Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verbruiker: Maak jou lewe makliker met apps
15 April 2021


Sedert die eerste apps (toepassings) in Julie 2008 aan die wêreld bekend gestel is, het dit baie van ons lewens en gewoontes heeltemal verander – dikwels sonder dat ons dit agterkom. Of jy nou wil reis, kommunikeer, banktransaksies wil doen, kruideniersware moet koop, jou naels wil laat doen, jou kinders se skoolgeld moet betaal, iemand wil vermy of ’n iemand soek om jou huis skoon te maak, daar is ’n app vir alles.

Met dié dat jy jou hele lewe met ’n knoppie kan beheer en dus nie eintlik fisies jou huis hoef te verlaat nie, is tegnologie en apps besig om sosiale norme te herdefinieer. En as jy nie vinnig daarby aanpas nie, gaan jy agterbly, want daar word elke dag nuwe apps bekendgestel. Met dié ooraanbod raak dit al hoe moeiliker om uit te werk watter apps jy benodig en watter jy maar kan ignoreer.

Volgens Brendan Petersen, ’n Kaapse joernalis wat oor tegnologie skryf, is daar nie reg en verkeerd wanneer dit by apps kom nie. Almal se behoeftes en leefstyl verskil, so watter apps jy gebruik, gaan ook verskil. Maar iets wat vir almal geld, is dat apps ons gewoond gemaak het aan die gevoel van onmiddellike bevrediging. As jy iets gedoen wil hê, kan jy dit binne sekondes laat gebeur sonder om te wag. Daar is selfs smart house apps waarmee jy jou huis se gordyne, ligte en TV kan beheer.

“Selfs wanneer jy iemand SMS of van jou foon af e-pos, verwag jy dat jy onmiddellik ’n reaksie of terugvoering gaan kry. Maar dít het weer veroorsaak dat ons dikwels vergeet dat sommige goed buite mense se beheer is en dat almal nie heeldag op ons wag nie,” verduidelik Brendan.

Tegnologie het op baie maniere ons lewens vergemaklik en daaraan is daar geen twyfel nie. Maar waarteen Brendan ook teen wil waarsku, is die valse verwagting wat dit skep dat alles altyd maklik en gerieflik gaan wees en dit is bloot nie waar nie. “Tegnologie en apps is wonderlik wanneer jy baie het om te doen en min tyd het om rond te hardloop. Maar dit kan jou ook die verkeerde persepsie laat ontwikkel omdat dit voel asof die wêreld om jou draai en dat jy in die middel van alles is.” Dan is daar die feit dat dit ook saam met die gerieflikheid ons interaksie met ander mense verminder.

Baie nuttig

Deesdae kan jy amper alles op ’n app doen . . . Alles is outomaties en jy hoef amper nooit meer met iemand te praat nie, veral nie vervelige versekeringsagente nie! En selfs vir daardie tye wanneer call center-agente jou wel wil bel om iets aan jou te verkoop, is daar nou apps soos Truecaller, wat jou help om onbekende nommer te identifiseer voordat jy besluit om te oproep te antwoord.

“Daar is goeie en slegte aspekte van apps, maar wat ons nie moet vergeet nie, is dat die slegte nie altyd die tegnologie se skuld is nie, maar eintlik mense se interaksie daarmee en hoe hulle dit gebruik,” sê Brendan. Verbruikers het vir Kuier vertel watter apps tans hul lewens ten goede verander het. Bianca Petersen (27) van Durbanville in die Kaap, sê die inkopie-afleweringsapp Checkers Sixty60 het haar lewe verander.

“Die gemak is unmatched. Of jy nou een of twee bestanddele vir aandete nodig het, maar nie lus is om ná ’n lang dag winkel toe te ry vir inkopies nie of bloot net die veiligheid van minder kontak tydens die pandemie wil hê, dit is so vinnig en maklik,” sê sy.

Apps is wonderlik wanneer jy baie het om te doen en min tyd het om rond te hardloop. Maar dit kan jou ook die verkeerde persepsie laat ontwikkel omdat dit voel asof die wêreld om jou draai.

Die meeste apteke soos Clicks en Essential Health lewer ook deesdae jou medikasie verniet by jou huis af en dan is daar Zulzi wat enigiets in jou omgewing gaan haal en dit in minder as een uur by jou aflewer. Die app kan gebruik word vir kruideniersware, drank, medikasie en selfs ’n maaltyd van jou gunstelingrestaurant af. Afleweringskoste wissel van R20 tot R85.

