In die nuwe boeiende kykNET-dramareeks Afgrond word die lewens van vyf vroue verken en hul veggees tot die uiterste beproef.
Sal dit hulle oor die afgrond laat tuimel of gaan hulle verantwoordelikheid vat vir hul lewens en sterker aan die ander kant uitkom? Die vyf vroue uit uiteenlopende wêrelde – ’n sielkundige, regsekretaresse, kandidaat-prokureur, sepiester en begrafnisondernemer – se paaie kruis terwyl elkeen in haar eie persoonlike stryd gewikkel is en hard moet baklei vir oorlewing.
Geslagsgebaseerde geweld (GBV) is ’n diepgewortelde maatskaplike probleem in Suid-Afrika en word in Afgrond onder die soeklig geplaas. Kuier het met die vroue agter die karakters gaan gesels om te hoor hoekom hulle dink die reeks is belangrik en watter lesse kykers daaruit kan leer.
Jana Kruger (40)
Jana vertolk die rol van Julia Cilliers (foto bo), ’n sielkundige wat sukkel met skuldgevoelens oor haar kind se skielike afsterwe. Sy is ook in ’n emosioneel abusive huwelik. Volgens Jana is die reeks absoluut relevant en nodig.
“Dit ondersoek die probleem van mishandeling. Afgrond werp lig op die chaos wat deur mishandeling in slagoffers se lewens veroorsaak word.”
Gretchen Ramsden (25)
Gretchen vertolk die rol van Nadine May, ’n jong kandidaat-prokureur, wat in Vredendal gebly het. Haar lewens-lange droom word bewaarheid toe sy ’n pos aangebied word by Cilliers, Molefe and Mouton.
Sy moet kies tussen haar geliefde, Franklin (gespeel deur Roberto Kyle), en die nuwe werksgeleentheid. Min weet dié jong vrou dat die lewe in die stad nie altyd net maanskyn en rose is nie.
Kanya Viljoen (26)
Kanya vertolk die rol van Leora van Niekerk, wat haar pa se bankrot begrafnisonderneming moet oorneem ná sy skielike afsterwe. Dan vind sy boonop skokkende waarhede uit oor haar man.
Sy sê die reeks lig werp op kwessies wat in ons samelewing woed, maar waaroor mense nie graag praat nie. Die belangrikste les wat sy geleer het: “Om ’n stem te wees vir ander wanneer hulle nie self kan opstaan nie.”
Marguerite van Eeden (23)
Sy vertolk die rol van Hannelie Fourie, ’n regsekretaresse, wat seksueel by die werk mishandel word. Sy vind haar pad tot by Julia om berading vir dié mishandeling te ontvang.
Marguerite sê daar is so baie onderliggende temas in die reeks dat kykers maklik met die een of die ander sal kan vereenselwig. ”Dit skyn ook die lig op die kwessie oor hoe die regstelsel dikwels die oortreders beskerm in plaas van die slagoffers.”
Kim Cloete (41)
Kim is ’n dinamiese en kreatiewe krag in die SA vermaakbedryf. Sy woeker al vir jare op die kassie. Ironies genoeg vertolk Kim die rol van ’n sepiester in Afgrond.
Haar karakter, Lana Bridgett, ontwaak uit ’n vyf jaar lange koma en besef sy het geheueverlies. Sy kry hipnoterapie by Julia om haar te help onthou en sy ontdek skokkende geheime oor haar verlede en haarself. Sy vind ook uit dat die lewe soos sy dit onthou, drasties verander het.
• Afgrond het ’n sterbelaaide-rolverdeling onder wie Elsabé Daneel, Ivan Zimmerman, Craig Adriaanse, Nadia Valvekens en Chris van Niekerk.
Kyk Afgrond Woensdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.