Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: wat die hart van vol is
22 Julie 2021

Ek lees verlede jaar die “Wat die hart van vol is” van Johleen van Niekerk oor enkelma’s en ek besef ek het ’n storie wat hierby aansluit. Dis die storie van die buite-egtelike kind.

Ek is een van my ma se drie buite-egtelike kinders. Omdat my ma moes werk om haarself te onderhou, was ek deur my ouma en daarna deur my oom en tannies grootgemaak. My jonger suster was egter minder gelukkig en moes meestal met my ma rondswerf. Buite-egtelike kinders was mos destyds soos ’n skandvlek op die familie.

Daarby is jy ook anders in die gemeen-skap ontvang en hanteer. As kind was jy nie regtig welkom tussen die kinders met albei ouers nie, want die meeste van hul omstandighede was anders. Jy kon nooit regtig saampraat oor jou ouers nie, want jy weet eintlik amper niks van die een ouer nie – in my geval, soos in die meeste gevalle, is dit die pa.

My pa het glad nie op ons dorp gewoon nie. Hy het ’n skamele bydrae as onderhoud betaal en het dit in ’n stadium gestaak. Dit was ten spyte daarvan dat hy ’n vaste inkomste gehad het. Dit beteken ek moes meestal net met die noodsaaklikste klaarkom.

’n Voorbeeld hiervan is een paar skoene vir skool en een paar skoene vir kerk per jaar. Sou dit deur die jaar breek, moes jy daarmee deurgaan en baiekeer kaalvoet die pad skool toe vat.

By die skool het die onnie sonder woorde jou anders behandel as baie van die kinders met albei ouers. Pouse was jy ook maar meestal die maatjie van diegene wat in dieselfde posisie as jy was. Vir skoolfunksies moes jy regtig uitstaande talent getoon het, anders was daar nie plek vir jou in die konsertgroep of skoolkoor nie.

Gelukkig het ek dit darem baiekeer gemaak vir dié twee groepe. Selfs by die kerk was ek ten spyte van gereelde Sondag-skoolbywoning nie regtig in die voorste rye nie, want die res van my familie was nie uitstaande kerkmense nie. Ek onthou hoe baie kinders ná skoolfunksies omring was, terwyl ek een van hulle was wat sonder ’n klop op die skouer moes huis toe gaan.

Ek kan nie onthou dat ek ooit iewers op ’n dokument moes aandui of ek buite-egtelik is of nie. Vir my beteken dit ’n mens se bestaansreg is nie daaraan gekoppel nie.

Aanneming en voorstelling as lidmaat by die kerk was ook een van my alleentye. Ek het toe hoërskool gehaal, deur matriek gekom en verder geleer. Maar die stigma van buite-egtelike kind is met my saam en tot vandag toe is dit duidelik dat hierdie kinders nie regtig erken is nie. Vandag word daar gepraat van liefdesbabas en die ma word geondersteun.

Daar word seker gemaak dié kinders kry ook spesiale aandag. Die Bybel leer ons dat naasteliefde aan almal bewys moet word, sodat die wêreld ’n beter plek kan wees. Terwyl ek hierdie storie skryf, onthou ek daar is tog baie mense wat nie neerkyk op die buite-egtelike kind nie, omdat baie van hulle ook dieselfde pad moes loop.

Gelukkig is daar altyd die spesiale oom of antie wat plek in hul lewens het vir die buite-egtelike kind van die familie. Só was my ma se jongste suster daar vir my. Om buite-egtelik te wees, het my later toe nie meer gepla nie, want ten spyte daarvan het die lewe vir my en baie ander in dieselfde posisie ook die mooi gebring.

Deur my omstandighede is ek ook in my denke gevorm om vaste besluite te neem soos dat my kinders nie buite-egtelik gebore sou word nie en dus ook nie deur slegs een ouer grootgemaak sou word nie. Ek wonder nog soms oor hoe dit sou wees as ek nie buite-egtelik gebore was nie. En ek glo dit sou definitief anders wees, maar nie noodwendig beter nie.

Die term buite-egtelik is eintlik effens verouderd en jy word nêrens pertinent gevra om dit aan te dui nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit iewers op ’n dokument moes aandui of ek buite-egtelik is of nie.

Vir my beteken dit ’n mens se bestaansreg is nie daaraan gekoppel nie. Ek gee die eer aan God wat my ’n lewe geskenk het met vele geleent-hede om dit te geniet. God is vir my ’n toevlug daarom deel ek graag Psalm 16:5 en 6: Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.


Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.