Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Skoonmaker swot onderwys
1 April 2021
Edwina Stevens


Sy moet altyd ’n beter jy probeer wees en moenie toelaat dat enigiets of enigiemand jou aftrek nie. Dít is hoe Edwina Stevens (36), ’n skoonmaker en onderwysstudent wat grootgeword het op die Kaapse Vlakte, vandag haar lewe lei. Maar haar lewe was nie altyd maklik nie en sy het nie altyd geweet waar daar ’n wil is, is daar ’n weg om uit jou slegte omstandighede te ontsnap nie.

En só het Edwina haar matriek op 35 voltooi terwyl sy as kassier gewerk het. En nou werk sy as skoonmaker terwyl sy haar bekwaam as ’n onderwyser. “My grootwordjare in Lavender Hill was alles behalwe maklik. My ma, Mildred January, ’n masjinis, was ’n enkelouer en ons was baie arm.”

Edwina vertel daar was dae wat sy en haar twee susters nie eens geweet het wat hulle vir aandete gaan eet nie, maar haar ma het altyd ’n plan gemaak en haar bes probeer om kop bo water te hou. Soms het hulle nie eens elektrisiteit of selfs ’n dak oor hul kop gehad nie. Sy erken as kind het sy haar ma blameer, maar vandag het sy soveel meer insig en verstaan haar ma het haar heel beste probeer, maar dit was nooit maklik nie. “Ek is ontneem van soveel dinge in die lewe en dis net deur die genade van God dat ek tot hier gekom het.”

Sy werk as skoonmaker.

In Edwina se matriekjaar, toe haar ma maar 48 was, het die moeilike lewe en die spanning van enkelma wees, vir Mildred ingehaal en het sy ná ’n siektyd gesterf. “Ek moes haar versorg omdat beide my susters reeds getroud en uit die huis was. Ek het matriek gedop en nie eens daaraan gedink om terug te gaan en weer te probeer nie.” Ná haar ma se dood beskryf Edwina haar lewe as ’n doodloopstraat.

“Ek het begin drink, rook en in klubs uitgehang – al die verkeerde dinge gedoen. Ek het ’n punt bereik waar ek nie eens geweet het waar my volgende maaltyd vandaan sou kom nie. Ek het van dag tot dag oorleef, so half deur die lewe gesweef sonder doel of motivering.”

Rowwe tyd

Sy beskryf Lavender Hill as ’n plek sonder hoop of geleenthede. “You just go with the flow. Dis ’n plek waar bendegeweld op hoëgraad plaasvind. Dis oral. Saans moet jy op die vloer slaap omdat daar so baie skietery om jou plaasvind, vreesbevange dat ’n koeël deur die venster gaan kom.” Oortuig dat haar lewe nie veel betekenis het nie, het Edwina haarself oorgegee aan drank en partytjies.

“Dit was regtig ’n slegte tyd. Ek kon nie werk kry nie. Daar was net niks. Oor naweke, by partytjies is almal jou vriend, maar wanneer jy Maandagoggend wakker word, is jy sielsalleen en honger. Drank laat jou net daardie oomblik van jou omstandighede vergeet, maar wanneer die son opkom, skop die onverklaarbare realiteit weer in.”

In ’n stadium was Edwina in so ’n diep gat van depressie en hulpeloosheid, dat sy selfmoord oorweeg het, maar ten spyte van haar omstandighede, was daar tog ’n innerlike krag wat nooit vir Edwina toegelaat het om werklik op te gee nie. Sy vertel nadat sy haar man, Weldon (33), ontmoet het, het haar lewe stelselmatig begin verander.

Styg uit jou omstandighede. Net omdat jy van Lavender Hill is, beteken dit nie jy is Lavender Hill nie.

“Aanvanklik het ons saam geparty, maar hy was daardie een wat besef het dis tyd om groot te word. Hy het altyd my probeer motiveer en gesê: ‘Kom ons probeer ons lewens verbeter. Kom ons probeer om iets te doen en om uit ons omstandighede te kom. Hierdie pad waarop ons nou is, lei na nêrens.’ ” Dit was eers nadat Weldon amper opgegee het op haar en hul verhouding, dat Edwina die lig begin sien het, begin besef het sy sal moet verander. “Ek het weer begin kerk toe gaan, maar steeds partytjies geniet. Stukkie vir stukkie het ek probeer om weer die stukke van my lewe te bou en te verander.”

