Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Tussen Ons se wenspan
21 Augustus 2019

Vanaf die eerste oomblik dat die geselsprogram Tussen Ons op kykNET&kie begin het, was geen Donderdagaand ooit weer dieselfde nie!

Donderdagaande 20:00 het die aand geword waar vroue (én mans) aan die gasvroue Tracey Lange, Ingrid Jones, Kay Karriem, Success Lekabe en Zelda la Grange se lippe hang.

Die program, wat onlangs hul eerste verjaardag gevier het, het ook reeds in ’n kort tyd groot hoogtes bereik toe dit vroeër vanjaar met ’n ATKV Mediaveertjie vir die Beste Vermaaklikheidsprogram bekroon is. Dit is dus geen geheim dat die program uiters gewild is en die gasvroue nóg meer nie, daarom het ons, met behulp van lesers, daardie vrae vir Tracey-hulle gevra waaroor baie wonder:

Is daar rêrig koffie in daai bekers? En wanneer kom julle Namibië toe?

Tracey: Meestal water vir my, maar te danke aan Mrs Jones ook partykeer gemmer-en-suurlemoentee.

Ingrid: Water!

Kay: Ongelukkig ja, geen alkoholiese bewerasies vir ons nie, tensy ons ’n knertsie moet proe as deel van die show.

Success: Daar is water, koffie en tee. Dit hang af waarvoor jy lus is. Dit sal heerlik wees om Namibië te besoek. Ek sal wag vir die uitnodiging.

Zelda: Koffie? Hoekom vra julle nie eerder of dit regtig drank is nie?

Kuier julle ooit bymekaar in jul persoonlike kapasiteit? Wie van julle is close?

Tracey: Ek wens daar was meer tyd om te kuier, maar almal het uiters besige skedules, so dis nie moontlik nie. Ek dink ek is die naaste aan Ingrid en Kay omdat ek ook meer tyd met hulle spandeer.

Ingrid: Ons het ’n WhatsApp-groep waar ons kuier. Ek is baie na aan Kay en Tracey.

Kay: Ek bewonder al die ander gasvroue, elkeen bring haar eie bietjie magic en daarom werk dit. Maar ons kan nie regtig bymekaar kuier nie, want almal se skedules is maar dol. En ek wens elke dag ek was so slim soos Mrs Jones!

Success: Nie rêrig nie. Almal van ons het baie besige skedules, maar wanneer daar ’n geleentheid is om iets saam te doen, is dit altyd opwindend. Ons is ’n hegte groep. Nie net kollegas nie, maar sien mekaar ook as vriendinne.

Zelda: Ons het almal ons eie lewens en daar is maar min tyd vir kuier.

As almal van julle een uur met iemand kon gesels, wie sou julle kies?

Tracey: Ek dink beslis Jawaahier Petersen om oor alles te praat wat sy van haar pa geleer het en hoe ’n mens so ’n moeilike situasie oorkom.

Ingrid: Billy Porter (’n Amerikaanse Broadway-teaterkunstenaar, sanger en akteur)

Kay: Ek weet nie van die ander dames nie, maar ek sal Madiba en Oprah kies.

Success: Thuli Madonsela. Sy sal verseker die breinselle prikkel . . .

Zelda: Madiba

Hoe kan ons vroue tyd maak vir alles?

Tracey: ’n Mens kan nie elke dag alles vir almal wees nie. Balans is baie keer ’n klug. Ek streef balans na – van beste dogter wees vir my ma as sy my nodig het en die dae wat ek kan; dan ander dae ’n goeie suster; dan ander dae ’n wonderlike meisie en dan ’n goeie vriendin vir my vriende, maar ek kan dit nie elke dag doen nie. Ek probeer ’n goeie mens wees en dan op sekere dae net nog ekstra vir baie wees. Dis hoe ek dit vir my laat werk. Ons almal moet vind wat vir ons werk.

