Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verhoudings: Lockdown knak dalk huwelike
18 februarie 2021
Foto ter illustrasi


Die Covid-19-pandemie raak nie net ons gesondheid, ons sakke en ons gemoed nie, maar dit het ook ’n verwoestende impak op baie Suid-Afrikaners se verhoudings. Met al die druk én die feit dat mense sedert Maart verlede jaar, toe die harde lockdown aangekondig is, al hoe meer tyd saam moes spandeer, is die klein krakies van talle verhoudings onder die mikroskoop geplaas.

Volgens DIY Legal, ’n plaas-like regsadviesfirma, het egskidings na afloop van die ses weke van vlak 5 harde lockdown reeds met 20% gestyg, veral as gevolg van verneukery en substance abuse. In 62% van hul sake is die klaer die vrou. Business Day berig ’n onlangse 2020-verslag deur die departement van justisie het bevestig daar is ’n enorme backlog van siviele sake, wat ’n hele lot egskeidings insluit.

Net in Limpopo was daar amper 12 000 uitstaande egskeidingsake. Dit is amper die helfte van die aantal egskeidings (25 390) wat in 2018 in Suid-Afrika aangeteken is. Hoewel die nuutste statistieke nog nie bekend is nie, verwag kenners dat die egskeidingsyfer vanjaar skerp sal styg.

Die toename in egskeidings tydens die pandemie is ’n tendens wat wêreldwyd posvat. Dit beteken die “divorce season”, gewoonlik tussen Februarie en Maart, na afloop van die Desember-vakansie, kan in 2021 die ergste nóg wees! Dit verklaar dalk hoekom die geboortesyfer in Suid-Afrika, volgens statistieke van die internasionale navorser Macrotrends in 2020 met 1,64% sedert 2019 gedaal het en sover in 2021 reeds met nóg 1,67% sedert verlede jaar afgeneem het . . .

Uitmekaargedryf

“Ons het so gesukkel-sukkel deur 2020. Ek was so seker dit was net die moeilike jaar en dat, wanneer ons eers net ’n bietjie gerus het by die see, dinge weer hundreds sou wees. Dis hoekom ons maar al ons spaargeld opgebruik het om ’n bietjie Mosselbaai toe te gaan,” vertel Mildred Bakens (46) van Lenasia in Johannesburg.

“Maar jong, toe kom Mister President mos nou en maak die strande toe, vat die drank weg en sit die ligte af. Daai vakansie was ’n disaster – geen ander way van dit explain nie. Ek het die dag wat ons teruggekom het, begin hoor van ’n lawyer, want só kan ek nie oud word nie.”

Mildred en haar man het in Januarie vanjaar formeel met die egskeidingsproses begin. Sunél Beeselaar van SP Beeselaar Prokureurs in Brackenfell in die Kaap vertel hulle sien gewoonlik ’n styging vroeg in die jaar.

“Ons afleiding daaroor is dat mense wat egskeiding oorweeg, dit gewoonlik laat oorstaan aan die einde van die jaar, veral oor Kersfees, en begin dan eerder in die nuwe jaar met regstappe. Ek kan nie persoonlik sê dat dit Junie tot November besiger was as gewoonlik nie – in my praktyk was dit maar min of meer dieselfde, maar kliënte het beslis meer gesukkel met finansies en betaling.”

Om watter redes?

Die redes vir egskeidings was in haar ervaring nie anders as gewoonlik nie, maar lockdown het tog daartoe bygedra dat paartjies wat nou elke dag in mekaar se teenwoordigheid was, een van twee goed besef het: “hulle kan of wil regtig nie langer met die persoon saam leef nie of ook die teenoorgestelde – ’n paartjie het mekaar weer ‘gevind’ en kwaliteit-familietyd gehad wat weer gehelp het. Maar die meerderheid het steeds voortgegaan met die egskeiding as hulle reeds voor lockdown daarmee begin het.

Vir baie van haar kliënte is finansies egter steeds ’n groot uitdaging. “Ons sien wel dat heel party net een konsultasie bywoon om uit te vind oor hul regte en kostes, maar dan eers wag en nog nie verdere instruksies gee vir voortsetting nie,” sê Sunél. “Ek en my man het al voor lockdown problems gehad. Ons verhouding was altyd op die rand van oorlog, maar verlede jaar het ons mekaar amper te lyf gegaan,” erken Luané Jansen (42) van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte.