In sommige gevalle kan dit selfs gratis wees. En as jy dalk nie ’n trok of bakkie het wanneer jy trek nie, kan jy Droppa gebruik om ’n trok of bakkie naby jou huis te reël, nes met die motordiens Uber. SweepSouth is nóg ’n app wat mense se lewens makliker maak. Joanne Uldridge (37) van Stellenbosch sê sy het nie genoeg geld in haar begroting om maandeliks vir ’n huishulp te betaal nie, maar wanneer hulle groot partytjies by die huis het of soms wanneer sy net nie tyd het nie, is dit lekker om vinnig iemand te kan kry om jou huis skoon te maak.

“SweepSouth is ’n skoonmaakdiens wat ’n kliënt in kontak sit met ’n skoonmaker wat naby hulle is. Die enigste besonderhede wat SweepSouth van jou benodig, is hoeveel skoonmakers jy nodig het, waar en wanneer. Dit werk so lekker en ek was nog nooit teleurgestel nie,” sê Joanne. En terwyl jy wag, kan jy sommer jouself met ’n pampersessie bederf.

Nuriyah Gallow (30) van Kaapstad voel as jy die ma van drie klein kinders is, moet jy jouself nou en dan bederf. En Prim-u maak dit maklik vir haar om die kinders by die huis in hul eie omgewing besig te hou, terwyl sy haar naels of hare laat doen. “Die app sit jou in kontak met skoonheidsterapeute in jou omgewing. Jy boek hulle en gee ’n tyd en hulle kom tot by jou adres. Hulle bring al hulle eie benodighede en dit voel regtig asof jy by ’n spa is. Dit is ook lekker vir iemand wat dalk nie tydens Covid-19 in ’n salon wil gaan sit nie.”

’n App wat Jeanne Michel (38) van Tableview in die Kaap voel almal by kan baat, is Splitwise. Splitwise is ’n app om uitgawes tussen jou vriende en familie te verdeel. Dit stel jou en jou vriende in staat om verskillende rekeninge by te voeg en by te hou met wie vir wie geld skuld, en dan help dit jou om met mekaar reg te maak.

“Ek en my ma gebruik dit al ’n hele tydjie en dit help vir wanneer ons dinge vir mekaar koop, sodat jy weet wat jy die ander een skuld en soms kanselleer een transaksie die ander uit en dan weet jy dit ook. Dit is baie gerieflik.” Nog ’n gerieflike geld app waarmee mense deesdae van hul kerkgeld tot airtime betaal is SnapScan. Jy gebruik jou foon om by eetplekke, winkels en selfs feeste te betaal, sonder dat jy jou fisiese bankkaart nodig het.

Doen jou banksake

En as jy moeg is van in lang tou staan by die bank, het die meeste banke ook nou apps en jy kan dit gebruik om airtime te koop, jou kredietkaart te betaal, krag te koop, geld te skuif, ’n nuwe kaart te bestel of dalk te stop en selfs om te kyk hoeveel jy op ’n lening skuld. Charlen Raymond (31) van die Strand gebruik Standard Bank se app en sê alles is duidelik vir jou gemerk.

“Jy kan geld tussen rekeninge oordra, begunstigdes betaal, elektrisiteit, data, lugtyd, ensovoorts koop en net lekker rondspeel op die app,” sê hy. “Dit stel jou ook in staat om jou kontant in verskeie spaarrekeninge van Standard Bank te belê. Vanuit ’n verbruikersperspektief is dit een van die mees gebruikte programme op my foon.” Brendan voorspel ook ons gaan binne die volgende paar jaar minder individuele apps gebruik en meer na platforms toe skuif.

“Ons sien dit reeds met Facebook wat hul interaksie tussen WhatsApp en Instagram so connected gemaak het. Die wêreld van apps kan jou baie deurmekaar maak, maar dit help jou ook om jou werk, huishouding en sosiale lewe aan die gang te hou. En as jy eensaam is, is daar ook talle apps daarvoor.

So kry jou foon en besoek jou app store vandag nog vir inspirasie om jou lewe geriefliker te maak.

Meer oor:  Kuier  |  Apps  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.