Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
15 April 2021
Delmarie Paul

Verlies. Dis ’n woord wat baie mense nie kan verstaan nie. Miskien omdat hulle nie die volle impak van die betekenis van die woord nie verstaan nie. Verlies beteken om iets kosbaars te verloor.

Leegte, verlatenheid, gemis. Dit is maar net ’n paar beskrywings van die woord, maar dit het so ’n hewige effek op ons lewe; op ons daaglikse omgang met mekaar. Ek is nie ’n skrywer nie, maar ek moes iets doen om die gevoel van verlies in my hart te beskryf, want ek weet daar is so baie van julle wat dit ervaar.

Op 2 Julie 2020 verloor ons my jongste broer aan ’n breinsiekte. Kanker was in die lockdown by my ma ge-diagnoseer en volgens die dokters het dié nuus bygedra tot sy toestand. Hy kon dit nie hanteer nie. Hy was ’n gesonde 52-jarige. Hy was die grapjas in die familie. Altyd reg met ’n grappie of twee. Die verlies raak sy vrou en drie kinders.

Die verlies raak sy 79-jarige pa. Die verlies raak sy oudste broer wat ver in ’n vreemde land werk. Die verlies raak sy twee ouer susters. Dit bring ook onbeantwoorde vrae waarmee die geliefdes worstel. Is daar iets meer wat ons kon gedoen het? Hoe het hy gevoel op sy laaste? Die verlies raak sy groot vriendekring. Sy skielike heengaan skud hul binnekring.

Soms roep ons na hulle en besef dan dat ons vergeet het van die verlies. Hulle gaan nooit weer antwoord nie . . .

Die verslae gesigte wat hul simpatie by die huis kom betoon, maak die verlies nog meer onwerklik. Behalwe vir die seer waardeur geliefdes gaan, is daar nog die finansiële bekommernis ook. Hy was die enigste broodwinner. Die lewe gaan aan, maar niks is dieselfde nie. Nog vrae kom. Wie gaan nou vir ons sorg? Wat gaan van ons word?

Maar wanneer verlies jou tref en jy is gelukkig, is daar oral helpende hande. Mense wat vir jou omgee. En so saam met die simpatie druk hartseer vriende ’n koevert in sy vrou se hand om hul bystand te bewys. Sommige familielede help ook waar hulle kan. Saam met die verlies kom daar ook eenheid. Die familie wat ’n bietjie verwyderd en vervreemd van mekaar geraak het, kom weer byeen om saam te werk en sodoende die familieband nouer te trek.

Dan, drie dae later op 5 Julie 2020, nog ’n verlies. My ma sterf. My pa loop soos ’n slaapwandelaar deur die huis, maar hou hom sterk vir ons as kinders. Hy het ’n lewensmaat, ’n vrou en confidant verloor. Hulle sou hul 60ste huweliksherdenking op 4 November 2020 vier. Hoe gaan ’n mens aan ná seer wat so diep tref? Seer wat jou nie ’n blaaskans gee nie? Dit is die eerste keer dat so iets in ons onmiddellike familiekring gebeur.

Die gevoel in my hart is swaar, onwerklik, asof iemand my hart uit my borskas geruk het. Die verlies is so onaanvaarbaar. Hoe kan ons die verlies hanteer? Wat gemaak wanneer die “onthou-tye” kom? Hoe loop ons verby die kamers waarin hulle geslaap het? Dan is daar nog die reuk van hul klere, hul foto’s, hul stemme wat ons nooit weer sal hoor nie behalwe op voice notes en video’s. Soms speel ons ’n WhatsApp-video net om te kyk na hul gesigte, of ons vertel ’n paar grappige of ernstige insidente waarby hulle betrokke was.

Dit help om die gevoel van verlies ’n bietjie te verlig. Vir ’n oomblik ervaar ons weer hul teenwoordigheid. Maar daarna tuimel dit weer net inmekaar. Hulle is weg. Ons kry boodskappe van bemoediging van familie en vriende wat ook meehelp om die verlies te verlig. Soms roep ons na hulle en besef dan dat ons vergeet het van die verlies. Hulle gaan nooit weer antwoord nie . . .

Ons hou nog van hul klere om die gevoel van verlies te versag, maar weet dat ons daarvan moet weggee en net sommige goed kan hou om te koester. Die gevoel van verlies is nog steeds daar en ons kan nie sê wanneer die gemis draagliker gaan raak nie, maar ons vertrou dat met die hulp van God ons deur hierdie tyd van verlies sal kom en sterk sal word. Ons kan net steun op die krag wat God ons elke dag gee.

Ons vra vrae aan die Here, maar ons is ook verseker dat Hy altyd die beste weet en dat Hy die toekoms in Sy hande hou. En ons weet verseker dat ons hulle in die hiernamaals sal sien. Dit is die grootste troos vir hierdie verlies.


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.