Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tracey trou: Pragfoto’s van haar spesiale dag
12 November 2020
Avukile is rêrig iemand op wie ek kan staatmaak en wat sy beste gee in alles wat hy doen.

Lockdown het beslis nie vir Tracey Lange (35), almal se gunsteling-radio-omroeper en -aanbieder van die gewilde kykNET&kie-kletsprogram Tussen Ons, teruggehou nie! Inteendeel, sy het aan die begin van Oktober ewige trou belowe aan haar jarelange kêrel, Avukile Mabombo (37), in ’n intieme seremonie in Kaapstad.

Hulle het die dag deurgebring op ’n toer deur Kaapstad en het plek-plek gestop om foto’s te neem voor hul pragtige onthaal by die Old Foundry Hotel. Avukile het ’n statige navy blou pak, bruin skoene en ’n grys onderbaadjie aangehad, terwyl Tracey gestraal het haar skitterende sjampanje-kleurige kuitlengtekantrok wat Anene Ferreira van Ferreira Couture in net 26 dae gemaak het!

Die paartjie het agt jaar gelede ontmoet by ’n gemeenskaplike vriend se verjaardagpartytjie en is nou al ses jaar saam. Hulle het verlede jaar verloof geraak. “Ons het op 28 Augustus vanjaar besluit ons gaan trou, nadat die president die land weer toegespreek het,” vertel Tracey opgewonde. “Toe ons besluit, het ons net gehardloop met die planne!

Só lyk hul ringe.

Gelukkig het Avukile al verlede jaar ’n mood board aanmekaargesit vir hoe hy wou hê die dag moes lyk en ek dink ons het 99% daarvan gekry! Ek dink dis 100%, maar ek is seker Avukile sal sê daar is hier en daar iets wat hy ’n sekere manier sou wou hê,” lag sy. Tracey is iemand wat oor die algemeen altyd haar beste gee en doen, en met die beplanning van haar troue, was dit dieselfde. “I do the best and I let God do the rest. Ek was glad nie gestres of gespanne nie. Ons het ons wedding planner en venue nege dae voor die geleentheid verander en selfs dít het so maklik gebeur. Daar was geen drama van enigeen nie en wat wonderlik was, is dat ons hele bridal party bestaan het uit mense wat net die beste vir ons en ons gaste wou hê. Hulle was fantastiese gashere en gasvroue en het dit so lieflik moontlik vir al die gaste gemaak. Dit is verbasend hoe dinge is as jy net vertrou en nie heeltemal net dinge op jou manier wil hê nie.”

Nege dae voor hul troue het Tracey en Avukile ’n venue nodig gehad vir hul “pre-ception” – ’n gesamentlike bachelor- en bachelorette-partytjie sodat hulle 50 van hul vriende kon nooi. Tracey is toevallig in daardie stadium deur The Old Foundry Hotel gekontak om te hoor of sy en Avukile die hotel se FitPods wil probeer.

“Met die uitnodiging het Avukile gesê ek moet vra oor een van hul venues (hulle behoort aan die Ideas Cartel-groep) in die Kaap vir die pre-ception.” Die koste van die venue was meer billik en hul nuwe troubeplanner, Hanri van Glee Events, het dadelik besef die venue is ideaal vir alles wat Avukile reeds in sy gedagtes en mood board het.

“Die hele span by die hotel was fantasties, vanaf die pre-ception en met die troue het hulle alles so maklik gemaak en uit hul pad gegaan om ons gaste ’n heerlike tyd te gee!” vertel Tracey opgewonde. Die troudag self was, volgens Tracey, 20 keer beter as wat sy ooit sou kon droom. “Geen groot sake en pomp en circumstance nie – eenvoudig, pret en die belangrikste mense wat deel was van die dag.”

Avu en Tracey is dolgelukkig.

Bittersoet

Sy vertel verder Avukile se oupa, Mda Mda (97), het die mooiste toespraak gemaak. “Hy het al die pad van Mthatha gekom en ek was so bekommerd dat hy nie daar sou wees nie, maar hy het dit nie gemis nie en dit ook duidelik gemaak dat hy oud raak en dat hy darem nog ’n agterkleinkind sal wil sien!” lag sy weer.

Al die vreugde en liefde van hul troudag het ook ’n effens bittersoete oomblik gehad – die feit dat Tracey se geliefde pa, Colin Lange, nie saam met haar in die aisle kon afstap nie. Colin is verlede jaar die dag voor sy 71ste verjaardag, oorlede. Haar troudag vanjaar sou sy 72ste verjaardag wees.

“Die datum was baie groot vir ons – dit was van die begin af ons datum, so dit het goed gewerk. My stilis, Kyra Loubser, het ook met my pa se afsterwe gesê ons moet van sy dasse hou vir die troue. Ons het toe een van sy dasse gebruik om om my bouquet te sit. Dit het gevoel asof hy heeldag my hand vashou,” vertel sy.

“Maar ek het ’n bridal party gehad wat so aan my kant was en dinge goed aan die gang gehou het, terwyl hulle hom ook al die pad onthou het, wat dit so mooi en lieflik gemaak het.” Sy weet haar pa sou die troue terdeë geniet het. “Hy sou heeldag met almal gepraat het en vriende gemaak het met almal wat hy nie ken nie!” Tracey sê Colin was mal oor Avukile.

