Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vinette Ebrahim gesels oor geloof
29 April 2021
Vinette Ebrahim


As daar een ding is wat die Covid-19-pandemie baie duidelik ge- maak het, is hoe kwesbaar die ganse mensdom is. Nie net is ons almal in ’n stryd om oorlewing gewikkel teen die corona-virus nie, maar wat ons as “normaal” beskou het, is heeltemal op sy kop gekeer.

Niemand kan ook stry oor die vernietigende effek wat die pandemie op ons geestesgesondheid gehad het nie. Voeg daarby die miljoene wat hul werk verloor het en dit is dus geen wonder dat baie voel hulle is op die randjie van die afgrond nie. Die virus en die gevolglike lockdown het baie mense so leeg getap dat hulle nie eens meer die krag het om ’n gesig (of masker) vir die wêreld op te sit om voor te gee dat alles “fine” is nie.

Want wanneer alles om jou inmekaar begin tuimel, probeer jy eerste in jou kop uitwerk hoe jy deur die krisis gaan kom. Maar as jou kop nie meer wil saamwerk nie, sit jy met ’n probleem – ’n baie donker een . . . Hiervan kan die veteraan-aktrise Vinette Ebrahim (64) getuig, want presies ’n jaar voor dié onderhoud het sy in ’n post op Facebook verklaar: “I can’t do this anymore.”

Toe was die land in klipharde lockdown (vlak 5) en niemand kon niks doen en nêrens gaan nie. Nes talle ander kunstenaars en akteurs het Vinette se inkomste ook vinnig opgedroog en moes sy desperaat planne maak om kos op die tafel te sit. Vinette het selfs haar kar verkoop om te oorleef, maar die skuld het begin ophoop. Nie net was dit ’n stryd om finansiële oorlewing nie, maar ook een om positief te bly te midde van ’n storm wat gedreig het om haar kop onder diep, donker waters in te trek en daar te hou.

Sukkel in lockdown

Hierdie tyd was vir Vinette, ’n jare lange depressielyer, byna ondraaglik. Oor die jare het Kuier al ’n hele paar onderhoude met Vinette gedoen, maar dis die eerste keer dat sy openlik gesels daaroor dat sy ook sukkel met die “groot, swart, hond genaamd depressie”.

Daarmee saam het sy ook lank gesukkel met skuldgevoelens nadat haar oudste dogter, Aaliyah Abrahams (44), ná háár oudste se geboorte ongeveer elf jaar gelede met bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer is. As ma het Vinette gevoel dis haar skuld en dat sy die geen vir geestesiektes aan haar dogter oorgedra het.

Maar as daar een ding is wat ons oor die jare van Vinette geleer het, is dat sy ’n besonderse insig het en die goeie selfs in die mees uitdagende tye kan sien. Want kort ná daardie mismoedige Facebook- inskrywing dat sy dinge nie meer kan hanteer nie, het sy in ’n volgende post laat weet sy besef wat haar omstandighede betref, is sy eintlik beter daaraan toe as baie ander mense. Selfs tydens dié onderhoud waarin sy openhartig gesels het oor hoe rof die afgelope jaar was, kon sy met ’n glimlag sê: “Dit was die beste én slegste van tye”.

Vinette voeg by sy het ook nog altyd besef hoe belangrik dit is om “jou tribe” te hê. Dis daardie mense wat daar is vir jou in die goeie én slegte tye en dis juis haar tribe wat haar in tye van nood deurdra. Vinette vertel haar jongste dogter, Talia Odendaal (41), “is amper soos my ma en weet net hoe om my te hanteer” wanneer dinge sleg gaan.

Sy, Aaliyah en Talia check ook elke liewe dag in bymekaar om te hoor hoe dit gaan. Tussendeur het sy die geleentheid gekry om die hoofrol in die fliek Barakat te speel en weer het Vinette ’n “tribe” gevind oor wie sy nie uitgepraat kan raak nie. Op stel was hulle meer as net mense wat saam rolle gespeel het. Hulle het familie geword en skaamteloos saamgehuil die dag toe hulle klaar geskiet is. Vinette is ook ongelooflik trots op die lofbetuigings en internasionale toekennings en erkennings wat Barakat sover gewen het.

En dít selfs nog voor dit amptelik in Suid-Afrika uitgereik is. Barakat word op 13 Mei landwyd bekend gestel. Sy is ook binnekort te sien in Skemerdans, wat vanaf 28 April op Showmax wys. En op dié manier het die sonstrale dit tog reggekry om deur te breek in ’n droewige tyd en hiervoor is Vinette dankbaar. “Ek was op ’n baie donker plek,” sê Vinette oor die afgelope jaar.

“Covid het almal hard geslaan en gekom soos ’n donker kombers. Al my shows by KKNK is gekanselleer en ek het geen inkomste gehad nie. Hoe ons oorleef het, was net met genade van Bo.”

