Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sexy Chris Jaftha se pad na sukses
7 Maart 2018

Hy is altyd onberispelik aangetrek en met sy sjarmante persoonlikheid en betowerende oë, is dit maklik om verlief te raak op Christopher Jaftha.

Maar vir hierdie TV-aanbieder, akteur en model is sy voorkoms nie belangrik nie. Hy wil eerder bekend wees vir hoe hy mense laat voel en die standaard van die werk wat hy lewer. Chris (34), soos die meeste mense hom noem, is bekend vir sy werk as teaterakteur en aanbieder op die glansprogram Top Billing, maar deesdae bekoor hy kykers elke Sondagaand saam met Tracey Lange as een van die dinamiese aanbieders van M-Net se nuwe dansprogram, Dancing with the Stars South Africa.

Baie kykers was lekker verbaas toe hy alreeds in die eerste episode moves gewys het soos ’n wafferse professionele danser. Maar dis omdat die man kán dans. Voor hy sy verskyning op die kassie gemaak het, was hy ’n professionele danser. Chris is uiters aantreklik en dis maklik om sy selfvertroue vir arrogansie te misgis.

Maar jy kom vinnig agter daar is ’n diepte aan hom wat nie noodwendig altyd eerste raakgesien word nie omdat ’n mens so teen sy perfekte gelaatstrekke vaskyk. En anders as wat ’n mens sou glo, het Chris se looks in sy loopbaan al tot sy nadeel gestrek, omdat hy tien keer harder as ander moes werk om te wys hy het talent en kry nie net werk oor sy mooi gesig nie.

Ek hou soms daarvan om mense te skok. Dit is goed om mense op hul tone te hou.
Christopher Jaftha

Groot deurbraak

Christopher, die man met smeulende oë, weet beslis wat om voor die kamera te doen om te verseker dat elke vrou se hart twee slae mis!

Chris sê hy het amper tien jaar gewag vir die lewe wat hy nou geniet as aanbieder, akteur en model. Hy het vir jare net hier en daar klein rolletjies gekry en in ’n stadium gedink hy gaan nooit sy groot deurbraak in die vermaakbedryf kry nie.

Hy het egter aangehou en hard gewerk totdat die wiel ’n paar jaar gelede vir hom begin draai het. Hy het uiteindelik ’n rol in die teaterproduksie Saturday Night Fever losgeslaan en daarna het groot produksies soos High School Musical, Footloose, Mamma Mia, Dreamgirls en West Side Story gevolg.

Maar sy groot TV-deurbraak was toe hy as aanbieder op SABC3 se Top Billing begin werk het.

Top Billing het my ’n huishoudelike naam gemaak en dit is waar mense my regtig leer ken het. Al was ek voorheen in ’n reeks kykNET-flieks en in baie bekende teaterproduksies, het mense my nie so goed geken soos wat hulle my nou ken nie. Dit (Top Billing) het deure vir my oopgemaak,” sê Chris.

En nou is hy waarskynlik op een van die grootste realiteitstreffers op Suid-Afrikaanse TV en dit pas hom soos ’n handskoen danksy sy eie dansagtergrond. Chris is ook ’n groot aanhanger van die Amerikaanse weergawe van Dancing with the Stars, so vir hom was dit ’n eer om hierdie geleentheid te kry om die Suid-Afrikaanse weergawe aan te bied. Hy het ook die kans om weer te dans met albei hande aangegryp.

“Ek is die eerste aanbieder in die reeks se geskiedenis om saam met die dansers te dans. Ek het dit verskriklik geniet en ek dink baie mense was verbaas om te sien ek kan dans en dit het dit vir my nóg lekkerder gemaak. Ek hou soms daarvan om mense te skok. Dit is goed om mense op hul tone te hou,” sê hy laggend.

Dankbaar

Chris mag vandag sukses geniet en aanhou om daardie leer te klim, maar hierdie outjie wie se wortels in Westbury en ook Eldoradopark, Johannesburg lê, weet waarvandaan hy kom en waardeer die lesse wat hy in daardie gemeenskappe geleer het.

Hy vertel veral sy ouers, Bridgette en Fabian, het ’n groot rol gespeel in hoe hy en sy twee broers, Marcellus (37) en Tyler (30), uitgedraai het.

En nes Chris sukses ken, weet hy ook wat dit is om vir lang tye nie werk te hê nie. Hierdie is “donker tye”, sê Chris, maar sy familie is en was nog altyd sy grootste ondersteuners. Hy word ernstig dog dankbaar wanneer hy oor hierdie onderwerp praat. ’n Mens kan sien dit lê hom baie na aan die hart.

“Dit moes so moeilik vir my ouers gewees het om my te ondersteun en aan te moedig (in daai donker tye). Geen ouer wil hê hul kinders moet swaarkry nie en my ouers het dikwels vir my gevra of die vermaakwêreld vir my is en elke keer sê ek net, dit is waar ek moet wees. Dit is hoe ek ’n verskil in mense se lewens kan maak,” sê hy passievol.

