Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Shaleen Surtie-Richards: Swaarkry steel nie haar 'smile'
1 April 2021


Toe baie van ons kan terugkyk op ons lewens en met absolute eerlikheid en selfversekerheid sê: “As ek my lewe moet oorlewe, sal ek dit presies só lewe”. Wel, dis presies hoe die veteraan-aktrise Shaleen Surtie-Richards op 65 voel.

Sy het vandag geen berou nie en is dankbaar vir al die lesse wat die lewe haar in goeie én slegte tye geleer het. En van goeie én slegte tye kan Shaleen bladsye en boeke vol skryf, want sy gaan tans, soos baie ander kunstenaars finansieel deur ’n baie moeilike tyd weens die Covid-19-pandemie en inperking se nagevolge. Daaroor gaan dié uitgesproke aktrise nie die waarheid wegsteek nie.

“Die ironie is ek verskyn op die voorblad van Kuier, maar hier kry ek ’n (aanmaning)brief van Absa se sheriff . . . Dit gaan sleg . . . Ek het nie eens geld vir elektrisiteit of kos nie en ek sukkel om my huis te behou. Ek maak staat op vriende en familie om nou en dan vir my iets (geld) te stuur.

“Dit maak seer. Ek het standing ovations (in my loopbaan) gekry en huise (teaters) uitverkoop. My werk en reputasie spreek vanself. Ek voel ek verdien dit nie,” erken Shaleen openhartig vanuit haar huis in Roodepoort, Gauteng.

Shaleen saam met haar ouers, Ellen en Shagan Surtie.

Sy voeg by sy sukkel tans om werk te kry. Haar mees onlangse rol was sowat ’n jaar gelede in kykNET&kie se telenovela, Arendsvlei, waarin sy Lionel (Jody Abrahams) se ma gespeel het. Shaleen was in die fliek Swirl: ’n Liefdesbrief vir hare op die Kaapse Vlakte wat onlangs op kykNET&kie gewys het.

Shaleen vertel ’n storie het in die ver-maakbedryf die rondte gedoen dat sy tydens die pandemie erg siek geraak het. “Maar ek is gesond! Ek was nie siek nie!” beklemtoon sy hardop. “Ek is ’n aktrise en kan nie werk vir myself skep om te bestaan nie. Mense dink seker ek is te oud, maar ek kán nog werk!”

Dan raak haar heserige stem sag wanneer sy byvoeg watter rol geloof nou en nog altyd in haar lewe gespeel het: “Ek sit nie elke Sondag in die kerk nie, maar ek glo in die Here. En dis net die Lotto wat my nou kan red, maar dan gaan God my vra: ‘Maar het jy ’n (Lotto-)kaartjie gekoop?’”

Sy lag lekker vir haar eie grappie. Maar wat sy daarby bedoel, is dat sy weet sy nie al een is wat swaarkry nie en sy glo God het baie mense om te help, so jy moet ook jou deel doen om jouself te help. En só het Kuier vir Shaleen leer ken oor die jare. Sy is nie net ’n fenomenale aktrise nie, maar ook ’n besonderse vrou met ’n hart vir mense en haar roem ten spyt, was haar voete nog altyd plat op die aarde.

Sy is ’n sout-van-die-aarde-vrou wat nie lappe om gesonde vingers draai nie en een wat die soet met die sout kan bedien. Al gaan dinge hoe swaar, sy laat nooit haar sin vir humor agterweë nie; nog minder vergeet sy om te lag en om ander te laat lag.

Lang loopbaan

“Ek wil tog nie hê hierdie (artikel) moet ’n depressing affêre wees nie,” sê Shaleen. Haar gemoed is weer ligter. Die kekkellaggie is terug. Die gordyn oor die realiteit van haar situasie word vir eers toegetrek en sy staan weer breëbors in die spreekwoordelike spotlight, een wat sy al sedert 1984 ken. Vanjaar is Shaleen al vir 36 jaar ’n aktrise en wanneer sy terugkyk op haar lewe en loopbaan waarin sy al meer as 50 toekennings vir haar werk ontvang het, kom ’n saligheid oor haar.

“Want ek het tot nou ’n vol en wonderlike lewe vol liefde gehad. Ek het geleer die liefde oorwin alles,” sê Shaleen, wat Suid-Afrikaners byna van dag een af betower het met haar toneelspel. Haar spel in die 1988-fliek Fiela se Kind en later die rol van Nenna in die destydse M-Net-sepie, Egoli: Plek van Goud, het vir Shaleen ’n household name gemaak. Om nie eens te praat van die talle teaterproduksies soos Kanna hy kô hystoe, District Six, The Comedy of Errors, Romeo and Juliet, Aap in die Mou en Legends! nie. Met ’n loopbaan wat oor drie dekades strek, is daar te veel om op te noem. Eintlik moet sy ’n boek skryf, want elke gebeurtenis het ’n storie van sy eie.

