Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Sielskos: Moenie mans oppiep nie
22 Julie 2021

Teen hierdie tyd is dit al ou nuus dat nie alle mans die mas opkom wanneer dit kom by goeie mans of pa’s wees nie. Ons hoef net in ons gemeen-skappe en in ons eie families rond te kyk om te sien hoeveel leemtes goeie mans moes vul.

Die impak van hul afwesigheid het ’n reuse-invloed, nie net op kinders nie, maar ook op die breër samelewing. Ek het ’n broertjie dood aan “pap” mans. Ek praat nie hier van mans wat huil of emosie wys nie. Nee, dit verwelkom ek, want dan weet ons wat krap; wat seermaak en hoe om daai wond te begin gesond maak.

Ek praat van mans wat nie verantwoordelikheid wil vat vir hulself of hul aksies nie en glad nie besef dat hul keuses en dade gevolge het nie. En ek praat ook van mans wat deur die lewe gaan asof iemand hulle iets skuld en wat verwag vroue moet hul hele lewe lank na hulle omsien. Maar ek wil nie net oor mans praat nie, want ’n onlangse gesprek met my man het my gedwing om hard en krities na ons vroue te kyk en hoe ons aandadig is aan die vorming en voortbestaan van die tipe mans van wie ek hierbo praat.

Die probleme kom wanneer ’n ma nie weet wanneer om die naelstring te knip nie.

Ek bedoel, voor ’n man ’n man word, was hy ’n seun wat waarskynlik meestal deur vroue versorg en grootgemaak is. My man was agt jaar oud toe sy pa oorlede is en dit het ’n groot leemte gelaat in sy lewe.

Hy moes self uitfigure wat dit beteken om ’n man te wees. Maar die leemte van sy pa ten spyt, het hy geleer om verantwoordelikheid te vat vir sy dade, veral wanneer hy fouteer het. Hy het die volgende stelling gemaak wat by my vasgesteek het: “Daar is te veel ma’s daarbuite wat die verantwoordelikheid uit hul seuns se hande vat en instaan waar die kind veronderstel is om sy man te staan.”

Ek het hierdie stelling herkou en toe begin ek sien hoe ons as vroue versorging te ver kan vat – tot nadeel van die man wat jy verantwoordelikheid moet leer. Moet my glad nie verkeerd verstaan nie. Ek het die grootste respek vir enkelma’s en wat hulle vermag.

Ek het ’n neef wat deur ’n enkelma grootgemaak is en op wie ek ongelooflik trots is. Sy pa wou hom nooit erken nie, maar nou is hy ’n voorbeeldige gesinsman. Ook in Kuier het ons al ontelbaar baie suksesverhale gedoen van goeie mans, so hulle bestaan. Maar die probleme kom wanneer ’n ma se liefde so oorweldigend is, dat sy nie weet wanneer om die naelstring te knip nie. Myns insiens moet ma’s hul seuns aanspreek wanneer hulle fouteer en hulle die regte manier wys hoe om vroue te behandel.

As ma is jy die eerste vrou wat jou seun sal liefhê, en jy moet hom leer hoe om die regte tipe liefde te gee en te ontvang. Lees dit weer en dink aan wat dit beteken. Dink aan die aantal jong mans wat kinders verwek; die swanger meisie los en dan aangaan met hul lewens asof niks “groots” gebeur het nie.

Gewoonlik is die oumas die mense wat verantwoordelikheid vir die kleinkind vat, terwyl die seun sy beste lewe leef en sommer nog ’n paar kinders by maak.

Dink aan daai mans wat al groot is, maar nie werk nie (weens omstandighede of omdat hy lui is) en wat verwag sy ma moet nog vir hom brand-name-klere en -skoene én sakgeld gee. Of dié wat in die huis bly en nie van plan is om sy eie potjie iewers te krap nie of hy krap die potjie, maar net tot agter in jou jaart.

En erger nóg, die wat vroue mishandel en ons kyk anderpad toe. Die eerste kind vir wie ek lief was, was my bababoetie en ek weet die liefde vir ’n seun is iets anders. Ek was soos sy tweede ma.

Ek het ná skool na hom gekyk en kliniek toe gevat vir sy inspuitings; ek het hom skoongehou en gesorg dat hy eet en sy bottel kry; ek het sy lapdoeke uitgewas; en saans het hy gehuil om by my aan die slaap te raak. My hart trek tot vandag toe op ’n punt as ek onthou hoe hy sy onderlippie uitgedruk het voor die groot huil gekom het – net om by my aan die slaap te raak.

Toe ek sien hierdie einste jong man begin grootword en begin dinge doen waarmee ek nie altyd saamgestem het nie, het ek ook gesê: “Ag, los hom. Hy is maar só. Hy sal nog regkom”. Ek weet ek het hom nie reggehelp toe ek moes nie; ek weet ek het hom ook opgepiep toe “tough love” die antwoord was, maar dit voel soms of ons as vroue so afhanklik is van mans (groot of klein) se goedkeuring dat ons bereid is om ons blind te hou as hulle verkeerd handel.

As vroue dra ons dikwels meer op ons skouers as wat regverdig is en word ons boonop mans se slagoffers in gevalle van gender based violence. Ons verdien eintlik toekennings net omdat ons nog lewe en oorleef. Maar so goed as wat ons doen om ons kinders met moeite groot te maak, moet ons ook deel van die verantwoordelikheid vat vir die manier – goed of sleg – hoe seuns wat óns grootmaak, uitdraai.

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Rubriek  |  Sielskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.