Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
8 Julie 2021

'n Mens hoor dikwels hoe bejaardes mishandel word. Baiekeer is dit kinders of kleinkinders wat hul eie ouers of grootouers sleg behandel. Dan is daar ook die mense wat aangestel word om na ouer mense om te sien wat hulle mishandel.

Sommige kere is dit vreemdelinge wat dink hulle het die reg om ’n ouer mens sleg te laat voel. Nie te lank gelede nie het iets met my gebeur wat my weereens laat dink het aan hoe jong mense ouer mense behandel en eintlik ook mishandel.

Die ergste is seker die jong mense wat glo ouer mense se vermoë om te kan dink en praat, verdwyn sodra hulle 50 raak! Ek is oortuig daarvan dat dit deesdae, in baie gevalle eenvoudig net ’n stryd van oorlewing is vir bejaardes. Daar is altyd iemand wat nie ’n geheim daarvan maak van hoe bejaardes hulle “irriteer” nie of iemand wat jou sal laat twyfel aan jou menswaardigheid. Ek moes ook maar sterk staan tydens iets wat met my gebeur het. Dit het alles begin met koffie.

Ek is al vroeg op vir ’n hospitaalafspraak, want ek wou nie in die verkeer opgehou word nie. By die staatshospitaal werk hulle mos streng op ’n basis van “first come, first serve”. Ek kry betyds klaar en besluit om koffie saam te neem – tot my spyte en ontnugtering . . .

Ek is 66 jaar oud. Geseën met ’n gesonde verstand; redelike goeie gesondheid; niks verkeerd met my redenasie nie; en is emosioneel intelligent. Ek lees gereeld, doen oefeninge, verkies om my eie huiswerk te doen en hou daarvan om in byderwetse restaurante met my vriendinne te kuier. Met ander woorde ek is onafhanklik.

By die hospitaal aangekom, drink ek my koffie terwyl ek wag. Ek was onbewus daarvan dat ek nie baie ver agter in die lyn is nie en sowat ’n halfuur later roep die dokter my. Eers nadat ek die hospitaaljapon aanhet, besef ek ek moet die badkamer gebruik. Die dokter vererg haar onmiddellik toe ek haar vra om gou eers ’n draai te gaan loop.

Ek is oortuig daarvan dat dit deesdae eenvoudig net ’n stryd van oorlewing is vir bejaardes.

Sy antwoord my baie onvriendelik en sê ek moet asseblief net my skoene aantrek en dat ek met die japon moes gaan. Haar reaksie het my onmiddellik laat twyfel aan haar “omgee” teenoor ’n ouer mens. Is ek net nog ’n oumens sonder ’n verstand? Net nog ’n bejaarde wat gehiet en gebied kan word? Of net nog iemand wat besig is om haar geduld te toets? “Jammer, dokter,” sê ek, “dit is nie moontlik nie.

Ek gaan nou eers gou weer aantrek en belowe om nie te lank te wees nie.” Sy was duidelik nie beïndruk met my antwoord nie. Sy is terug na haar lessenaar en met ’n hoorbare sug het sy gaan sit met haar hande onder haar ken. Dit het my weereens getref dat ons grootste uitdaging, teenoor onsself as ouer mense, nie net gaan oor hoe ons na onsself moet omsien ten opsigte van gesondheid en voorkoms nie.

Ons grootste uitdaging is hoe ons moet optree ten opsigte van hoe mense met ons praat en hoe hulle dink hulle kan ons behandel. Ons sal moet sterk staan en standpunt inneem terwyl ons nog kan.

Wanneer jy voel jy word te na gekom of iemand wil jou soos ’n idioot laat voel, hoef jy dit nie toe te laat nie. Ek kon my wragtig nie indink hoe ek tot aan die einde van daai gang sou gekom het nie.

En dít met ’n paar stewels en ’n agterstevoorjurkie, wat ek met beide hande sou moes toeklou, verby ’n gang vol mense. Ek voel as ek dit gedoen het, sou ek myself nooit vergewe het nie. Op pad na my motor raak ek skielik bang en my hart krimp. Skielik besef ek hoe weerloos ons eintlik is. Sê nou mense begin my dwing om iets te doen wat ek nie wil doen nie. Sê nou ek kan nie meer kommunikeer nie.

Sê nou ek word aan ’n stoel se poot of ’n bed geboeie net omdat ek ’n “las” vir hulle begin raak het. Sê nou . . . Miskien het ons ’n kultuur nodig waar die jonger geslag ouer mense moet aanvaar en met respek behandel. Wanneer hulle alleen en swak is, hoef hulle nie bang en paniekerig te raak nie.

Bejaardes moet kan staatmaak op ondersteuning en hulpbronne en nie onseker die toekoms ingaan nie. In Matteus 25:40 – 45 lees ons dat wat ons ook al doen vir dié wat in nood is, ons dit net sowel aan Hom doen. Respekteer ouer mense terwyl jy nog jonk is. Wees geduldig en onthou almal van ons het ’n gelyke kans op die lewe. Net een!

Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.