Dit het ook niks gehelp dat die sowat R300 miljoen-inspuiting wat bedoel was om kunstenaars deur die pandemie en inperking finansieel te help, net “verdwyn” het nie. Dit was die National Arts Council (NAC) se verantwoordelik om die geld te bestuur. Talle kunstenaars het deelgeneem aan ’n sit-in-protes by die NAC se kantore in Johannesburg om hul ontevredenheid oor die stand van sake duidelik te maak. Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het egter luidens nuusberigte ontken die geld is weg en aangevoer dis net “verkeerdelik geallokeer”.

’n Forensiese ondersoek gaan gedoen word om vas te stel wat van die geld geword het, berig eNCA. Dit was in hierdie desperate tyd toe Vinette se depressie weer sy opwagting gemaak het. “Dit was nie maklik nie, want vir die eerste keer in my lewe moes ek bakhand staan. Ek het nie geweet watter kant toe nie.” Volgens Vinette was kreatiewe mense besig tydens die inperking en baie het die tyd gebruik om te skryf of nuwe inhoud te skep sodat daar werk was toe die land geskuif is na vlak 2 van die inperking. Maar dit was nie ’n maklike tyd nie.

“As vryskut werk jy jou dood vir ses maande, want dalk het jy nie werk vir die volgende ses maande nie. En wanneer jy wel betaal word, moet jy daai geld gebruik om die skuld af te betaal wat jy opgehoop het toe jy nie werk gehad het nie. Ek moes my kar verkoop . . . En sulke goed beïnvloed ’n mens se mental health.”

Sy stap al ’n baie lang pad met depressie, vertel Vinette. Daar was ’n tyd toe sy nie medikasie gebruik het nie, maar 10 jaar gelede het sy besluit om dit weer te begin gebruik. “My depressie is (weer) getrigger toe my oudste dogter (Aaliyah) met bipolêre gemoedsteuring met psigotiese neigings gediagnoseer is. Dít is weer by haar getrigger ná haar kind se geboorte,” verduidelik Vinette.

Haar familie

Sy sê in die ou dae het niemand gepraat oor die genetiese aspek van mental illness nie en in haar oudste dogter se geval is beide Vinette en haar dogter se pa depressielyers. “My skuldgevoelens oor haar situasie sowel as menopouse het my eie depressie getrigger,” vertel Vinette oor hierdie bose kringloop. Maar dit help dat Vinette ’n baie hegte en openlike verhouding met haar kinders het, en sy en Aaliyah het ’n punt daarvan gemaak om te praat oor wat hulle deurmaak sodat hulle mekaar beter kan ondersteun. “Ons is baie openhartig met mekaar. Ons ken en sien die tekens in mekaar.”

Covid het almal hard geslaan en gekom soos ’n donker kombers.

Volgens Vinette het sy al die gevaartekens leer ken wat wys dit gaan nie goed nie. Vinette sê sy weet die manie kom aan wanneer Aaliyah haar bel en vinnig in ’n baie hoë stem praat. Dis hoekom dit vir hulle so belangrik is om in te check by mekaar.

“Ons check elke liewe dag in met mekaar, selfs al voel die ander een ook nie lekker nie. Jou tribe is só belangrik. Bly net in kontak met mekaar, veral in hierdie tye,” sê Vinette.

My jongste, Talia, moes eintlik my ma gewees het, want sy weet net hoe om my te hanteer,” voeg sy laggend, dog liefdevol, by. En toe kom Barakat uit die skryf- en regiepenne van Amy Jephta en Ephraim Gordon, beide jong rolprentmakers wat outentieke en kulturele sterk stories oor bruin mense vertel. Barakat handel oor ’n matriarg, Aisha Davids (gespeel deur Vinette), wat haar familie oor Eid bymekaar kry om hulle in te lig sy het nuwe liefde gevind het.

Die gemoed lig dadelik wanneer Vinette oor haar betrokkenheid by hierdie fliek begin gesels, omdat dit gekom het op ’n tyd toe sy nie net werk nodig gehad het nie, maar ook genesing vir haar siel. En sy verklaar trots en eerlik: “Barakat was die salf op my oop wond. Dis asof die Here hierdie engele – van cast tot crew – gestuur het. Amy is sag, maar feisty en sy weet presies wat sy wil hê. En Ephraim ook – ek kan hul praises heeltyd sing . . .”

Wat vir Vinette, wat al vir dekades in die bedryf werk, opgeval het, was dat niemand op die Barakat-stel ooit op mekaar geskreeu het nie. “Alles was met soveel deernis, passie en liefde gedoen.” Sy lag wanneer sy byvoeg sy was altyd die oudste op stel omdat soveel jong mense gewerk het aan die fliek.