Kay: Ek dink nie dis haalbaar om altyd vir absoluut álles te probeer tyd maak nie, maar deur te prioritiseer kan jy baie gedoen kry. Doen wat belangrik en dringend is. Ons moet leer om nie altyd alles te wil doen nie en te laat gaan wat regtig nie doodsake is nie.

Success: Stel doelwitte. Prioritiseer. Doen dinge stap vir stap en baie belangrik gun jouself tyd om te rus.

Zelda: Hoe vroeër jy in jou lewe besef jy kan nie alles vir almal wees nie, hoe beter. Dis een kuns, maar om dit te kommunikeer is iets anders. ’n Mens moet presies sê hoe jy voel te alle tye anders gaan die lewe jou verdruk en jy gaan diep ongelukkig wees omdat jy heeltyd ’n stryd gaan voer teen al die aanslagte van vrouwees.

VRAE VIR TRACEY

Tracey Lange is die hoofaanbieder van die program.
Hoe juggle jy alles?

Ek sit en doen net. As ’n mail ’n antwoord nodig het, sal ek seker maak dit kry binne 24 uur ’n antwoord en ek maak seker ek gaan deur alles in my to-do-lysie van elke dag. As ek iemand vir iets gemail het of gevra het, maak ek ’n nota om in twee weke op te volg. Ek dink nie te veel nie, ek doen dit net.

Het jy al ooit ’n vaste werk gehad? (Soos in 9 – 5)?

Ek het jare terug voor ek met radio begin het! Ek het as regsekretaresse gewerk by ’n regsfirma vanaf 19 – 22 jaar oud, dis ook die firma wat aangebied het om vir my studies te betaal en toe was ek regsekretaresse vir ’n eiendoms-ontwikkelaar.

Vertel van ’n keer toe jy jou heeltemal met iemand/’n situasie misgis het en hoe het jy dit toe gered?

Al ’n paar keer, maar omdat ek so maklik vir myself lag en nie daaroor jok nie, lag die mense saam met my.

Watter foute maak mense wanneer hulle hul brand probeer bou?

Hulle dink heeltemal te veel aan hoe hulle hulself moet voorhou vir ander. Wys net die waarheid waarvan jy hou en wat jy geniet en wat jy rêrig doen. Jou brand word gebou deur die werk wat jy doen, nie net alles wat jy op social media sit nie.

Wat is jou slimste sakebesluit ooit?

Om in klein besighede te belê met my kêrel.

Praat jy en jou kêrel al van trou en watter soort troue sou jy eendag wou hê?

Ons praat al jare van trou, maar ons albei het baie duidelike doelwitte wat ons wil bereik voordat ons daardie stap sal neem. Ek sou verkies om iets klein en intiem te hê met net familie en baie close vriende, maar Avu soek ’n partytjie! Ons het al ooreengekom dat hy alles sal reël.

Wat is die geheim van ’n suksesvolle flou joke?

Om sommer net self daarvoor te lag!

VRAE VIR INGRID

Ingrid Jones
Hoe behou jy ’n gesonde en positiewe gedagte as jy oud word wanneer niemand meer twee keer na jou kyk nie en almal net so besig is?

Ek het oor jare belê in vriendskappe met mense wat my na aan die hart lê en ek hoop dat die belegging dividende sal lewer. Ek vermoed ons sal dalk ’n kommune betrek waar ons almal sal saamwees.

Verlang jy juffrou-wees?

Elke dag, so ek probeer dit in my werk toepas. Maar ek gaan definitief weer skoolhou as ek sestig slaan.

Hoeveel mense sing of reference die song “Me and Mrs Jones” as hulle jou ontmoet?

Mense dink seker ek het nog nooit die lied gehoor nie! Miskien dink hulle ek is ’n idioot. Ek sê deesdae dat hulle assefokkenblief tog ’n ander liedjie moet probeer: “Have you seen my wife, Mr Jones” van die Bee Gees.

Wat dink jy is die ding wat vroue, en veral bruin vroue, nog terughou?

Hulleself. Niemand gaan vir ons ’n pas na volle toegang gee gegewe die stereotipering wat daar oor ons bestaan nie. Hou op wag op ’n kaptein, span jou eie seile.

