd in te gaan. En ja dié tyd gaan gepaard met vakansie hou.

Baie beplan alreeds lank voor die tyd, ander op die nippertjie en sommige van ons bly by die huis. Die mense wat weggaan, kan gewoonlik nie uitgepraat raak oor hoe dit help om van alles en almal te vergeet wat hulle so uitstres nie. Baie beplan byvoorbeeld ’n vakansie by die see. Wat dit so wonderlik maak, is die somer, son, sand en see, sekerlik! Maar daar is soveel meer, die samesyn, ontspanning, speel, pret en om familiebande te versterk. As die weer onsmaaklik raak, is dit ook nie nodig om in die huis te bly nie.

Gaan stap buite en voel hoe die wind jou stoot, gaan klim die vuurtoring, drink sjampanje op die suidpunt van Afrika, gaan kyk na die skeepswrak en hoe die branders woes waai! Dan is daar soveel wat jy ook binnenshuis kan doen. Goed waarvoor jy nooit tyd kry nie. Bou ’n legkaart of speel kaart. Geniet dit om met jou kinders te gesels en te speel.

Baie mense hou weer van die berge, bosse of die binneland. Dan kry jy weer mense wat die platteland vreeslik geniet soos ek en my gesin – veral die skilderagtige koppies, asemrowende platorande en Karoobossies. Ons het sommer ’n tent in die middel van ’n veld opgeslaan om te oornag. Ons het ’n kampvuur gemaak, gebraai en ’n Karoo-lamsbrediepotjie aanmekaargeslaan. Ai, hoe lekker was dit nie om as ’n gesin saam te kon kuier terwyl ek op my kitaar getokkel het en almal saam gesing het nie.

So, of jy nou by die see, op die platteland, by die huis, in die berge of oorsee is, geniet jouself en omring jou met positiewe dinge en goeie mense.

Gedurende ons vakansie daar, kon ons sommer die atmosfeer van die feesseisoen in die lug aanvoel. Dit is net ’n ander belewenis, want almal groet vir almal en veral as jy vreemd is, wil almal graag ’n geselsie met jou aanknoop om jou tuis te laat voel. Die reuk van vuurrook en vleisbraaiery hang in die lug, en vanaf vyfuur die aand hoor jy hoe doringhout begin kap word vir die Welcome Dover-stoof.

Iewers hoor jy die kinders in die strate speel. Motorbestuurders lê op hul toeters om jou te groet en te verwelkom. Iewers hoor jy opelugkerkdienste op die straathoeke van kerke en jy hoor kore wat Kersliedere oefen ter voorbereiding vir Kerskonserte. Is dit nie ’n mooi prentjie nie? Maar nie almal is so bevoorreg om te kan weggaan en om interessante plekke te besoek nie, veral nie ná die verwoestende impak van Covid-19 nie.

So, of jy nou by die see, op die platteland, by die huis, in die berge of oorsee is, geniet jouself en omring jou met positiewe dinge en goeie mense. En onthou, ’n mens het nie geld nodig om herinneringe te maak nie. Dis die gevoel wat tel, nie hoeveel dit gekos het nie. Vat foto’s van die son wat sak en gaan stap vroeg soggens en klim berg, of gaan swem, gaan dans jou hart uit en bewys jou liefde aan jou geliefde en jou kinders of doen dinge wat jy nog nooit gedoen het nie. Leef die lewe, want die lewe wil geleef wees.

En ja, glo my, dit doen tog die hart goed om nuwe dinge te ervaar en om nuwe herinneringe te skep. Maak video’s en vat baie foto’s van alles, want eendag as jy aan die oud raak en agteroor op jou bank sit, kan jy darem vir jou kinders, kleinkinders en agterkleinkinders die kiekies en die video’s wys van wat jy al alles beleef het. Hiermee hoop ek dat almal ’n lekker vakansie sal hê.

WEN R1 000 MET JOU HART-STORIE

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.