“Maar hulle (die jong mense) is so goed grootgemaak en is so respekvol en geniet wat hulle doen. Ek wíl in wees by die jong mense. Ek wil leer by hulle, want hulle is só slim en tegnologies gevorderd. Jy kon met die (Barakat) crew praat oor enigiets!” Iets omtrent Barakat vind duidelik aanklank by gehore, want die internasionale erkennings en toekennings stroom in.

Die fliek is vroeër vanjaar by die Idyllwild Film Festival in Los Angeles vir 12 toekennings benoem, waarvan hulle vyf gewen het, vertel Vinette. Die fliek het ook die Best Narrative Feature-kategorie gewen by The Reel Sisters of The Diaspora Festival en twee toekennings (Best Editing en Best Production) by die Motion Pictures Film Festival. Dit maak Vinette net hartseer en kwaad dat hul werk oorsee erken word, “maar vir ons minister van kuns en kultuursake is ons mos niks!”

Dit gaan egter nie haar vuur blus vir die tipe werk waarmee hulle tans besig is en die tipe stories wat hulle vertel nie. Sy is netso trots op die Afrikaanse reeks Skemerdans, waarby Amy en Ephraim ook betrokke is. Sy lag lekker wanneer sy vertel hoe die hele Barakat crew saamgehuil het toe hulle die fliek klaar geskiet het, net om kort daarna weer te herenig om aan Skemerdans te werk. Dis hierdie tipe goed wat Vinette herinner dat daar nog ligpunte in die donker tye is.

In Barakat is Vinette die matriarg van ’n Moslem-gesin en omdat sy in die regte lewe nie Moslem is nie, weet Vinette daar kan dalk kritiek wees en sommige mense wat dalk wonder hoekom ’n Moslem-aktrise nie eerder daardie rol vertolk het nie. Hieroor is Vinette baie kalm: “Akteurs is verkleurmannetjies en jy moet enige rol kan speel. Ek het al ’n man gespeel in 7de Laan. Jy moet net jou huiswerk doen. “Ek hoop ek het my (Barakat-) karakter justice gedoen en dat dit authentic oorkom.”

Vinette bly glimlag deur die donker tye.

Geloof

Maar hoewel sy nie Moslem is nie, sê Vi-nette sy is van Moslem-afkoms en verstaan en respekteer die Moslem-kultuur en -geloof. “My van is Ebrahim; my oudste dogter het die Moslem-geloof aangeneem en my ander dogter het ’n Moslem-boyfriend. Ek dink ook teenkanting teen mense se geloofskeuses is oudedoos. Ek is lief vir alle mense en glo ’n mens moet respek hê vir mense se verskillende beliefs,” sê Vinette.

Sy vertel voorts haar broer het haar oorlede oupa Mohammed Cassim Ebrahim se herkoms nagevors en uitgevind hy het oorspronklik van Indië oorgekom Durban toe vir werk.

Haar oupa het sy pad na Kaapstad gevind en daarvandaan na Tarkastad in die Karoo waar hy haar ouma, ’n diep gelowige bruin Christen-vrou, ontmoet het. Haar oupa het die Christen-geloof aangeneem, maar al sy kinders Moslem-name gegee.

Hy het later weer Kaap toe getrek, waar hy in Rose-straat in die Bo-Kaap sy winkel Ebrahim & Sons geopen het. Hy het eers in Distrik Ses gebly en later tot sy afsterwe in Claremont. Toe sy jonk was, het Vinette se gemengde geloofsherkoms haar laat wonder waarheen haar eie geloofspaadjie sou lei – Hindu of Moslem? “Ek glo in God, maar ek glo daar is verskillende paaie na God.”

Dis hoekom dit vir haar glad nie ’n probleem was toe Aaliyah besluit om saam met haar man, Ayaan, die Moslem-geloof aan te neem nie. Dit het natuurlik gekom vir hul albei. Maar, sê Vinette, daar was teenkanting van sekere familielede oor haar dogter se keuse.

Sy wil nie baie meer hieroor sê nie, maar deel wel: “Daar is mense in my familie wat gekant is teen die aanneem van Islam. Hierdie goed kan families uitmekaardryf. Maar ek dink enigeen wat gekant is teen ’n ander geloof, is vir my dan vals in hul eie geloof. Ek is oopkop wanneer dit by sulke goed kom en glo jy moet doen wat jou gelukkig maak.”

En wat haar nou gelukkig maak, is om die Barakat-oomblik te geniet wanneer almal die vrugte van die span se werk kan sien en sommer ’n barakat vir hul siel uit die fliek kan neem!

* Foto's: Pieter du Toit en verskaf

* Hare, grimering en stilering: Nadja Seale

* Assistent: Alecia Green

* Klere, skoene en bykomstighede: Manilla

Meer oor:  Geloof  |  Kuier  |  Vinette Ebrahim  |  Bakarat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.