Watter groot les het jy jou dogter geleer?

Ek het haar my onafhanklikheid geleer.

Wat is die grootste lewensles wat jy geleer het en hoe het jy dit geleer?

Toe die beroerte (haar man s’n) ons tref, het ek geleer dat my binnestem my belangrikste bate is, en dat my vriende en familie my grootste bron van vreugde is.

Wat is die een verandering wat jy dadelik in Suid-Afrikaners wil sien om ons land ’n beter plek te maak?

Koop data in plaas van klere. Dan kan jy elke geleentheid opvolg om jouself te verbeter, werksgeleenthede op te volg, ensovoorts.

VRAE VIR KAY

Kay Karriem
Op die program is jy altyd opgewek en reg met ’n grappie. Is jy altyd so?

As jy my kollegas in die Kuier-span vra, sal hulle jou vertel ek kan soms nogal lekker beneuk wees. Maar ek kan ook vir myself lag en dit maak nogal die lewe makliker. Ek kan ook glad nie ’n regte grappie vertel soos Tracey Lange nie – ek mis altyd die punchline. Dis dikwels net goed wat snaaks uit my mond kom, al het ek dit nie noodwendig as ’n grap bedoel nie.

Jy sê gereeld jy is single en soek ’n man. Maar wat soek jy in ’n man?

Daar is altyd hoop, glo ek! Maar dis ’n moeilike vraag om te beantwoord, want elke keer as ek gedink het ek het gekry wat ek soek, dan werk dit glad nie. Maar ná al die gesoek, dink ek die antwoord is tog baie eenvoudig. Ek soek ’n man wat my sal aanvaar soos ek is en wie dieselfde waardes as ek het. Dit klink so boring, g’n wonder ek kan niks regkry nie, maar dis regtig so maklik soos dit.

Jy is duidelik nie op jou mond geval nie, maar watter dinge of mense laat jóú sprakeloos?

Donald Trump, Steve Hofmeyr en mense se wreedheid teenoor mens. Soms kan ek nie glo wat ons aan mekaar doen nie. Ek bly ook geskok deur gruweldade teen kinders.

Jy is nie ’n ma nie, maar as jy was, wat dink jy sou jy jou kind wou leer?

Dit sou beslis ’n dogter wees en ek sou haar wou leer dat sy goed genoeg is nes sy is en vir niemand hoef te verander nie. Ek sou ook hoop sy weet dis nie die einde om foute maak nie en dat sy sterk genoeg is om weer op te staan van enige terugslag wat die lewe na haar kant toe gooi.

Sien jy jouself as ’n celebrity?

Nee, asseblief nie. Ek probeer net myself wees, want ek dink mense se idee en verwagtinge van celebrities is heeltemal skeef. Hulle is ook net mense wat hul weg deur die lewe probeer vind en dit beteken dat hulle ook nie al die antwoorde het nie en ook foute maak. Dis te veel pressure!

VRAE VIR SUCCESS

Success Lekabe
Is dit jou regte naam soos op jou ID?

Ja! Ek het vier name. Twee van my pa se kant en ander twee van my ma s’n. Success Katlego Aletta Tia Lekabe.

Gee ’n voorbeeld van hoe mense nog gereeld teen jou diskrimineer (blatant of onwetend). Hoe hanteer jy dit?

Om die waarheid te sê, ek kan nie aan iets dink nie, want ek probeer om altyd myself te omring met mense wat opreg is en ander opbou as afbreek.

Wat was die grootste struikelblok op jou pad na sukses?

Dit was verseker om depressie te oorkom en om my waardigheid te besef en om in myself te glo.

Wat doen die ouer generasie (veral vroue) wat jou grensloos irriteer en jy wens hulle wil bykom?

Die feit dat die ouer generasie soms nog vashou aan onregverdige tradisie.

Is dit waar dat jy nog net wit ouens gedate het? Hoekom?

Ja, die hart sien nie kleur nie.