Oor waar hy grootgeword het en sy ouers se invloed, sê Chris albei gemeenskappe (Westbury en Eldoradopark) het baie probleme met misdaad, dwelms en geweld en tieners kan maklik daarby ingetrek word.

Maar hy sê sy ouers het hulle van kleintyd af by gemeenskapswerk en die kerk betrokke gekry om hulle uit die kwaad uit te hou. Dis hoekom hulle nie op die verkeerde pad beland het soos baie van die kinders in hul buurt nie. Met hoe sy lewe en loopbaan tot dusver verloop, glo Chris hy is glad nie spesiaal nie en dat daar niks is wat hom anders as enig-iemand anders maak nie. Hy het net die geleenthede gebruik wat vir hom gegee is en hard gewerk om die beste daarvan te maak.

“Baie mense dink ons het gemaklik grootgeword en dat dinge altyd maklik was, maar dit is glad nie die waarheid nie. Dit het ook maar soms swaar gegaan, maar my ouers het baie hard gewerk om vir ons ’n goeie lewe te gee en kanse te gee wat hulle nie gehad het nie,” sê hy.

Chris voeg by: “Ons sukses is aan hulle te danke, want hulle het vir ons as kinders al die gereedskap gegee wat ons nodig gehad het om die regte besluite te neem. Hulle het ons baie gelei, maar die besluit was steeds altyd ons s’n aan die einde van die dag. As ons werk om ons beste weergawe te wees, glo ek ons sal almal iets kan doen om iemand anders te help.”

’n Ander belangrike les wat sy ouers hom geleer het, was om uit te vind waarvan jy hou. Chris ook nie bang om iets te probeer en te misluk nie. Hy glo jy moet leer uit jou foute en vinnig weer opstaan indien iets nie uitgewerk het nie. Dis hoe hy alles in sy lewe en loopbaan aanpak.

Ouer en wyser

Tyd is ook ’n wonderlike ding, het Chris geleer, want hoe ouer hy word, hoe meer gemaklik is hy met wie hy is en die werk wat hy doen. Aan die begin was hy baie meer bewus van wat mense van hom sê en wou hy nooit hê mense moet sleg dink van hom nie.

Maar hy het besef jy gaan nooit almal gelukkig kan maak nie en al is daar steeds mense wat dink hy is arrogant of kry slegs werk omdat hy ’n mooi gesig het, pla dit hom nie meer nie. Hy is nie meer skaam nie en aanvaar al die negatiewe en positiewe dinge wat saam met sy werk kom. Sy fokus is nou op dit wat meer belangrik is. Hy wil sy platform gebruik om goed te doen en mense se lewens te verbeter.

Dit het ’n rukkie gevat vir hom om dit te besef, maar nou is dit duidelik dat media en vermaak een van die grootste bedrywe is om mense te inspireer en lewens te verander. Hy mag dit dalk nie op die manier doen soos sy ouers nie, maar hy voel hy kan ’n verskil maak terwyl hy sy passie uitleef.

Jy kan iemand se dag verander deur klein dinge te doen soos om te glimlag.
Christopher Jaftha

“Dit moet nooit net oor geld, roem, vroue, mans of die partytjieleefstyl wees nie. Ja, dit is alles deel van die bedryf, maar dit is belangrik dat jy nie in die hype vasgevang word nie. Dit kan binne ’n sekonde verdwyn. Maak ’n verskil deur dit wat jy doen en hoe jy mense laat voel.

“Ek probeer altyd om te kyk waarvoor ek my platform kan gebruik en die bewaring van wild en seelewe en bloedskenk, is twee dinge wat baie na aan my hart lê. As ek een persoon se lewe kan verander, het ek my werk gedoen. Maar dit hoef nie altyd groot goed te wees nie. Jy kan iemand se dag verander deur klein dinge te doen soos om te glimlag, ’n sak te dra of met ’n vreemdeling te gesels.”

Chris sê hy is dankbaar vir al die geleent- hede wat hy elke dag kry, maar hy weet dit kan enige tyd weggeneem word, want nie enige van sy werke is permanent nie en terwyl hy aan die een werk, moet hy reeds die volgende ding begin soek. Maar hy probeer om in die oomblik te leef en hoop om eendag op die grootskerm te wees. Maar vir nou is hy gelukkig en hoop om homself elke Sondag dieper tot in mense se harte te dans. En ongelukkig vir ons Kuier-dames is hierdie mooi man nié beskikbaar nie – en dis al wat hy vir nou daaroor gaan sê.

Foto’s: Pieter Du Toit

Grimering, hare en stilering: Suna Robberts

Klere en Bykomstighede: Edgars, Cotton On, H&M, Markham en Chris se eie

Skoene: Woolworths en Chris se eie


* Hierdie artikel verskyn in die 7 Maart 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Celeb  |  Kuier  |  Dancing With The Stars Sa  |  Chris Jaftha  |  Tracey Lange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.