Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Verloor ma aan Covid-19: Herschelle Gibbs vertel
18 Februarie 2021


Vir my was sy net Mommy. Mommy is Mommy, Dad is Daddy. As ek aan haar dink, dink ek aan liefde, warmte en drukkies.” Só sê die voormalige Protea-kolwer, Herschelle Gibbs (46), wat sy geliefde ma, Barbara (67), in Desember weens Covid-19 aan die dood moes afstaan.

Dié legendariese krieketspeler het dalk aanhangers regoor die wêreld, maar vir sy ma, was Herschelle net haar seun wat sy eie kop volg of stamp. Hy is ’n reguit mens nes sy ma, vertel dié “straight shooter” soos hy na homself verwys.

“Ons het dikwels koppe gestamp, maar liefde het altyd gewen,” skerts hy. Hy vertel sy was ook die ma wat onbeheersd sou huil van bekommernis oor haar sesjarige graadeenseuntjie wat op sy eerste skooldag by St Joseph’s Marist College sy rygeleentheid vanaf Rondebosch gemis het en toe noodgedwonge tot by sy huis in Heathfield in die Kaap moes stap.

“Toe ek by die huis aankom, was my ma omtrent in ’n toestand en die bure moes haar kalmeer,” herroep Herschelle daardie herinnering aan sy ma. “Natuurlik sou sy dit altyd alles agterna regdokter met kos. Mommy was ’n ongelooflike kok. Ek het alles geniet, van haar burgers op Vrydae of “Fry-day” soos ons dit sou noem, haar pampoenkoekies, spaghetti bolognaise tot kookkos op Sondae,” vertel Herschelle van sy ma, die ouma van vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Sport in familie

Die Gibbs-gesin is gebore sportsterre. Behalwe vir Herschelle se uitmuntende krieketprestasies van 35 honderdtalle in 90 toetse en 248 eendagwedstryde, is sy suster, Lucinda (44), ook ’n voormalige Springbok-tennisspeler wat ’n rughand witwarm kan moker.

Sy is al as 15-jarige gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die Ferderasiebeker in Athene. “Cindy”, soos Herschelle Lucinda noem, is ’n ervare tennisafrigter by Fresnaye-tennisklub in Kaapstad en menige jong opkomende speler trap steeds klei teen haar. “Ek het al op 16 vir die WP-span gespeel,” sê Herschelle. My pa het altyd dat die kolf die praatwerk doen.”

Herman (70) was self ’n kranige sportman en atleet wat die 100 m in 10,2 sekondes afgeblits het toe hy 19 jaar oud was. “Niks was destyds offisieel nie, maar ja ek was vinnig,” voeg Herman by. Hy was eers ’n onderwyser en toe later ’n sportjoernalis wat tans vir Independent Newspapers werk. “Mommy, wat een van nege kinders was, sou weer toesien dat my tokse reg en skoon is. Sy was die een wat omgegee het oor die kleiner dinge. Sy sou altyd sorg dat ons genoeg eet en dat die kos altyd lekker was,” sê Herschelle.

Volgens Lucinda sou haar ma altyd op die televisie kyk na haar kinders wat iewers deelneem. “Sy het nie die sportsoorte verstaan nie. Ek kon sien sy was op haar senuwees as Herschelle nog nie by 50 lopies is nie, maar dan kalmeer as hy dit verbysteek,” sê Lucinda. “Sy het altyd geweet haar twee talentvolle kinders speel êrens, vriende sou haar vertel hoe goed hulle doen of die koerante sou hulle prys,” vertel Herman. Herman en Barbara se paadjies het sowat 20 jaar gelede geskei.

Oorlede Barbara.

Ouers se gesondheid

Die Gibbs-kinders het in Oktober verlede jaar nog slegte nuus ontvang toe pa Herman met hartkomplikasies gediagnoseer is. Volgens die dokter het Herman glo verskeie hartaanvalle gehad. Die medikasie het komplikasies met ’n verstopte blaas meegebring en Herman moes ’n kateter kry wat die dag van die onderhoud uitgehaal is.

“Dis nie lekker as jy hoor dat jou ouer se gesondheid nie na wense is nie,” sê Herschelle. “Deur al die jare het ek met verskeie dinge te doen gekry. Toe ek hoor van my pa, het ek geweet dit is nie ’n lewe-of-dood-scenario nie. Ek het vas geglo hy gaan dit maak, hy is sterk, die rots. Met my ma was dit effens anders. Sy was ’n diabeet en het erge komplikasies gehad. Sy het so goed aangesterk die laaste jaar. Mommy was siek en sy het baie pyn verduur voor haar linkervoet ’n bietjie meer as ’ n jaar gelede weens gangreen afgesit is.