Die rol van Fiela was een van Shaleen se grotes.

Maar Shaleen se storie begin op Upington in die Noord-Kaap waar sy grootgeword het as die enigste kind van haar skoolhoof-pa en onderwyser-ma, Shagan en Ellen Surtie, beter bekend as oom Hokkie en tannie Sakkie. Shaleen het ’n ouer broer, Lionel, aan haar pa se kant, wat nog lewe, maar albei haar ouers is intussen oorlede.

Eers haar pa in 2000 en toe haar ma sewe jaar gelede. Die verlange ná hierdie twee spesiale mense in haar lewe is steeds groot, want hulle was ook haar grootste cheerleaders en haar pa haar grootste kritikus, maar altyd met liefde. Die gedagte aan haar kinderjare en ouers bring ’n glimlag na Shaleen se gesig. “Ek het die wonderlikste kinderjare gehad, al was my pa so streng. Ek het baie pak slae gekry, maar alles het gekom uit ’n plek van liefde. My ouers was baie trots op my. Hulle het nooit ’n play van my gemis nie,” vertel Shaleen.

En om uit Upington te ry om van haar plays by te woon, was ook nooit ’n te groot opoffering vir haar ouers nie. Met die onthou van haar ouers se teenwoordigheid by haar plays, raak Shaleen emosioneel wanneer sy onthou dat haar pa se plek langs haar ma in die gehoor leeg was toe sy District Six gedoen het. “Die Here het my hierdie talent gegee, want ek het nie gaan leer om ’n aktrise te word nie. Toe ek kleiner was, het ek altyd gedink talent is iets wat aan ’n boom groei . . .” vertel sy.

Shaleen se ma het ’n dramaklub, die Upington Dramaorganisasie, bestuur. Haar ma het aangehou sy moet deel word en sy het uiteindelik teen haar sin by die dramaklub aangesluit. Maar dis toe sy sommer met haar eerste vertoning die toekenning vir “beste aktrise” wen en kort daarna nóg ’n toekenning, het Shaleen verstaan wat talent eintlik is. Dis iets wat in jou is; waarmee jy gebore word en waarmee die Here jou seën.

Ná skool het Shaleen in die onderwys gegaan, nes haar ouers, en was vir 12 jaar ’n kleuterskoolonderwyser. Sy was mal oor haar werk en het later Kaap toe getrek en by die Laerskool Cecil Rhodes gaan skoolhou. Sy het deel geword van die skool se opvoedkundige teaterprogramme waar sy baie weggegaan het om deel te neem aan produksies en sê dit het ál moeiliker geword om terug te keer klaskamer toe. Sy het ook gevoel dis nie regverdig teenoor haar klaskinders wat elke keer moes gewoond raak aan ’n nuwe onderwyser wanneer sy weg was nie. “En in 1984 besluit ek toe ek gaan vir die (aktrise-)ding.

Dit was ’n groot ding om my inkomste te verloor.” Maar Shaleen het die geloofsprong geneem. Sy het intussen getrou en haar man en ouers het haar ondersteun in haar besluit om voltyds aktrise te word. (Shaleen en haar man het later geskei.) Shaleen, wat sê sy het haar deursettingsvermoë en dissipline vir tyd van haar pa geleer, was vasbeslote om ’n sukses van haar loopbaan te maak en haar Godgegewe talent uit te leef. “Mense sê as ’n bruin vrou, word jy ge-typecast om sekere rolle soos die bediende met die doekie te speel, maar ek was vasbeslote om eendag die madam ook te speel!”

Shaleen bly hoopvol deur die storms.

Groot deurbraak

Haar groot rol in ’n fliek het sommer ’n paar jaar later gekom toe sy die rol van Fiela Komoetie in Fiela se Kind losslaan. Die fliek is gebaseer op die boek met dieselfde titel deur Dalene Matthee. “Fiela het my landwyd bekend gemaak. Fiela was ’n vrou soos ek. Plat op die aarde. Sy het gewys die liefde oorwin alles,” sê Shaleen.

Sy wil nie eintlik daaroor praat nie, omdat sy nie in die verlede lewe nie, maar onthou ’n wit vroulike regisseur wou destyds gehad het ’n wit aktrise moet Fiela in die verhoogproduksie speel. Sy het ook onvleiende goed oor Shaleen te sê gehad waarvoor die media haar vir kommentaar gebel het.

“Maar toe ontmoet ek vir Dalene Matthee en sy sê vir my: ‘Jý is my Fiela!’ Ek het die land en die mense agter my gehad,” onthou Shaleen. Uit hierdie ervaring het Shaleen, so uitgesproke soos sy is, geleer: “Daar was ’n tyd vir praat en ’n tyd om my mond te hou. My werk het vír my gepraat.” Haar werk het duidelik hard gepraat, want Franz Marx, skepper van die sepie Egoli: Plek van Goud, het Shaleen later jare gebel en haar die rol van Nenna aangebied.

