Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rubriek: Wat die hart van vol is
19 Augustus 2021
Esme Cupido
Esme Cupido

Die woord “nee” is een van die kortste en kragtigste woorde in ons woordeskat en ons as vroue moet leer om dit meer te gebruik. Dis ’n eenvoudige woord, so hoekom is dit vir my so moeilik om dit te gebruik?

Noudat ’n mens ouer is, is dit vir sommige van ons moeilik om daai eens maklike woordjie oor ons lippe te kry. Ons word van kindsbeen af geleer om nice met mense te wees; om te gee en te doen. Veral ons vroue word met omgee en mededeelsaamheid geassosieer. Maar sommige kere vat mense advantage van jou, want jy is die “go-to”-mens as hulle iets nodig het.

Die een op wie se knoppie gedurig gedruk word. Die mens wat nooit “nee” sê nie. Die een wat ander se belange bo haar eie stel. Jou outomatiese respons is om “ja” te sê. Nou kyk, dis edel van enige mens om te doen en te gee, maar soms raak dinge te veel. Wanneer jou niggie vir jou die Avroy Shlain-boekie stuur, want sy weet jy bestel altyd, sy kan op jou staatmaak, dan vries jy.

Jy raak angstig. Jy werk met ’n budget en dit is tight, maar dalk kan jy ’n oogpotlood inpas. Kort voor lank onthou jy van iemand se verjaardag is om die draai en jy bestel parfuum ook. Of jou kollega wys die nuutste Tupperware, dan is jou eerste instink om “nee” te sê, want jy het genoeg bakkies in elke denkbare kleur.

Maar as jy vir jou kom kry, het jy jou bestelling afgemerk. Dan oortuig jy jouself dit is eintlik goed, want jou talle bakkies het op ’n manier dekselloos geword. Jy kon dit in elk geval nie oor jou hart kry om die geesdriftige persoon met ’n “nee” teleur te stel nie. Ook nie vir jou buurvrou wat ’n R100’tjie tot anner week kom leen nie. Om vir mense iets te leen, is niks nie, maar baiekeer het jy self nie veel nie.

Maar omdat jy die ander een nie sleg wil laat voel nie, gee jy jou laaste. Soms beteken dit dat jy nou short kom en dan moet jy self weer gaan leen tot jou paydag toe. Selfs as jou vriendin ’n draai wil kom maak net as jy moeg by die huis kom ná ’n dag se werk, kan jy nie weier nie. Jou kop skud ’n nee, maar jou mond sê “ja”. En jy raak kwaad vir jouself omdat jy nie “nee” kan sê nie.

Jy sit met bekommernisse of te min tyd vir jouself. Dit kan tog nie selfsugtig wees om na jouself om te sien nie. Deur “nee” te sê vir ander sê jy eintlik “ja” vir jouself.

Dit herinner my aan my ma wat vies was as sy besig met wasgoed was en iemand is op pad om te kom kuier en sy kon nie “nee” sê nie. Aan die einde van die kuier was dit my ma wat sê: “sit, ek maak nog tee”. Soms raak dit te veel, want jy moet leen, jy moet help, jy moet bring, jy moet gee. En al wil ons graag al hierdie dinge doen, kan ons nie. Hoe kan ons ander help as dit baiekeer ten koste van jouself is?

Hoekom sê ons “ja” om iets vir iemand te doen, wanneer jy reeds op me-time besluit het? Hoekom leen ons vir ander mense as jyself nie genoeg oorhet nie? Jy sit met die finansiële bekommernisse of te min tyd vir jouself. Dit kan tog nie selfsugtig wees om na jouself om te sien nie.

Deur “nee” te sê vir ander sê jy eintlik “ja” vir jouself. Ons is so bang vir verwerping dat ons heeltyd nice wil wees. Baie van ons is people pleasers, want ons wil hê ander mense moet van ons hou. Daarom sal ons instem om te leen en te doen sodat ons aanvaar kan word en deel van die groep kan bly. Ons dink dis onbeskof om “nee” te sê en ons is bang om ander mense te ontstel, al doen ons onsself in in die proses. Ons wil ook die vrede behou deur “ja” te sê.

Maar ons lewens sou makliker gewees het as ons net meermale kon “nee” sê sonder om skuldig te voel. En laat ek jou nou sê jy hoef ook nie skuldig te voel die dag as jy “nee” sê nie. Dalk moet ons voor die spieël gaan staan en oefen om die woord “nee” te gebruik, en gebruik dit dan sonder om skuldig te voel.

Dan sal ons dalk vind dat dit nie so moeilik is nie, dat die wêreld nie vergaan as jy “nee” sê nie. Jou familie en vriende gaan nie minder van jou hou nie, en as hulle dit doen, who cares? Hulle verdien jou dan in elk geval nie. Jy besef dalk ook dat mense begrip het as jy “nee” sê, want jy is eerlik. En dan kan jy begin “ja” sê omdat jy wil en nie omdat jy verplig voel nie.

Wen R1 000 met jou hart-storie

’n Mens het ’n sterk hart nodig om al die uitdagings van die lewe aan te durf! Vertel ons jou storie oor daai keer toe jy ’n sterk hart nodig gehad het en jy kan R1 000 wen!

E-pos jou rubriek (800 woorde) en ’n foto van jouself (300 dpi) vir ‘Wat die hart van vol is’ na kuier@kuier.co.za met die woord RUBRIEK in die onderwerplyn of stuur dit met gewone pos na Wat die hart van vol is, Kuier, Posbus 1802, Kaapstad 8001. As ons jou hart-storie publiseer, wen jy R1 000!

Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.