Edwina was nog nie op die regte pad nie, maar sy het begin probeer. “Weldon het steeds weggebly van my af. Een dag het ek in my dronkenskap besef dit is nie die lewe wat ek wil lei nie, of wat ek vir ons seun, Tyler (nou 11), wou hê nie. Ek sou iets moes doen om ’n beter lewe te hê vir my seun. Dit het my baie jare gevat om dit werklik te besef en ’n daadwerklike poging aan te wend om uit my omstandighede te kom. Ek moes óf nou my lewe verander, óf dinge gaan lelik skeefloop vir ons.”

Sy het opgehou drink (en erken dit het ’n paar probeerslae gevat) en nooit weer teruggekyk het nie. “Ek het ’n paar jaar laas aan ’n drankie of ’n sigaret gevat,” vertel sy. Wonder bo wonder het sy en Weldon weer bymekaargekom nadat sy haar lewe reggeruk het en ’n paar maande ná hulle getrou het, het Edwina werk gekry by Spar as ’n kassier, waar sy vir vier jaar gewerk het. Die paartjie is nou al sewe jaar gelukkig getroud. “Hy is my steunpilaar en moedig my altyd aan om ’n beter ek te word!” gons Edwina.

In 2016 het Edwina besluit om haar matriek te voltooi. “Ek het besef dit is tyd om iets te doen met my lewe en wou uiteindelik onderwys studeer.” Terwyl sy bedags by Spar gewerk het, het sy saans aandskool bygewoon. Sy het begin met twee vakke, maar dit gedop en moed opgegee. “Vir twee jaar het ek opgegee, maar Weldon het my altyd steeds aangemoedig. My man, sy suster en haar man het altyd in my geglo, selfs toe ek nie meer het nie.”

Probeer haar bes

In 2018 het Edwina uit haar werk as kassier bedank en as skoonmaker begin werk in ’n gastehuis in Glencairn, ’n Kaapse woonbuurt. In 2019 het Edwina weer asem geskep en besluit nóú is sy werklik gereed. “Ek het al vier vakke geneem wat ek nog nodig gehad het, terwyl ek steeds voltyds gewerk het,” vertel sy trots.

Hierdie keer het sy nie weer aandskool bygewoon nie, maar die berg van ’n taak self aangepak. “Ek het op my eie studeer. My pastoor en my baas het vir my handboeke gegee en nag ná nag het ek studeer. Ek het vraestelle van die internet afgekry en hierdie keer my alles gegee. En glo dit of nie, ek het al my vakke deurgekom – op my eie!”

Edwina en haar man, Weldon.

Aanvanklik het sy nie geweet wat sy wou doen nie, maar het deur haar vrywillige werk by die kerk ’n passie ontwikkel vir kinders en het besluit sy wil ’n Graad R-diploma (vlak 7) in onderwys studeer deur Lyceum College, ’n afstandsonderriginstansie. Dit is ’n driejaarkursus. Sy sal graag ook ’n addisionele twee jaar by ’n universiteit wil studeer om haar graad in onderwys te behaal.

“Niks gaan my nou stop nie! Wie weet, dalk doen ek nog my honneurs ook!” lag sy. “Dit was nie ’n maklike besluit nie omdat daar geen finansiële hulp beskikbaar was nie, geen beurse nie, so al die finansies moes uit my man en my bankrekeninge kom. Dit gaan soms maar baie broekskeur! Maar, net deur die genade van God het ek in 2020 my eerste jaar voltooi met vier distinctions en is tans besig met my tweede jaar.

Kort hierna het ek ook my leerderrybewys gekry, so 2020 was eintlik ’n goeie jaar vir my. Alles het so vinnig gebeur! Ek sou nooit kon dink Edwina van Lavender Hill sou ooit soveel sukses kon behaal nie. Dit is so ’n ongelooflike gevoel!” Wat haar uit haar omstandighede gehelp het, was volgens haar die ondersteuning wat sy by haar man, sy suster en dié se man ontvang het. “Hulle het my gemotiveer om te prosper in die lewe.

Staan net op, verbeter jouself en doen iets.” Haar boodskap aan ander, is dat dit nooit te laat is om ’n droom te kry en na te volg nie, maak nie saak wie of wat jy is, en waar jy vandaan kom nie. “Styg uit jou omstandighede. Net omdat jy van Lavender Hill is, beteken dit nie jy is Lavender Hill nie. Daar is geleenthede. Kry ’n droom. Hou jou oog op die prys. Moenie terugkyk nie, bly glo en bly op jou knieë.”

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.