Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Rugbymal: SA coach rig af in die buiteland
10 Junie 2021


Vir Suid-Afrikaners is rugby nie net ’n sport waar ’n klomp gespierde mans agter ’n bal aanhardloop nie. Dit skep ’n gevoel van same- syn onder toeskouers en laat ’n mens vas glo aan die 2019 Wêreldbeker se #StrongerTogether, al is dit ook net vir die 80 minute wat die “oorlog” op die veld uitwoed.

Dít is wat vir Bronson Weir (43), gebore en getoë in Belhar in die Kaap, belangrik is van die sport. Bronson is nie net ’n beleggingspesialis by Grindrod Bank nie, hy is ook die hoofafrigter van die Nigeriese mansrugbyspan. Hy is tans besig met sy vlak 3-afrigterakkreditasie – die hoogste kwalifikasie in die sport.

Waarde van rugby

As rugbyspeler het Bronson vroeg-vroeg die waarde van sport ontdek en het ook reeds in 2007 begin afrig by Excelsior Hoërskool in Belhar en het selfs fondse bekom daarvoor.

“Ek het dadelik besef ek kan ’n verskil maak deur die kinders die basiese vaardighede te leer. Deur die spel van rugby kan ons dissipline en fokus installeer. Dit leer ons om saam as ’n span te speel en te werk en dit is waardevolle vaardighede om te hê in die werkplek ook.”

Hy rig die skool- en gemeenskapspanne af en het oor die jare al by Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Suid-Afrikaanse studente-sewes, Kenya se sewesspan (wat die Afrika-beker gewen het) en Uganda afgerig. Van Bronson se afrigterhoogtepunte was om juis te sien hoe hierdie outjies wat hy coach, sukses behaal op ’n provinsiale vlak – soos byvoorbeeld Dennis Cox, vir wie Bronson van 12 af gecoach het, en later vir WP uitgedraf het.

“Om te weet ons help ’n talentvolle speler met al die ondersteuning wat hy nodig het om sy volle potensiaal te bereik, is baie spesiaal en humbling, veral as hulle uit minderbevoorregte agtergronde kom,” sê hy.

“Belhar is dalk ’n gevaarlike plek, maar dit loop oor met sporttalent.” Van kleins af was rugby ’n integrale deel van Bronson se lewe. Sy skoonpa en swaers is rugbymal en dít is ook hoe hy sy vrou, Odille (41), ontmoet het. Die paartjie het twee kinders, Brogan (14) en Odian (7). “As kinders het ons altyd touchies in die park, in die bos en in sandputte gespeel. In daai tyd het jy nog volgens jou gewig gespeel by die skool,” onthou hy.

In daardie stadium het Bronson ook vir die Tygerberg Juniors gespeel, wat gesien was as WP. Volgens Bronson was hy nie die beste sportman nie, maar hy het met harde werk gekom waar hy vandag is. “Ek dink die feit dat ek ‘above my weight’ moes punch terwyl ek met my ouer broers gespeel het, het gehelp,” lag hy.

Bronson saam met die sewesspan van Nigerië.

Sy pa se lesse

Sy pad tot waar hy vandag is, was egter nie maklik nie. “Ek onthou ons het op ’n stadium in ’n garage gewoon wat met ’n kas ’n area vir ons ouers en vyf kinders afgebaken het. My ouers het bitter hard gewerk om vir ons ons eerste huis in Extension 13 te koop. Wat ’n trotse oomblik!” vertel hy. Reeds as klonkie het Bronson geleer hoe belangrik dit is om hard te werk vir dit wat hy wil hê. “My pa het elke dag vroegdag gaan werk as ’n blokman. Ek onthou ook daar was tye wat ek moes wag dat my ouer sibbe se voete moes groei, voordat ek hulle skoene kon oorneem.”

Nadat sy ma oorlede is toe Bronson maar 18 was, moes sy pa, Malcom Weir, beide rolle vervul. Hoewel hy nie die beste opvoeding gehad het nie, bly die lewenslesse wat sy pa hom geleer het, tot vandag toe by hom. “Hy moes van jongs af werk omdat hy die oudste seun was. Hy was baie erg daarop om betyds te wees, lojaal, netjies en om ander met respek te behandel. Dissipline was ook vir hom baie belangrik. My ma was meer die streng een, maar as hy gepraat het, het ons geluister.”

