Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: wat die hart van vol is
29 April 2021

Die mensdom makeer ’n sterk dosis aanvaarding en inklusiwiteit. Punt. Dis omtrent 14:30 en ek sluit my klas. Al my admin is klaar en my klas is netjies vir die volgende dag se opwindende aktiwiteite.

Soos gewoonlik gaan knoop ek geselsies aan met my kollegas voor dit huis-toe-gaan-tyd is. Ons praat so hiervan en daarvan en my kollega sê-vra toe vir my: “Weet jy wat irriteer my?” Soos gewoonlik is ek baie nuuskierig en ek sê sy moet vertel wat aangaan. Sy vertel op ’n dag besluit sy om winkelsentrum toe te gaan.

Sy neem haar dogter saam, want daar was niemand om na haar om te sien nie. Haar dogter is in ’n rystoel en lyk so ’n bietjie anders as ander kinders. Sy sê ’n meisie hardloop na haar toe en vra: “Tannie, hoekom lyk sy dan só?” En dié wat nie vrae gevra het nie, bekyk hulle asof hulle iets verkeerd gedoen het. Dié hele situasie het so ’n bietjie aan my hartsnare geraak.

Nou die probleem is nie dat die meisie vrae gevra het nie, want dit is maar hoe kinders is. Dit is die negatiewe aandag wat hulle gekry het in die winkelsentrum. Die probleem is mense glo jy moet ’n sekere manier lyk en jy moet op ’n sekere manier optree om aanvaar te word. Hoekom kan ’n mamma nie op uitstappies gaan met haar kind wat in ’n rystoel sit nie? Hoekom kan ’n pappa nie sy seuntjie wat met twee kurke loop, sportveld toe neem nie? Hoekom kan ouers nie hul kinders saam met hulle neem wat nie vir vyf minute kan stilsit nie?

Die eintlike vraag is: Hoekom kan mense nie kinders of volwassenes aanvaar wat skynbaar “anders” is as hulle nie? Dink maar net aan hoe baie van ons geboelie is. Oor goed soos ons hare wat nie straight genoeg is nie, ons tande wat so ’n bietjie skeef is, die kleur van ons vel, ons geloof of net die klere wat ons dra. Ons kan presies onthou hoe ons op daardie oomblik gevoel het.

Dat jy nie belangrik is nie, waarin jy glo nie tel nie, jy nie mooi genoeg is nie, dat niemand verstaan hoe jy voel nie. Jy was so diep seergemaak. Is dít hoe ons wil hê ander moet voel sodat ons beter oor onsself kan voel? Dis dan soos om die mensdom af te breek. My prinsipaal se woorde is altyd: “Omdat sommige kinders nie spraak het nie, beteken dit nie hulle kan jou nie verstaan nie.

Al lyk ons verskillend en al tree ons verskillend op, het ons almal iets om te offer.

Maak seker dat hulle op ’n goeie manier gehanteer word. Behandel hulle goed soos jy dit van jou kind se onderwyser verwag.” En dis so waar, want hierdie kinders is ook tog ’n mens met gevoelens soos ek en jy. Ek kom toe af op ’n gesegde wat as volg gaan: “Girls with curly hair straighten it, girls with straight hair curl it, white girls get spray tans, dark girls are encouraged to look whiter, thick girls are told to lose weight and thin girls try to be thick. I am starting to wonder if the standard of beauty is just anything but who you are.”

En wow! Hoe het ons hier gekom? Dit gaan oor beauty, maar dis tog van toepassing op baie ander goed. Ek voel ouers moet tyd maak om op te lees oor verskillende diagnoses sodat dit deel kan wees van hul kinders se opvoeding tuis. Dis dinge wat nie net by die skool geleer moet word nie, maar ook by die huis. Dis sodat hulle kan besef al lyk ons verskillend en al tree ons verskillend op, het ons almal iets om te offer.

Al is dit ’n talent, ’n mooi glimlag of ’n mooi persoonlikheid moet ons tog plek maak vir almal in die sirkel. Maatskappye kan hul werkers stuur vir werkswinkels wat inklusiwiteit beklemtoon. ’n Mens kan tog so baie leer van spesiale kinders. Dit is my verantwoordelikheid om hierdie spesiale kinders te laat voel asof hulle iewers behoort.

Wanneer hulle voel dat hulle hier behoort, kan hulle my vertrou. Wanneer hulle my vertrou, is dit tog so ’n mooi verhouding wat ons bou. Ek kan sê dat ek dié kinders baie geleer het, maar eintlik het hulle vir my soveel dinge in ’n ander lig laat sien. Hulle het my verwelkom in hul wêreld. Soms nie met letterlike oop arms nie, maar met ’n gesigsuitdrukking wat sê: “Ek het plek vir nog ’n mens in my lewe’’.

En soms is ons almal maar só. Die lewe is ’n interessante ervaring en elke dag sien ’n mens uit om iets te leer. Ons almal is imperfek en ons almal wil aanvaar word en smag om te voel dat ons iewers behoort. So, met alles wat nou in die mode kom, hoop en bid ek dat aanvaarding en inklusiwiteit eerste op die lys is.


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf!

Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen! E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001.

As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.