“Net die beste was goed genoeg vir haar. Ons kinders, ek, Cindy en my stiefbroer, Clinton Crayenstein (52), het haar in Oasis-gesondheidsentrum gesit waar sy goed aangesterk het. “Ek kon dit nie vat dat my ma vroeër so baie pyn verduur het nie. Maar toe haar linkervoet geamputeer is, was dit of daar net verligting was. Sy was die laaste ruk so gesond en gelukkig,” vertel hy.

Herschelle was eintlik al op pad terug van Sri Lanka af waar hy die Colombo Kings-span afgerig het, toe hy die nuus kry dat sy ma, Clinton en Lucinda die Covid-19-virus opgedoen het. “My terugkeer sou in elk geval die regte ding gewees het om te doen, al kon ek nie veel doen nie. “My ma het klaarblyklik aangesteek by ’n mede-inwoner, wat ’n week voor my ma ook aan die virus beswyk het. My ma het by my broer gaan kuier met die verslapping van die inperking, en sy het hom waarskynlik aangesteek.”

Clinton is in Life Kingsbury-hospitaal opgeneem en aan ’n ventilator gekoppel. Lucinda was in selfisolasie in haar woonstel in Kaapstad. “My ma is opgeneem in die Netcare N1 City-hospitaal, maar het daagliks agteruitgegaan. Al wat ek kon doen, was om gereeld met my broer en suster te gesels. “Die Sondag voor haar dood, het die dokter my gebel en gesê my ma het ’n hartaanval gehad. Die kanse was nie seker nie, veral ná alles waardeur sy is. Daardie Dinsdagoggend op 21 Desember is sy aan ’n hartaanval dood.

“Ek het Clinton dadelik gebel en hy het gebreek. Cindy het stil geraak. “Ek was net so in ongeloof van hoe dinge so vinnig so sleg kon draai. Sy was so gelukkig waar sy was, daar was niks meer bekommernisse nie. “Sy het gewig verloor en het eintlik net gestraal. Ek het haar voor Covid-19 laas gesien, maar het besluit ek gaan nie die risiko vat om haar gedurende die pandemie te sien nie.

“Dis die ergste. Ek het altyd geweet Mommy is nóg hier. En ek kan vir haar gaan kuier,” sê Herschelle wat kaalvoet hier in sy pa se tuin sit. “Ek het so ’n rukkie terug na ’n 4-minuutvideo van Mommy gekyk – sy het altyd gelag en haar lag was so aansteeklik. “Dan huil ek maar net weer. Maar die lewe gaan aan. Die hele Covid-19-pandemie het aan die wêreld gewys hulle moet improviseer en aanpas by wat die lewe en selfs die beperkings meebring,” sê Herschelle.

Herschelle en sy pa, Herman.

Kyk vorentoe

“Die pandemie is ’n tydelike ding, maar ’n mens moet steeds weet wat jy wil doen, wat jou passie is. Krieket was nie my passie nie, dit was my werk. Ek het daarvan gehou om dit te speel en nie om daaroor te gesels nie. “As speler of as afrigter, moet ek aanpas en verander. ’n Mens moet maar gereeld ander maniere vind om jouself beter te maak. Krieket is my lewe. Ek het basies 25 jaar gespeel en ek wil vir die volgende 10 jaar ’n verskil maak. My professionele loopbaan het sewe jaar gelede opgehou. Ek het stagneer. Nou begin ek meer lees, my lewensuitkyk en filosofie slyp en kyk hoe ander mense besluit maak. Ek doen meer introspeksie.”

Herschelle vertrek eersdaags om die Karachi Kings-krieketspan van Pakistan wat in die Pakistanse Superliga speel, af te rig. “Ek werk na ’n punt toe en soek ’n pos as afrigter in die Indiese Premierliga,” vertel Herschelle oor sy toekomsplanne. “Wat Covid-19 wel gedoen het, is om mense se lyding korter te maak. Die groet is te vinnig en jy het nie noodwendig die geleentheid om dit te doen nie.”

“’n Mens moet maar ’n spanspeler wees, jy moet op jou eie rou. En ook die tyd omarm en aanvaar: Jy kry nie daardie een finale groet en druk nie.” Herschelle onthou ’n telefoongesprek wat hy en sy ma gehad het gedurende die inperkings: “My ma sou my ook altyd los om dinge vir myself uit te werk. Sy het basies vir my gesê ek moet meer ’n hands-on-benadering met die kinders, Rashard (25) en Valentino (2), hê. “Maar dis haar opinie, dan het sy my weer gelos om my opinie te stel. “Ek was Mommy se seun . . .”

Meer oor:  Herschelle Gibbs  |  Kuier  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.