“My ouma se naam was ook Nenna en dit was ’n fees om haar te speel.” Sy kry innerlik lekker en die trots sit vlak wanneer sy sê: “Waar die ander (Egoli-)akteurs twee bodyguards gehad het, het ek vier gehad (by openbare verskynings). Ek onthou een aand by ’n roadshow het 35 000 mense gecheer vir my. Dit was fenomenaal! In elke gemeenskap is daar ’n Nenna, dis hoekom mense so mal was oor my.”

Ek het baie liefde in my lewe gehad en sien dít as my grootste blessing ooit.

Shaleen het destyds self haar fan mail geantwoord en sê sy kry nou nog mense wat met hul briewe wat hulle as kind aan haar geskryf het, na haar toe kom. Sy het selfs uit die tronk briewe gekry, en hiervoor lag Shaleen tot vandag nog lekker, want “hulle almal het gesê hulle is onskuldig”. Maar gevangene of nie, Shaleen het mense aangeraak.

Vir die era waarin haar loopbaan begin blom het, was dit ’n groot inspirasie vir ’n bruin aktrise om so ’n groot impak op TV-gehore te hê. Daarom is dit ook nie vreemd dat sy al minstens drie Lifetime Achievement Awards vir haar werk ontvang het nie. Sy het ook die aandag van wyle oudpres.

Nelson Mandela getrek en ’n roos is in 2018 na haar vernoem. Shaleen onthou die Mandela-oomblik, wat sy vir altyd sal koester, soos gister. Dit was rondom haar pa se afsterwe in 2000. Madiba het daarvan in die koerante gelees en sy assistent Zelda la Grange (deesdae gasvrou op die kykNET&kie-geselsprogram Tussen Ons) gevra om kontak te maak met Shaleen.

“Zelda het daai dag die oproep deurgesit. Hy (Mandela) het vir my gesê: ‘You make us so proud’. Hy het ook gepraat met my oor die liefde van ’n ouer vir ’n kind; hy het baie van my geweet. Hy was so besig dat hyself nie eens tyd kon kry om toilet toe te gaan nie, maar hy het tyd gemaak om my te bel,” onthou Shaleen aangedaan.

Dis ’n gebaar van ’n besonderse mens wat sy nooit sal vergeet nie, maar een wat die ongelooflike impak wat Shaleen in haar loopbaan gemaak het, tot vandag toe onderstreep. Syself dink nie veel aan die impak wat sy maak of het op mense nie. Vir haar gaan dit daaroor om die werk gedoen te kry.

“Ek gaan nie in ’n ding om mense te impress nie. Ek raak steeds nervous – eers wil ’n mens net pee en ek gee steeds fynpoepies (wanneer sy ’n rol moet vertolk),” sê sy skertsend. Dan voeg sy passievol oor die krag en bekoring van haar werk, by: “Ek kan voor ’n gehoor gaan staan en besluit wanneer ek hulle laat lag en wanneer ek hulle laat huil. Dis amper of ek hulle in die holte van my hand hou.”

Dit gaan sleg, maar die lewe sal my nie onderkry nie.

Dankbaar vir hulp

Maar deur die gelag, raak Shaleen vir ’n oomblik ernstig wanneer sy sê ja, dit gaan tans nie goed nie, maar sy is dankbaar vir die seëninge van die mense in haar lewe. Familie en vriende wat help waar hulle kan en selfs mense soos die egpaar van Germiston, Danie en Yvette Roets, wat haar huis se dak gratis laat herstel het. Haar huishulp werk ook tans vir Shaleen sonder ’n salaris, tot sy weer ’n rol en dus ’n inkomste kry. “Die Here het haar vir my gestuur, want sy kyk so mooi na my.”

Shaleen het ook nie kinders van haar eie nie. Hieroor sê sy: “Daar was ’n tyd wat ek vir ’n kort ruk spyt daaroor was, maar ek kry nie meer spyt nie. Vandag is ek ma van die land se kinders.”

En dit is sy inderdaad, want glo dit of nie, Shaleen het onlangs op die sosiale media platform TikTok aangesluit. TikTok is hoofsaaklik ’n video app en baie gewild onder jong mense. Shaleen trek al amper by 13 000 followers! Glad nie sleg vir iemand wat oor ’n maand haar 66ste verjaardag vier nie. Sy lag uit haar maag uit wanneer sy sê sy vertel net grappe op TikTok en die jong mense is mal daaroor. Baie van hulle het grootgeword met haar op TV en geniet dit om op hierdie platform met haar te kan connect.

“Ek het baie liefde in my lewe gehad en sien dít as my grootste blessing ooit. Dit gaan sleg, maar die lewe sal my nie onderkry nie . . .”

Meer oor:  Kuier  |  Vermaak  |  Shaleen Surtie-Richards
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.