Die rol van ’n vader in elke kind se lewe, kan volgens Bronson nie deur iemand anders gevul word nie. “Die meeste mans kan ’n pa word, maar om ’n pa te wéés, vat ’n leeftyd.” Vir hom is ouers kinders se steunpilare. “’n Kind kyk op na sy pa vir reëls en sekuriteit – beide fisies en emo-sioneel. Hulle wil hul pa’s trots maak en ’n betrokke pa ondersteun innerlike groei en krag. Hoe ’n pa sy kind behandel, beïnvloed waarna daai kind kyk in ander mense. Vandag se pa’s moet selfs ’n groter rol speel in die geveg teen gender-based violence. Almal is gelyk en ons het mekaar nodig om die wêreld ’n beter plek te maak.”

En Bronson doen alles in sy vermoë om pa te staan vir die seuns wat oor sy pad kom en sy deur staan altyd oop. “Voor ek en my vrou ons eie kinders gehad het, het ek reeds seuns begin mentor. Van hulle het by tye in ons huis gewoon, terwyl baie gereeld by ons kom huiswerk doen of my tuis-gym kom gebruik het. My vrou help weer met die skoolwerk en ek sou nooit sonder haar en my familie se ondersteuning, asook die JAG Foundation (’n liefdadigheidsorganisasie wat deur sport verandering in hoë-risiko areas teweeg bring), so ’n groot verskil kon maak nie.”

Ploeg terug

Hoewel hy dit nie sommer sal erken nie, het Bronson ook ’n rol gespeel in groot rugbyspelers soos Cheslin Kolbe en Siya Kolisi se lewens. “Daar was baie mense wat hierdie twee ondersteun het. Gelukkig was ek gekies as die WP-span se junior afrigter en het só met hul paaie gekruis. Ek is trots op die mense wat hulle geword het!” Vir Bronson is dit ’n wonderlike tyd vir Suid-Afrikaanse rugby – veral ná die onlangse Wêreldbeker.

Bronson saam met sy gesin.

“In dieselfde asem het ons nog baie werk om te doen op grondvlak omdat minderbevoorregte skole en klubs verder agter raak. Ons het definitief kwaliteit-afrigters in die SARU-sisteem, maar daar is ’n tekort aan regverdige geleenthede op alle vlakke. Persoonlik sal ek self altyd in Suid-Afrika wil terugploeg sodat ons van krag tot krag kan gaan.” Hy vertel selfs as hoofafrigter in Nigerië, is bronne maar beperk.

“Om by klubs en skole af te rig, het my voorberei vir die uitdagings in Afrika-rugby, maar dit is ’n ongelooflik wonderlike ervaring. Behalwe dat ek die wêreld kan sien, rig ek af teen sommige van die bestes ter wêreld.” Bronson moet partykeer tussen twee en drie maande weg wees van die huis af om Nigerië se span te brei. “Dis nie altyd lekker nie, veral nie as my kinders siek word of my vrou alles moet doen nie. Gelukkig het ons baie sterk ondersteuningstelsels, met ’n skoonma en sibbe wat altyd gereed is om te help. Verlede jaar was baie vreemd, want ek kon vir die hele jaar nie vlieg nie, maar dit was wonderlik om so baie tyd by die huis te spandeer en alles reg te maak!”

Rugby was nog nooit vir Bronson net oor die wen nie, maar eerder om as mens te ontwikkel. “Om leiers en broodwinners te ontwikkel, is ’n sleutelfaktor vir my. Ek rig ook ander afrigters af en ek is mal daaroor omdat dit die fondasie lê vir die volgende afrigters wat weer met die jeug gaan werk en so aan . . . Elke gemeenskap het hul eie icons of heroes nodig. As alle vlakke van opvoeding of gemeenskappe op dieselfde vlak was, sou ons nie nodig gehad het om celebs te idolise nie, want hulle sou tussen ons gewoon het.”

Vir hom is sy lewe as afrigter ’n manier van “paying it forward”. “My eie coaches en onderwysers het my talle lewenslesse geleer sonder om vir my ’n sent te vra. Ek het vir baie jare verniet in my gemeenskap afgerig en die lewe het my met so baie ander blessings vergoed, soos om ’n mentor, vaderfiguur, ‘Uber’-bestuurder of terapeut vir die jeug te wees.

Dis ’n voorreg! “Jy weet nooit wie gaan jou kinders afrig nie en as jy die geleentheid het om af te rig of te mentor, doen dit na die beste van jou vermoë!”

Meer oor:  Kuier  |  Rugby-Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.