Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
10 Desember 2020
Natasha Africa
Natasha Africa

Ons is almal moeg van die negatiwiteit in ons land. Vir net ’n rukkie wil ek nie van Eskom, Covid-19 of die geweld hoor nie. Ag, ek wil net ’n bietjie nostalgies raak oor kindwees.

Dit bring ’n mens altyd terug aarde toe, met ’n tikkie heimwee, maar ook hoop vir die toekoms. Ek het grootgeword op ’n plaas as ’n oupa-ouma-kind. Ek onthou my kinderjare nog soos gister. Hoe ons as kinders sorgeloos op ’n wintersoggend die sonnetjie sou najaag.

Hoe ons teen die mure van die sheds sou staan en ons kinderlike geselsies hê. As daar mense van die dorp by die plaashek ingery het, was dit altyd ’n belewenis om ander gesigte te sien as die gewone “plaasenaars” te sien.

Dit was eintlik lagwekkend hoe ons altyd die dorpsmense nagespeur het. Plaaslewe was lekker, sorgeloos, kaalvoet tussen die wingerde en vrugteboorde. Die dorings het gesteek en dis nie al wat gesteek het nie. Daardie voorbarige bye wat ons sommer so goedsmoeds gesteek het, was vir my een te veel, maar na so ’n steek het ons ouers gesien ons was nie een allergies vir bye nie! Wintertye was Wolseley gehul in ’n ysige geniepsige koue wat soms oorweldigend was. As daar vuur buite gemaak was, moes ons almal inspring om houtjies en knoppies te gaan optel.

Klokslag vieruur die middag moes alles reg wees vir Pappa (my oupa) wat uitval. Die koffie en brood moes vir hom staan en wag. Reënerige dae was ons veilige warm plekkie agter Mamma se Dover-kolestoof.

Tjoepstil, want sy was besig om na haar stories te luister. Wolwedans in die skemer. Dít was haar “televisietyd”. In daardie eenvoudige swart boksie het ons geglo is mense.

Kersfees was duidelik familietyd. Familie wat op ander dorpe gewerk het, het huis toe gekom. Almal het bygedra om Krismis onvergeetlik te maak.

Want waar sou die stemme dan vandaan kom? So besluit ek en my niggie een dag ons gaan die mense in die draadloos soek. Nodeloos om te sê, ons agterente het lekker gebrand. Ons het nie in weelde grootgeword nie, maar dit wat aan ons gegee was, was ryk aan liefde. Ek onthou inkopies aan die einde van die maand.

My ouma-hulle het na Wellington gereis vir hul maandelikse inkopies. Die lekkerste was altyd as ons bederf was met winkelkoek en gebakte vis wat ons “bakvis” genoem het. Dit was hemels. Twee hoogtepunte in my grootwordjare op die plaas was Kersfees en as ons see toe gegaan het. Kersfees was duidelik fami-lietyd. Familielede wat op ander dorpe gewerk het, het huis toe gekom.

Almal het bygedra om Krismis onvergeetlik te maak. Wanneer my oupa die boks Krismis-trimmings uitgehaal het om die voorhuis te versier, was ons kinders uitbundig opgewonde! Dít was maar net die begin van ’n wonderlike tyd saam met ons familie waar ons lekker kon speel, lag en oor alles en nog wat praat. Die samesyn was magical. Dan het ons met ’n bus see toe gegaan.

Kyk, dit was nou regtig ’n belewenis. So vroeg soos drieuur die oggend het die huise begin lewe. Om almal in so ’n lekker luim te sien, was fantasties. Vir die hele dag is al wat ’n probleem of twis met iemand, vergete, want ons gaan see toe! Van die inpak van die gekookte eiers, frikkadelle tot die koue hoendervlerkies . . . ’n Feesmaal wat wag. Ek kry sommer stil lag terwyl ek hier sit en skryf oor wanneer die blikke oopgemaak word. Die reuk van gekookte eiers in ’n toe kosblik . . . Hehehe.

Die paar uur se ry het soos ’n ewigheid vir ons as kinders gevoel. Dan, uiteindelik is ons daar. Die opgewondenheid was tasbaar, elkeen van ons kon nie wag om uit die bus te spring en uitgelate op die strand te baljaar nie. Kalkbaai, en Valsbaai, kan ek onthou. Daar was nie eintlik swemplek nie, maar dit was die see . . .

Ek onthou my oupa met sy visstok in sy geel jogger, sokkies hoog opgetrek, besig om vis in te katrol met ouma, tannies en ooms op die ‘eierdown’ sorgeloos. Ons kinders wou nie rêrig eet nie, want dan moes jy ’n uur wag om te gaan swem! Nou ja toe, nostalgie, die sentimentele herinneringe aan die verlede. En nou in hierdie tyd van baie swaarkry, waar Kersfees selfs skrapser is vir sommige van ons, is dit belangrik om te onthou dis die samesyn en liefde wat die mooiste herinneringe op Kersdag maak, nie die groot geskenke en oorvloed van aardse goed nie.


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001.

As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.