“Hulle is baie dieselfde omdat hulle net stil en rustig sit, so hulle kon net rustig by mekaar sit. Avukile praat ook nie te veel nie, net as hy baie gemaklik is met mense. Hy lag maklik en neem homself nie te ernstig op nie. Ek is baie bly dat hulle mekaar kon leer ken. Dít maak my die blyste!”

Tracey kyk na ’n foto van haar en haar oorlede pa.
Tracey en haar bridal party.
Tracey en Avu dans by hul onthaal.
Tracey en Avu sny hul troukoek van Sassy Bakes.
Sy het een van haar pa se dasse om haar bouquet gedraai.
Tracey en Avukile se ma’s, Theresa en Nyameka.
Avu en sy strooijonkers.


Avukile

Sy raak skielik ernstig en sê: “Avukile is rêrig iemand op wie ek kan staatmaak en wat sy beste gee in alles wat hy doen. Hy verwag die beste en hy gee die beste. Hy glo dat ons almal self vir ons sake verantwoordelik is en ons nie altyd mense kan blameer vir goed nie. Ons kan net ons reaksies op gebeure hanteer. Hy glo daaraan om te bou en hy is regverdig en as ek moeg is van baklei vir die regte ding, dan moedig hy my aan om deur te druk en aan te hou deure oopmaak vir jonger mense.”

Avu, uitgevat in sy blou pak.

Volgens haar is Avukile ’n go-getter wat nie wag vir dinge om te gebeur nie. “Hy láát dinge gebeur en in die proses skep hy soveel geleenthede vir ander ook. Hy verstaan my hardwerkendheid en staan nooit in die pad van my werk nie. Hy sien altyd die positiewe, maar kan goed veg as dinge onregverdig is. Hy wil die beste vir almal hê en het die wêreld se geduld. Hy blameer ook nie ander as dinge verkeerd gaan nie, hy probeer altyd ’n plan maak. Hy probeer ook brûe bou waar hy kan en soos ek, het hy nie tyd vir mense wat heeltemal te veel van hulleself dink nie.”

Volgens Tracey het die lewe as ’n “mevrou” haar nog nie juis verbaas of geskok nie. “Oor die algemeen is ek ’n baie eenvoudige mens wat baie min verwag – ek laat self dinge gebeur, maar van mense verwag ek nogal min. So getroud-wees voel redelik dieselfde.” Sy het tot dusver egter geleer dat alles op die ou einde uitwerk.

“Jy moet net partykeer laat gaan van die eerste idee wat jy in jou kop het en oop wees vir enige ander verrassings wat oor jou pad mag kom.” Iets waaroor Tracey tog verbaas is, is dat haar TV-baba, Tussen Ons, ’n wegholsukses is. “Ek weet my pa sou trots gewees het op my – hy het dit gedurig vir almal gesê en vir almal laat weet wanneer ek op die TV gaan wees en as hulle moet kyk! Dit is fantasties dat ons nou vier dae per week op die kassie is en dat ons nou nog meer mense só kan bereik en vir mense die geleentheid gee om daagliks ’n bietjie van die slegte dinge te kan vergeet.”

• Hou Kuier se Facebook-blad dop vir ’n video van hul troue, wat Tracey en Avu spesiaal vir Kuier-lesers gaan wys.


Avukile se 7 lewenslesse van trou in ’n pandemie

Avukile dink selfs ná die pandemie sal daar waarde wees in ’n heroorweging van hoe ons oor troues dink.

• Weet hoe om verskillende opinies te hanteer. “

Om jul idees en visie saam te smelt op ’n vreedsame wyse is bitter belangrik. Onthou, die een se opinie is nie belangriker as die ander s’n nie.”

• Fokus op jou sterkpunte. “Ons wou ’n stadstroue hê omdat dit so ’n sentrale deel van ons lewens is. Omdat ons graag reis, wou ons dit ook deel maak van die dag. Daar is niks fout daarmee vir die bruidegom om mood boards te maak en strooimeisierokke uit te kies nie.” Hy verklap Tracey het van die begin af gesê sy is gelukkig daarmee dat hy alles hanteer.

• “Jy moet besef wat ook al jy wou gehad het, gaan tien teen een nie gebeur soos jy beplan het nie. Wees aanpasbaar en oop vir nuwe oplossings.”

• “As jy nie baie mense mag nooi nie, sal jy moet besluit met wie jy graag die dag wil deel. Dit beteken jou gevolg en mense na aan jou sal hand moet bysit.”

• Eenvoud is belangrik. “Dit beteken nie jy moet compromise op kwaliteit en die ervaring nie. Bevraagteken hoekom jy iets wil doen. As dit nie vir jou werk nie, verander dit.”

• Moet dit nie uitrek nie. “Ons het ons troue in 32 dae aanmekaargesit.”

• Liefde kos niks. “Almal wil ’n ongelooflike trou-ervaring hê, maar ongelukkig assosieer baie van ons ’n duur troue met ’n wonderlike ervaring. Die enigste ding wat werklik saak maak, is met wie jy die dag deel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.