Jy sing ook, wil jy ook daarvan ’n loopbaan maak?

Hahaha . . . Ek dink daar is ’n groter kans dat ek van netbal ’n loopbaan sal maak.

VRAE VIR ZELDA

Zelda soos sy op die show lyk.
Wat is jou beste memory van toe jy vir Tata gewerk het?

Definitief die laaste keer wat ek hom lewend gesien het. Hy was reeds baie siek in die hospitaal en het vir ’n paar dae nie gereageer op mense om hom nie. Mev. Machel het my ’n paar oomblikke met hom gegee en ’n paar minute in my monoloog in het hy wakker geword en my die grootste glimlag ooit gegee. Mev. Machel het nader gekom uit verbasing en my en hom toe daaroor gespot dat hy nie wou reageer as ander mense daar kom nie, maar as ek daar kom, glimlag hy. Dit was ’n baie spesiale oomblik en al kon hy net sy kop knik, het ek geweet wat om te sê, min wetend dat dit die laaste keer sou wees wat ek hom sien.

Watter bekende wat jy saam met Madiba ontmoet het, het die grootste indruk op jou gemaak?

Grootste indruk bly President Bill Clinton. Hy het ’n ongelooflike algemene kennis en sy gunstelingfliek is Caddyshack. Ons spot hom altyd daaroor. Hy en sy hele familie is baie besorgde mense. Hulle stuur nog elke jaar verjaardagkaartjies al kan ek nou niks meer vir hulle beteken nie. Lewis Hamilton is heeltemal anders as wat ek hom voorgestel het. Ek het gedink hy kan dalk selfvoldaan wees, maar hy is presies die teenoorgestelde. Ek het ook gedink Morgan Freeman is ’n groot ster wat nie met ons gewone mense praat nie. Hy is die dierbaarste, snaaksste en geduldigste mens.

Dink jy mense het ’n vooropgestelde idee van jou omdat jy met Madiba gewerk het?

Ja. In baie opsigte. Party mense dink ek is “grand”, maar ek is glad nie. Dit is juis my onopgesmuktheid wat vir Madiba gewerk het, want ek was gefokus op die werk en nie op ander dinge nie. Ander mense dink ek is ontoeganklik. Dis nie die geval nie. Ek is net ’n introvert en kry my energie deur stil en alleen te wees.

Baie lesers wou graag ’n foto van Zelda la Grange sien met haar krulhare. Wel, hier is dit nou en hoe pragtig lyk sy nie!
Watter toevallige gebeurtenis het ’n blywende indruk op jou lewe gemaak?

Ek glo nie aan toevalligheid nie. Dinge gebeur presies soos dit moet. Maar toe ek kort op Twitter aangeteken het jare gelede, het ek om geen rede met Anele Mdoda begin gesels. Ons het daarna eendag iewers ontmoet. Sy is vandag een van my beste en getrouste vriendinne en om haar in my lewe te hê, is lewensveranderend. Al is sy heelwat jonger as ek het sy ’n ou siel en ek leer baie wyshede by haar.

Wat is die moeilikste ding wat jy nog ooit vir Madiba moes vertel?

Toe sy jarelange vriend Walter Sisulu oorlede is, moes ek hom laat een aand gaan wakker maak en vir hom vertel. Dit was seer.

Hoe hanteer jy pressure?

Ek hanteer dit nie goed as ek nie die spasie het om myself te organiseer nie. Ek kan soms my eie grootste vyand wees om myself te over-compromise net omdat ek sukkel om nee te sê, maar dit raak beter soos ek ouer raak.

Wie is Zelda by die huis?

Ma vir Che Guevara en Eva Perón (haar twee bull terriers), dogter van Des en Yvonne en sussie vir Anton en Rick. Beste vriendin vir my vriende, maar iemand wat daarvan hou om vir baie lang periodes alleen en ongestoord te wees. Ek hou van lees en stap en my lewe draai om my hondjies wat my kinders is.

Meer oor:  Kuier  |  Zelda La Grange  |  Success  |  Tracey Lange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.