Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sielskos: Is hulle régtig bly vir jou?
19 Augustus 2021

Kyk wie van jou vriende is daar vir jou in donker tye en wie wegbly, want dan weet jy wie is jou ware vriende. Maar die lewe het my onlangs ook geleer om te kyk wie saam met jou lag en opreg bly is vir jou wanneer dit goed gaan. Soos Maya Angelou sê: “When someone shows you who they are, believe them the first time.”

Ek is van daardie naïewe mense wat glo diegene naaste aan jou of wat jy al vir baie lank ken, dra regtig jou belange op die hart. Dis nou totdat iets gebeur en ek wreed ontnugter word. Julle wat hierdie rubriek volg, weet ek het al geskryf hoe ek op ’n daaglikse basis sukkel met ’n baie lae selfbeeld.

Dit kom al van kleins af aan, want my waarde as mens, as kind en as jong vrou was nooit affirm nie. Ek neem nie my ouers daarvoor kwalik nie, want ouerskap kom nie met ’n handleiding nie en my ma het my gehad toe sy baie jonk was. So, as ouer het jy beswaarlik “everything figured out”.

Maar ek het nie geken van “ek is lief vir jou”; “ek is trots op jou”; of “jy is spesiaal” nie. Ek dink daai tyd het ons ouers aangeneem as kind weet jy hierdie goed, maar omdat ek ’n woorde-mens is, sou dit ’n groot verskil gemaak het as ek dit gehoor het. Daarom sê ek hierdie goed vandag hardop vir my twee dogters.

Ek wil nie hê hulle moet so desperaat wees vir ander mense om hulle te aanvaar en te affirm dat hulle vir enigiets sal val nie. Want dis wat met my gebeur het. Ek het van jongs af nie baie maatjies gehad nie en selfs in my familie was ek altyd die “outsider”, wat nooit cool of mooi genoeg was nie. So, my sirkel was altyd klein en wanneer iemand my wel aanvaar het, sou ek enigiets doen om daai verhouding te behou. Selfs myself minder maak en hulle laat shine voordat ek weer “alone and out in the cold is”.

Kyk wie saam met jou lag en opreg bly is vir jou wanneer dit goed gaan.

Op hoërskool het ek uiteindelik ’n goeie vriendin gehad en ek het hierdie verhouding regtig gekoester, maar ek het later begin agterkom alles draai net om haar. Al ons gesprekke het gegaan oor wat sý deurmaak; waarmee sý struggle; wat háár gelukkig maak; en nooit oor hoe ek regtig voel nie.

Ek was net haar cheerleader. Vriendskappe wat ek later in my lewe gehad het, het dieselfde patroon gevolg en ek het alewig “klein” gevoel en myself klein gehou tot op die punt waar ek nooit my eie prestasies gevier het nie. Akademie is en was nog altyd vir my belangrik en ek het kliphard gewerk om goeie punte te kry, want opvoeding was vir my die een kans om my lewe te verbeter.

Vir my was daar nie ’n ander opsie as om hard te leer nie – my eie en my ouers se opofferings was eenvoudig net te groot. Daar was nagte wat ek moes om studeer in ons piepklein badkamer, letterlik reg langs die toiletpot, omdat die huis so klein was en die badkamer die stilste plek was. Of in my pa se kar met net die dakliggie as lig, dikwels tot vieruur die oggend met net een uur se slaap voor ek moes regmaak vir skool.

Op universiteit het ek baiekeer honger gely omdat my ouers eenvoudig dit nie kon bekostig om my met baie geld te onderhou nie. Maar ek was elke dag in die klas en saans agter my boeke. Maar wanneer my harde werk vrugte afgewerp het en ek my goeie punte gekry het, kon ek dit nie regtig met my sogenaamde vriende of selfs sommige familielede deel nie, want hulle sou maak asof dit nie saak maak nie.

Dít het seer gemaak en gemaak dat ek al my prestasies onder ’n maatemmer wegsteek. Selfs as joernalis en werkende jong volwassene, moes ek baie hard werk en opofferings maak om te kom waar ek nou is. Vir die eerste keer in die 16 jaar wat ek werk, kan ek eerlikwaar sê dit gaan goed met my. En ook dat al die harde werk wat ek oor die jare ingesit het om myself op te bou, nou begin vrugte afwerp.

’n Groot droom waaraan ek vanjaar baie hard gewerk het, het ook onlangs gerealiseer en ek is so ongelooflik trots op myself. Maar groot was my ontnugtering toe ek dit met ’n paar mense na aan my deel en by een onderdrukte jaloesie waargeneem het. ’n Ander een het dit weer afgemaak as niks besonders nie.

Dis mense wat ek nog altyd ondersteun het en voor ge-cheer het, ongeag of dinge in daardie stadium dalk nie met my so goed gegaan het nie. Want om ander vroue en mense oor die algemeen aan te moedig en opreg bly te wees vir hulle wanneer hulle goed doen, inspireer my. Dit gee vir my hoop dat ons mense die vermoë het om beter te doen as wat hulle self dalk gedink het hulle kan.

Die les wat ek nou weer geleer het, is dat jy nie skaam of skuldig hoef te voel om jouself te vier nie. Wanneer God jou seisoen van voorspoed vir jou gee, is dit jóú seisoen om te geniet en te vier en dankbaar te lewe. En wanneer mense vir jou wys wie hulle regtig is, glo hulle, skud die negatiwiteit af en kap al aan . . .

Vorentoe . . .

Meer oor:  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.