Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
1 April 2021

Hoe belangrik is tradisies of gebruike vir die jonger geslag? Ek het nou, tydens die nasionale staat van inperking, opnuut die waarde van familie en tradisies besef en dink dit is van die uiterste belang dat dit behoue bly – anders sal dit heeltemal verlore gaan en sal ons die nageslag ’n groot oneer aandoen!

Tradisies of gebruike oor geslagte heen, dra by tot ’n gemeenskap se ryk geskiedenis en erfenis en dit verleen ’n gees van samehorigheid in die familie. Dit gee ons ’n gevoel van samesyn en help om familiebande te verstewig – somtyds drie of vier geslagte binne een familie.

Belangriker nog, tradisies skep positiewe herinneringe vir kinders. Nog ’n Paasfees wink om die draai – vir sommige Christene is dit ’n naweek van Christelike oortuiging en vir ander net nog ’n langnaweek. Maar hoe dit ook al sy, dis uitdagende tye in die lig van die corona- virus-pandemie wat soos ’n swaard oor almal se koppe hang. Veral vir ons wat die waarde van familie en tradisies koester – gebruike, erfenis en kultuur.

Dit bring my by die vraag: dra ons werklik ons gebruike en tradisies oor aan die jonger geslag? Of versuim ons gruwelik in ons plig? Myns insiens, is dit van kardinale belang om gebruike en ryke tradisies na volgende geslagte oor te dra. In baie, of die meeste, Kaapse bruin huishoudings is ingelegde vis en hot cross buns die stapelvoedsel op Goeie Vrydag – geen vleis op daai dag nie!

Die huishoudings is weke voor Paasfees in rep en roer om genoeg vis bymekaar te kry, die vis word gebak en kan dae voor Goeie Vrydag ingelê word sodat die geur lekker kan intrek. Goeie Vrydag, ná die kerkdiens, sien almal hartlik uit na die feesmaal. Baie families kom bymekaar vir die fees. Indien jy enige van die ouer dames sal vra hoekom vis op Goeie Vrydag, sal sy waarskynlik die volgende antwoord: “Maar hoe nou? Hoekom so ’n vraag? Daar’s nie ’n definitiewe antwoord nie. Ons doen dit van ouds en dis oorgedra deur geslagte!”

Dit gee ons ook ’n gevoel van samesyn en help ons om geslagte van gesinne te vier.

So, ons doen dit ook sonder dat ons vrae vra, want dis ’n tradisie wat deur ons oumas en moeders na ons jonger geslag oorgedra is. Ek moet bieg dat my ingelegde vis verlede jaar ’n kitsoplossing uit Woolies was omdat ek nie die tradisionele familie-ete op Worcester kon bywoon nie as gevolg van die pandemie. Ek moes noodgedwonge my ma se tradisionele vis op Goeie Vrydag misloop.

My familie was teleurgesteld! Dit was dus ’n les vir my om dit met my ma se hulp in die toekoms reg te doen. Selfs al weet ek nie eens waarom ek die tradisie moet voortsit en van my dogter en dalk ook ’n toekomstige skoondogter, sal verwag om dit ook voort te sit nie. Op Worcester, my geboortedorp, is dit ’n jare lange tradisie van kerkbasaars op Paasmaandag.

Verlede jaar kon dit natuurlik nie plaasvind nie. Alhoewel dit nie net meer die plaaslike kerke en moskee is wat hieraan deelneem nie, stroom mense steeds daarheen om deel te wees van hierdie tradisie. Alle kerke, elk met ’n lang tafel, kompeteer met wat hulle te koop aanbied.

Harde musiek en aankondigings blêr kliphard oor die luidsprekers, en só word kopers aangemoedig om hul hande diep in die sakke te steek. Lank gelede, toe ons nog kinders was, het ons uitgesien om soos ’n nuwe sixpence uitgedos in nuwe klere van basaarhoek tot basaarhoek te stap om by elke kerk ietsie te koop. Ek het my kinders hieraan blootgestel toe hulle nog jonk was, maar gaan my eie kleinkinders ooit hierdie tradisies ervaar?

Soos vroeër genoem dra tradisies of gebruike oor geslagte heen, beslis by tot ’n gemeenskap se ryk geskiedenis en erfenis. Dit is hartseer as die jonger geslagte wegbreek en hierdie gebruike nie meer by hulle byval vind nie, want dit verleen ’n gees van samehorigheid in die familie. Dit gee ons ook ’n gevoel van samesyn en help ons om geslagte van gesinne te vier – soms drie of vier geslagte binne een familie.

Die tradisies skep ook positiewe herinneringe vir kinders wat hulle kan koester. Sal ons jonger generasie, die millennials, met my saamstem dat die oordra van gebruike belangrik is of is hulle te besig om te bou aan ’n eie identiteit om nog met tradisies en gebruike gebodder te wees? Is hierdie ryke geskiedenis ’n meulsteen om die jeug se nek?

Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.