Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vang graad: Ouma jaag haar drome na
10 Junie 2021


Op 17 was sy al getroud, met ’n baba op pad. Haar matriekjaar en planne om te gaan swot, het aan skerwe gelê. Maar soms loop die lewe ander draaie met ’n mens voordat jy werklikwaar jou drome kan koester. Vra maar vir Faldelah Adams (52). Sy kén van uithou en aanhou, vertel die ouma van vyf (en ma van vier) wat uiteindelik op 44 matriek gaan skryf het.

Vandag spog sy met ’n B.Ed.-graad agter haar naam en ’n hoër diploma in Islamitiese studies. Daarby bedryf sy daagliks madrassa-klasse vir sowat 36 kinders vanuit haar huis in Heideveld op die Kaapse Vlakte, en sy betaal húlle om dié klasse getrou by te woon. Maar alles in haar lewe het regtig met ’n wye draai begin, vertel sy. “Desjare as jy op 17 swanger raak, móés jy trou. Ek het ’n tweeling verwag, maar ’n miskraam gehad.”

Agt jaar en twee kinders later, het haar man ander weivelde gaan soek en die twee is uitmekaar. Faldelah se hart was in stukke en sy is sak en pak terug na haar ouerhuis om wonde te lek. Twee jaar later kruis haar paaie toe met dié van ’n ou skoolvriend, hulle is getroud en twee kinders, Ilhaam (23) en Waseem (21), is uit dié huwelik gebore.

Faldelah (links) die dag toe sy haar graad ontvang het.

Opvoeding

Dis eintlik haar oudste twee, Mishkaah (31) en Ridaah (28), wat desjare die katalisator was vir haar terugkeer na die skoolbanke. “Albei wou nie matriek klaarmaak nie, hulle wou gaan werk,” vertel sy.

“Ek het gevoel my hande was afgekap. Wat sê ek vir hulle as ek self nie matriek het nie? Ek het daai tyd as hairdresser gewerk en was ook nog huisvrou. Ek het nie geweet hóé om uit te reik na hulle nie. Nie geweet hoe ek moet lei nie. Nie geweet hoe om raad te gee nie.” Sy wou dinge anders doen met haar jongste spruite en dié keer was sy reg om te baklei vir hul opvoeding.

Maar Faldelah besef toe meteens: sy sou eers haarself moes opvoed. “Ek moes selfondersoek doen. Uitvind wie Faldelah is. Ek wou nie hê my jongstes moes in die voetspore van die oudstes volg en nié matriek skryf nie. En toe begin ek met aandklasse en kry matriek op 44. Ek het meer bevoeg gevoel om te help met take, maar glo my, ek was al die pad langs hulle sodat hulle suksesvol kon wees en uiteindelik albei matriek kon slaag.” Om later in haar lewe matriek te skryf, het haar sielkundig, geestelik en emosioneel sterker gemaak, vertel sy vandag.

“En ek wou regtig al bitter lank ’n opvoeder wees. Dinge het net nie só uitgewerk toe ek jonger was nie.” Sy was eers voltyds ’n haarkapper, maar moes later dié werk los omdat sy nie meer die huur kon bekostig van die plek waar sy haar salon bedryf het nie. Daarna was sy huisvrou, maar het gou verveeld geraak. “’n Vriendin het my eendag vertel van die Madrasah Islaahul Banaat in Kenwyn – dis soos ’n vroue-kollege waar jy Islamitiese studies doen – dis gewoonlik ’n vier jaar lange kursus.

En ek wou regtig al bitter lank ’n opvoeder wees. Dinge het net nie só uitgewerk toe ek jonger was nie.

“Ek wou my oudste eintlik eers soontoe stuur, want sy was ’n bietjie van ’n rebel, eers het sy ingestem, maar later wou sy nie meer nie.” En dis hoe Faldelah toe self inskryf. “Die skoolhoof sê toe, wel dalk is die skool nie vir my kind nie, maar wel vir my. Hy was reg. Ek het in 2010 daar begin en klaargemaak in 2013. Ek het intussen reeds matriek voltooi en met my hoër diploma in Islamitiese studies was ek gereed om ander oor die Qur’aan en sharia-studies te leer.”

