Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Skoolwerk: Is jou kind lui of het sy ’n leerprobleem?
1 April 2021


Kinders met leerprobleme is nie ’n onbekende verskynsel vir ouers of onderwysers nie. Inteendeel, ná die stormagtige skooljaar wat 2020 was, is ouers baie meer bedag op kinders se leerpatrone en -probleme.

Die grootste kwessie is egter dat ouers maklik verkeerdelik kan glo hul kinders is net lui en sukkel nie regtig met leerprobleme nie. So die tergende vrae waarmee baie ouers worstel, is wanneer en hoe besef jy jou kind het leerprobleme? En hoe gemaak as jy dink die kind is net lui?

Identifiseer probleme

Kuier het met ouers en kenners gaan gesels om uit te vind hoe jy by die wortel van die probleem kan uitkom en wie om te nader indien jou kind hulp makeer. Almal is dit egter eens oor een ding: elke kind is uniek en jy moet jou ouerlike instink vertrou wanneer iets nie reg voel nie.

Melissa Smith (33) van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte vertel haar 12-jarige seun sukkel al sedert sy kleuterskooldae om te konsentreer. “Gedurende kleuter-skool in konsultasies met sy onderwyser, het ons gesien hy is in sy eie klein wêreld. Hy het gesukkel met konsentrasie en sou uit die bloute in die klas spotprentkarakters naboots. Ek het gedink dit is iets wat hy sal ontgroei.”

Dié mammie het egter in graad twee agtergekom haar kind is duidelik stadiger as sy eweknieë. “Stadiger in terme van die verwerking van wat hy voor hom sien. Tydens ’n les kan hy nie ’n taak in die klas voltooi nie en het hy in die algemeen gesukkel om sekere vaardighede ten opsigte van akademie aan te pak. Dit was duidelik dat hy nie na graad 3 kon gaan nie, omdat hy in daardie graad nóg meer gaan sukkel. Dit was toe dat hy die jaar moes herhaal.”

Melissa se moederlike instinkte het ingeskop en sy het haar kind na ’n arbeidste-rapeut geneem en hom ook laat assesseer deur ’n opvoedkundige sielkundige. Sy het ook na medikasie begin soek wat haar seun kon help met sy konsentrasie.

“Ek het ondersoek ingestel en gekyk na die newe-effekte van dié soos Concerta en Ritalin – dit het my nie aangestaan nie. En dit is toe ons GP voorstel dat ek hom op KeenMind sit.”

KeenMind is ’n natuurlike medisyne wat klinies bewys is dat dit geheue, konsentrasie en leerbehoud ondersteun. “Hy was nog altyd ’n kind wat lief is vir instruksies uitvoer as dit kom by sportaktiwiteite of om iets in die kombuis te maak, ensovoorts. Ek het besef hy is meer prakties as akademies aangelê. Al het hy daarin geslaag om sy akademiese werk mooi te verbeter sedert die hulp van die aanvulling sowel as ondersteuning van sy familie.”

Ben Truter, ’n kliniese sielkundige en direkteur by die Neurodiversity Centre, sê wanneer dit kom by leerhindernisse is dit nuttig om op die waardevolste bron van almal te vertrou – die waarnemings en bekommernisse van die ouers self.

“Hoewel die formele identifisering, diagnose en klassifikasie van enige leerprobleme slegs deur formele assessering by ’n geskikte professionele persoon gedoen kan word, is dit die ouer se bekommernisse wat die belangrikste beginpunt is.”

Hy sê daar is baie ontwikkelingsverskille en probleme wat die ervaring van ’n kind kan beïnvloed. “Dit kan wissel van spesifieke leerontwikkelingsprobleme (soos disleksie) tot ADD (aandagafleibaarheid), spraak- en taalprobleme en vertragings, outisme-toestande, ontwikkelingskoördinasie uitdagings en ’n magdom ander, minder bekende behoeftes wat identifiseerbaar is. As dié ontwikkelingsbehoeftes nie gesien of erken word nie, kan die impak daarvan op die latere ontwikkeling van ’n kind beduidend wees.”

