Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
7 Januarie 2020

Daai dag, net ’n paar maande gelede, was ’n somber belewenis soos min. Ek is seker baie van julle sal julle dalk met my ervaring kan vereenselwig.

Ek het my droom geleef om jong mense te begelei om hul volwaardige plek in ons gemeenskappe vol te staan; om met liefde, opregte omgee en baie geduld die rigting te help aanwys vir hulle – ons leiers van vandag en môre. Maar met een slag was dié droom ’n harde dwarsklap toegedien.

Meteens word ek deel van die harde werklikheid waarmee soveel van ons tans deal – om myself te skaar by die koor van afgelegdes (retrenchees). Die pandemie woed, sterftes styg van naby en ver, en die toekoms is ’n duister onsekerheid. Voeg daarby ’n verlies aan inkomste en ’n inperking op my eie – ’n kombinasie sekerlik genoeg om enigeen te knak.

Soos vir baie van julle het dié tye my geleer om stil te word. Ná binne te kyk. Te reflekteer, te mediteer om uiteindelik sin te probeer maak van die pyn, onsekerheid en eindelose hartseer van die tye waarin ons leef. Om bietjie vir bietjie my trauma in ’n geleentheid te omskep. My inspirasie vir vorentoe kyk en beweeg was en is ons jong leiers in ’n spasie met wie ek eens kon saamlag, werk, huil en groei.

In wie ek die bruisende belofte en verwagting van ’n nuwe begin kon sien en ervaar. Jong mense in wie se oë ek myself kon sien ’n dekade of twee gelede. ’n Lewenslustige jong leier wat die toekoms met alles in my aangegryp het. En nou het ek nodig om vir ’n oomblik terug te kyk en te onthou. My student-wees en vormingsjare – om voor te vat, saam te werk, saam te speel en uiteindelik jou merk te laat.

Die voorreg om soveel opwindende avonture te kon beleef van student-wees. Ek kan onthou – die diepgeel en reuk van tulpe uit die mooiste deel van Amsterdam. Die asemrowende uitsig vanaf die Sears Tower (nou Willis) in Chicago. Eerstehandse belewenis van die stad wat nooit gaan slaap nie – New York, New York!

Ek sal altyd onthou – die nagte van kuier, lag en leer met net die beste wat Stockholm (Swede) kan bied. Namibië, die land van vele kontraste, vanaf Rehoboth tot waar woestyn en see ontmoet by Walvisbaai. Voeg die warm bekoring van Asië met Suid-Korea as eindbestemming by – wat ’n fees! Op my wenslys kan ek afmerk – ek was daar!

Jong leiers, laat niks en niemand jou hoop en drome vernietig nie.

Dit was moontlik, dit was onvergeetlik. Meer nog – dit was lewensverrykend. Terug na die hede en ek sien ons jong leiers met hoopvolle oë vol drome vir hulself. Drome wat so maklik verpletter kan raak deur die harde werklikheid van omstandighede. Alles dikwels buite hul beheer. Dan my uitdaging aan ons jong leiers, maar ook myself – ons is meer as ons omstandighede.

Ons kan en mag maar aanhou hoop en droom in ons storms of omstandighede. As ons deesdae die taal van ’n nuwe normaal moet praat, dan praat ek saam. As ek ’n nuwe werklikheid vir myself moet skep, dan doen ek dit. Dan gee ek my nuwe droom ’n naam en werk hard daaraan om eersdaags die vrugte daarvan te pluk. Midde-in my huidige storm werk ek aan my nuwe wenslys.

En sien ek met kinderlike opgewondenheid uit na konneksies in nuwe spasies wat gedeel word met jonk en oud. Om weer saam te droom en werk aan ’n nuwe normaal. Om te oorleef, móét ons aanpas. En wie weet waar dié nuwe reis my sal bring. Storms deur die jare het my geleer – wees kalm, haal diep asem, omarm jou werklikheid en staan sterk.

Dié storm sal ook uitwoed en nuwe geleenthede bring. Midde-in ons huidige storm het ons nodig om, al is dit vir die soveelste keer, ons daaraan te herinner, dat ons huidige seisoen van winter, sal plek maak vir vir lente. Wanneer die bloeisels en blomme sal getuig van belofte en verwagting dat beter dae voorlê.

Dan sing ek weer saam met Bette Midler se “The Rose”: “When the night has been too lonely and the road has been too long, and you think that love is only for the lucky and the strong, just remember in the winter, far beneath the bitter snows, lies the seeds that with the sun’s love in the spring be- comes the rose.” Jong leiers, laat niks en niemand jou hoop en drome vernietig nie.


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.