In dié tyd het sy die Islamitiese pelgrimstog na Mekka in 2013 onderneem. Mekka was vir haar sielsverrykend, Faldelah het immers vir dié pelgrimstog gespaar en daar het sy ook die antwoorde gekry om haar lewe beter vorentoe te stuur. Nie lank daarna nie, het ’n hegte pel wat welsyn by Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) swot, haar aangemoedig om ook soontoe te kom. Sy het in 2016 ’n beurs ontvang en voltyds opvoedkunde by UWK begin studeer.

Tydens een van haar madrassa-klasse.

“Maar ek moes steeds nog huistake doen soos skoonmaak en kook, dan het ek nog smiddae die madrassa-klasse tuis. Ek was later al so gesout – soggens is my kos al klaar voordat ek kampus toe gaan. En dan is ek reg vir madrassa as ek van kampus kom.” Faldelah glimlag van oor tot oor wanneer sy oor madrassa gesels. “Van my eerste jaar by Madrasah Islaahul Banaat was ons aangesê om dit wat jy leer aan ander oor te dra.”

Haar madrassa-tuisklasse het in 2010 afgeskop met haar suster as die eerste student, toe volg haar man, later het ’n vriendin aangesluit en toe dié se kinders. “In 2011 het paartjies na my toe gekom vir klasse, toe ma’s en dogters. Ek moet sê die gemeenskap is baie trots op my en sê as ek dit kon doen, dan kan hulle ook. Ek het nie eens geweet ek inspireer mense nie.” Later het sy fooie begin hef en die madrassa-klasse in ’n besigheid omskep en tussendeur ook tuisgebak verkoop om die pot aan die kook te hou.

“Die klasse kos maar R25 per week of R100 per maand. Ek wou hê meer kinders moes kom, want ek wou hulle nie op straat laat rondloop nie. En ek besluit toe, ek gaan húlle R1 per dag betaal, wat R30 of R31 per maand is. Baie mense het nie verstaan hoekom ek dit doen nie. Maar kinders is anders, ons moet hulle motiveer dat al kom luister jy net, kry jy steeds R30 of R31 per maand.”

Die kinders se ouderdomme wissel van vier tot 16 en haar plan het soos ’n bom gewerk, vertel Faldelah. Sy bied oor naweke ook klasse vir volwassenes aan. Maar sy moes hulle ook leer om geldslim te word. “Ek besef daai R31 dra soms by tot hul huishoudings, soms help dit vir elektrisiteit of kos. Ek het hulle geleer: vra eers jou ma-hulle of jy kan bydra. Moenie die geld mors op treats nie. Ek gee mos treats by die klasse op spesiale geleenthede, dan bak ek selfs vir hulle koekies. “Ek wil net smiles sien, die gemeenskap hier sukkel met dwelm- en alkoholmisbruik en die kids moet al dié dinge aan-skou. Hier is weeskinders ook in die klas, en ons kry hier en daar sponsors om hulle te help waar ons kan.”

Help gemeenskap

Nou is haar groot droom om ’n opvoedkundige sielkundige te word. “Sielkunde was altyd my passie, en ek weet ek kan leiding gee en kinders help. Ek begin volgende jaar met sielkunde by UWK.” Al haar kinders en haar man staan bankvas agter haar en motiveer haar elke dag om haar drome te verwesenlik.

“My oud-stes lei hul eie lewens. Hulle is al getroud. Ek leer hulle nou hoe om positief te bly, hoe net jý jou lewe beter kan maak, want niemand kan dit namens jou doen nie. My jongste seun is so talentvol en hy wil graag ontwerp swot. Ons kyk nog hoe dinge kan uitwerk.”

Maar al het sy dit self nie breed nie, reik sy steeds uit na haar gemeenskap. “Ek kook een keer ’n maand kos – kerrie of akhni. Ja, ek het nie geld nie, ek het eintlik niks, maar daar is altyd iets om te gee.” Haar man, Shamiel, werk in die boubedryf, maar het nie ’n vaste inkomste nie. “Maar as hy iets kry, dan kom gee hy altyd iets vir my madrassa-klasse. Ek is baie geseënd met die min wat ek het. Daai klein bietjie is genoeg.”

Met die planne om sielkunde te gaan swot in die pyplyn, droom Faldelah van ’n onderwyspos om die pot aan die kook te hou. “Ek sê altyd die Almagtige het my tot hier gebring en Hy sal my hierdeur dra. Die deure wat reeds vir my oopgegaan het, is in elk geval heel eerste deur Hom oopgemaak.”

*Haidee Muller-Isaacs is ’n RSG-omroeper en -regisseur

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.