“Die heeltyd onder mekaar se voete wees, was my einde. Later kon ons amper nie meer in dieselfde vertrek wees vir langer as ’n paar minute nie, dan begin ons mekaar treiter. Ek het gebel om ’n afspraak te maak by ’n prokureur, so aaklig was dit, maar toe ek hul fooie hoor het ek amper van my stoel afgeval. Ek kan nie glo dis so duur om te skei nie. Ek is nou al halfjaar op kort salaris, so ek sal dit nie kan bekostig nie. Kan jy dit nou glo? Can’t stay, can’t ry!” lag sy. Sunél moedig paartjies aan om eers mediasie te oorweeg as hulle wil skei.

“Dit is ’n meer informele proses en beide neem deel om ’n vinnige oplossing te probeer bereik. Dit sny baie onnodige regskostes uit en bespoedig ook die proses. Lang, uitgerekte litigasie tesame met die onsekerheid van die land se ekonomie en paartjies se eie finansies is beslis nie die ideaal nie. So, mense moet regtig mooi dink en huiswerk doen oor die prokureur wat hulle wil gebruik en hul aanslag ten opsigte van litigeer al dan nie. ’n Eerste konsultasie met ’n prokureur of mediator wat spesialiseer in familiereg is ’n goeie begin, want jy kan al jou vrae stel in daardie eerste afspraak en dan besluite neem gebaseer op die inligting wat jy ontvang het en nie oorhaastig met ’n egskeidingsproses begin nie.”

Volgens Bertus Preller van Maurice Phillips Wisenberg in Kaapstad ervaar hul praktyk ook gewoonlik “divorce season” tussen Februarie en Maart. Hy sê egter hulle was van Junie tot November 2020 baie besiger en hy vermoed ook daar gaan ’n toename wees in egskeidings in 2021. Spanning as gevolg van lockdown en paartjies wat heeltyd geforseer was om in mekaar se geselskap te wees, was volgens Bertus groot redes vir die toename in egskeidings.

“Paartjies van huwelike wat reeds in die moeilikheid was voor die lockdown moes nou 24/7 in mekaar se teenwoordigheid wees, met geen vryheid,” verduidelik hy. Verder het Covid-19 ’n hele rits sielkundige rondskommelings veroorsaak wat kon lei tot depressie, angs en vrees en die impak daarvan op ’n verhouding, kan rampspoedige gevolge hê. Volgens hom het prokureurs en howe nie net ’n skerp toename in egskeidings ervaar nie, maar ook in aansoeke vir protection orders as gevolg van meer gesinsgeweld tydens lockdown. Hy sal nie verbaas wees as ’n tweede golf egskeidings die tweede golf van Covid-19 volg nie.

Bespaar só geld

Billy Gundelfinger, bekende egskeidingsprokureur vir mense soos pres. Cyril Ramaphosa, Mandla Mandela, Tokyo Sexwale en Baby Jake Matlala, se raad om geld te bespaar in ’n egskeiding, sluit in:

• Kom tot ’n skikking oor die settlement en kinders eerder as om dit in die hof uit te baklei. Dit sluit in hoe julle jul goed gaan verdeel, wie toesig oor die kinders kry en toegang tot hulle vir die ander party asook alle issues oor maintenance. Hoe meer jy kan saam stem voor jy die prokureur besoek, hoe meer geld sal jy bespaar.

• Wees versigtig vir die verkeerde prokureur. Kry een wat spesialiseer in egskeidings en familiereg.

• As julle nie kinders het nie en julle stem saam saam oor wie kry wat, gaan reguit hooggeregshof of familiehof toe, waar jy jouself kan verteenwoordig en nie ’n prokureur nodig het nie.

• In sommige gevalle kan jy selfs ’n DIY aanlyn egskeiding doen, soos deur DIY Legal, wat jou minder as R1 000 uit die sak gaan jaag. Die stigma en teleurstelling van ’n egskeiding, asook die onsekerheid, veral oor die toekoms en finansies, is iets wat baie paartjies laat vasklou aan mekaar, al is die verhouding vernietigend en ongesond.

Hoewel dit altyd raadsaam is om eers alles te probeer en professionele hulp te kry voor jy handdoek ingooi, is dit ook belangrik om te onthou die lewe is te kort om so ongelukkig voort te ploeter.


Bykomende bronne: https://bit.ly/3pICisH; https://bit.ly/36ChkEp; https://bit.ly/2MucCBR; bit.ly/3reKLEs

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Inperking  |  Egskeidings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.