Tog waarsku Ben ouers dat elke kind uniek is. “Ideaal gesproke is die raadpleeg van ’n pediatriese neuroloog of ’n ontwikkelingspediater perfek om by die wortel van die probleem uit te kom, maar dit is nie altyd toeganklik of bekostigbaar nie. Die belangrikste faktor is om hulp en advies in te win by ’n professionele persoon wat spesialiseer in en opleiding het in die ontwikkeling van kinders. “

Hy sê ouers moet hul ouerlike instink vertrou wanneer hulle onraad vermoed. “Hoe hulle speel, hoe hulle kommunikeer, hoe hulle hulself uitdruk en ervaar – en dit is dikwels verweef en moeilik om uit te ken. Erken wanneer jy bekommernisse het en vertrou in jou ouerlike instink.” Ben raai ouers dan aan om so gou moontlik hulp te soek as hulle oplet iets is fout.

As dié ontwikkelings- behoeftes nie erken word nie, kan die impak daarvan op latere ontwikkeling beduidend wees.

Raadpleeg kenners

Sheree Williams (36) van Bellville in die Kaap vertel sy het in 2018 besef haar negejarige seuntjie het leerprobleme. “Om eerlik te wees, ek het aanvanklik gedink hy is net lui. Verlede jaar het dit erger geword omdat die kinders baie relaxed geraak het en hul breine het nie veel oefening gehad nie. Ja, my kind het gesukkel met ’n spraakprobleem, maar ek het aangeneem dit sal met tyd verbeter.”

Sy het toe haar kind na ’n spraakterapeut geneem. “Ná die eerste twee sessies het hy duideliker begin praat en hy kon ook beter verduidelik wat die juffrou van hom verwag het. Hy het egter steeds ’n agterstand gehad en moes sy graad-twee-skooljaar herhaal. Ek was baie ontsteld omdat ek gevoel het die onderwyser moes al in sy eerste jaar opgetel het hy het ’n probleem.

Sy het my nooit eens gekontak om te laat weet hy sukkel nie. As ek nie self met my kind deur sy skoolwerk gegaan het nie, sou ek nooit geweet het hy het eintlik ’n probleem nie, want ook die onnie het aanvaar hy is net lui.” Dié mammie vertel haar kind het ook intussen ’n arbeidsterapeut gaan sien om hom te help met sy luistervermoë.

“Ons openbare skoolstelsel is propvol en in sommige gevalle is dit moeilik om kinders raak te sien wat sukkel om te lees of te leer. Daarom sê ek steeds dit is belangrik dat ouers oop kaarte met die onderwysers speel en vice versa. Op dié manier kan dinge net verbeter en ons kan saam ons kindertjies help.”

Volgens Onnies Online, ’n webtuiste met hulpbronne vir onderwysers, sê kinders se leerprobleme is nie net iets wat leerders benadeel nie, maar dit is ook ’n groot uitdaging vir onderwysers wat hierdie leerders die beste kans op ’n suksesvolle toekoms wil gee. “Nadat leerders gediagnoseer word met ’n leerprobleem, is dit altyd ’n moeilike besluit vir ouers om hul kind te los in die hoofstroomskool of te skuif na ’n skool waar die leerder individuele aandag en hulp kan kry.“ Die realiteit is egter dat spesiale skole baie duur is.

“Gelukkig kan tegnologie tot ons redding kom. Al het die skool nie tablette vir die leerders nie, kan toestelle by die huis gebruik word. ’n Ander voorstel is ook om juis hierdie leerders toe te laat en aan te moedig om wel ’n tablet of ’n ander tegnologiese toestel skool toe te bring om op te werk,” raai Onnies Online aan.

Die webtuiste verduidelik voorts hoekom dit die gebruik van toestelle aanmoedig. “Leerders kan die skrif en grootte van die skrif op ’n toestel aanpas, wat help dat leerders dit beter kan lees. Leerders met leerprobleme reageer dikwels beter op ’n spesifieke skriftipe en daarom kan dit help om die skrif aan te pas.

Toetse en eksamens kan ook opgeneem word en leerders kan eerder luister na hoe die toets gelees word, in plaas daarvan om dit self te probeer lees. Dit bied hulle ook die geleentheid om deur die gebruik van oorfone terug te gaan na vrae wat hulle nie verstaan het nie.”

Die spreekwoordelike frase lui: ‘It takes a village to raise a child” en as ouers, kenners en onderwysers saamwerk, kan kinders met leerprobleme lag-lag (of leer-leer) dié probleme die hoof bied!

Meer oor:  Concerta  |  Kuier  |  Leerprobleme  |  Ritalin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.