Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sielskos: Moeg tot diep in my binneste
29 April 2021

Ek is moeg. Doodmoeg. Sielsmoeg. En enige ander tipe moeg wat daar is, maar vroue mag dit mos nie sê nie. Ons oumagrootjies, oumas en ma’s het dan kinders grootgemaak, na die huis gekyk en van hulle het nog gewerk ook en hulle het nie gekla nie.

So hoekom moet ek of ander moderne vroue? Wel, want dit gaan nie goed nie en dis tyd dat ek dit hardop sê. Nie om te kla nie, maar om ’n einde te maak aan die storm wat elke dag in my woed oor die alewige voorgee en om die masker op te sit dat alles fine is. Jy kan jouself baie gelukkig ag as jy al jou pligte met ’n smile en huppel in die stap kan doen.

Hopelik kom ek binnekort uit waar jy is, maar ek wil ophou lieg vir myself en maak of ek oukei is, want ek is nie. En ek glo daar is nog vroue daarbuite wat só voel, maar ons is te bang om dit te sê, “want wat gaan ander van my dink?” Dis mos ’n vrou se “werk” om al die goed te doen. Maar hierdie “werk” – gewone werk, huiswerk, kind grootmaak, vrou-wees; ensovoorts kan sy tol eis. ’n Vroulike kennis het onlangs vir my gesê: “Ek is baie lief vir my kinders, maar dit voel ek kan nie meer nie; ek wil nie meer hier wees nie.”

Haar oë was leeg, haar gesig stram en die glow wat ek altyd van haar bewonder het, weg . . . Nóg ’n vrou in my binnekring het gesê: “Mense verwag vroue moenie moeg raak nie; dat ons heeltyd als moet doen, heeltyd sterk moet wees, maar ek is móég . . .” Ek het nie ’n vollengte spieël in my woning nie; net ’n klein spieël in die badkamer om seker te maak ek het darem my gesig reg gewas. Daarom was ek nie voorbereid op die refleksie wat na my teruggestaar het toe ek onlangs vir die eerste keer in maande die haarsalon besoek het nie. Ek het toe vir die eerste keer in ’n baie lang tyd behoorlik na myself in die spieël gekyk.

Ek sal nooit iemand anders só afskeep soos wat ek met myself doen nie.

My skouers het gehang en my vel het so leweloos gelyk. Die wit dele van my oë was bloedrooi en ek het kringe onder my oë gehad. My hare was in ’n toestand (droog en bros) omdat ek dit vir die laaste paar maande verwaarloos het. Ek kon eenvoudig net nie daarvor tyd kry nie en wanneer daar ’n bietjie tyd was, wou ek net op die bank sit of bietjie skuinslê tot die volgende taak verrig moet word.

En toe kry ek skaam, want terwyl die haarkapper haar bes gedoen het om my hare weer na iets te laat lyk, het dit my gedwing om doodstil te sit en aan myself dink. Nie aan die wasgoed wat nog op die lyn hang en afgehaal en opgevou moet word nie; of wat ek vir aandete gaan maak nie; of daai vuil hoekies agter die yskas en stoof waarby ek nog nie uitgekom het nie; of die berg huiswerk waarmee ek my graadeentjie moet help nie.

Só kan die lys aangaan, want vir ’n vrou stop die klok eers wanneer jy almal en alles in die huis en by die werk uitgesort het. My skaamkry het gekom van hoe ek lyk, maar die groter skaamte was omdat ek toe besef, ek sal nooit iemand anders só afskeep soos wat ek met myself doen nie. Ek is in ’n groef waarvan ek nie eens bewus was nie. Dít het ek agtergekom toe ek op twee verskillende geleenthede in trane uitgebars het.

Die een keer omdat ek nie uie in die huis gehad toe ek aandete wou begin voorberei nie en ’n ander keer terwyl ek vir my dogtertjie ’n hot dog roll moes maak. Wie huil oor sulke simpel goed? Maar ek was net so ontsettend moeg – fisies gedreineer omdat ek vroegmôre tot saans laat bedrywig is; en emosioneel uitgeput is omdat daar altyd ’n probleem is om uit te sorteer. Ek het ’n paar weke gelede rock bottom getref toe ek heeltemal beheer oor my emosies verloor en out of character opgetree het.

Dít en daardie oomblik in die haarsalon was vir die my die keerpunt, want ek het besef as jy nie na jouself kyk nie, kan jy nie na ander om jou omsien nie. En belangriker nóg, is om dit wat pla op die naam te noem; dit te face en daarmee te deal, anders gaan jou emosies wees soos tee in ’n teepot waarvan die deksel gaan afskiet as jy nie die druk verlig nie.

So, die skryf van hierdie rubriek is die begin, want soos iemand wat ’n drank- of dwelmprobleem het, moet ek eers aan myself erken iets is fout en dit het ek nou gedoen. Ek weet ook nou ek moet weer begin bid, want ek het ophou gesels met die Here en te “let go, let God”. Ek het ook ligweg begin oefen – net om die adrenalien te laat pomp en op iets anders as my moegheid en emosies van oorweldiging te fokus. En ek oorweeg terapie.

Ek hoop nog ’n moeë vrou daarbuite hoor my en besef sy is nie alleen nie. Ons almal sukkel op ’n manier en daar is g’n skaamte daarin nie. Vra vir hulp en weet jy doen jou bes en dis goed genoeg . . .

Meer oor:  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.