Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
'Vision board': Hou só al jou doelwitte voor oë
7 Januarie 2020

Aan die begin van 2020 het baie mense die visie gehad dat dit húl jaar gaan wees. Maar voor die jaar nog regtig begin het, moes mense hul vision boards, drome en planne herdink.

Die hashtag #2020plenty het al aan die einde van 2019 op sosiale media traksie begin kry en het sommer vinnig gewild geraak. Min het mense geweet wat eintlik op hulle wag . . . Troues, reisplanne, groot verjaardae, matriekdanse en baby showers moes uitgestel word, weens die Covid-19-pandemie wat die wêreld onverwags tot stilstand gebring het.

Ná ’n emosioneel uitdagende jaar soos 2020 is dit maklik om soms moed op te gee en heeltemal inspirasie te verloor. Sonja Mckaiser van Bloubergstrand in die Kaap en stigter van The Creative Space with Sonja, ’n lewensafrigter en eienaar van ’n vision-board-werkswinkelbesigheid, sê dit is nou belangriker as ooit vir mense om nuwe perspektief te kry.

“Ek dink baie mense kan dalk hul woema in 2020 verloor het, omdat almal op een of ander manier deur die pandemie geraak is. Inperkings en beperkings op mense se vryheid het ’n groot impak op mense se geestesgesondheid gehad, maar dit is juis hoekom dit nou so belangrik is om wel vir jouself ’n vision board te maak en weer jou lus vir die lewe en drome te kry,” sê Sonja met passie in haar stem. Sy glo nie noodwendig in ’n groot vyf-jaarplan nie en sy wil ook nie hê mense moet vision boards as ’n kristalbal sien wat jou toekoms voorspel nie. As 2020 ons enige iets geleer het, is dat jy nooit weet wat op jou wag nie, meen sy.

Jou motivering

Sonja voeg by al voel mense dit is nie die moeite werd om tyd te spandeer op vision boards ná ’n jaar soos verlede jaar nie, kan dit jou net goed doen. “Soms het mense net daai bietjie inspirasie nodig sodat hulle kan onthou dat dinge nie altyd sleg is nie en meer belangrik, dat dit nie vir altyd sleg gaan bly nie. Vision boards gee mense iets om aan vas te hou en te bly glo, veral wanneer daardie moeilike tye kom. En wanneer jy iets bereik, gee dit jou daai lekker gevoel om groter te droom en meer te wil bereik,” sê sy.

Angelique Moses (29), van Belhar op die Kaapse Vlakte, sê al het 2020 haar op baie maniere uitgedaag, kon sy een groot item op haar vision board uiteindelik afhaal. Sy was nog op hoërskool toe sy vir die eerste keer ’n vision board vir lewensoriëntering moes maak, sedertdien het sy nog elke tweede jaar ’n vision board gemaak met uitknipsels oor dinge wat sy graag nog wil doen, koop of bereik.

“My grootste begeerte was altyd om ’n huis te koop. Ons het maar arm grootgeword en moes baie rondtrek. My ouers kon nie altyd vir ons die beste gee of koop nie, maar hulle het hul laaste gegee vir ons om te gaan swot,” sê sy. “Wanneer ek deur moeilike tye gaan of soms moedeloos raak, is dit vir my lekker om te droom en te onthou waarvoor ek werk. Ek spaar al van kleintyd af en toe inflasie so begin daal, het ek onmiddellik na huise op die mark begin kyk. Ek het glad nie gedink ek sal kan koop nie, maar ek het elke dag na my vision board gekyk en gedroom oor hoe ek sou voel, hoe ek dit sou mooi maak en hoe trots dit my sal laat voel.”

Angelique het ’n huis op die mark gesien en haar kans gevat om te kyk of sy sou kwalifiseer en sy het. Sonja raai mense aan om vir 2021 van voor af te begin. Al kon jy baie van die dinge op jou huidige vision board nie in 2020 bereik nie, is dit nie die beste idee om met ’n ou vision board die nuwe jaar in te gaan nie. Dit kan jou dalk net aan teleurstelling herinner. “Jy kan steeds van dieselfde dinge op jou nuwe vision board hê, maar probeer om ook nuwe doelwitte by te voeg. Dink ook daaraan om kleiner meer bereikbare doelwitte saam met groter doelwitte te hê. Dalk wil jy uit jou ouerhuis trek of dalk is dit jou begeerte om ’n mooi tuin te hê. Dit kan so groot of klein wees soos wat jou hart begeer.”

Doen wat jou pas

Nabilah Khan (29) van Dieprivier in die Kaap sê sy het nog nooit regtig ’n vision board fisies aanmekaargesit nie. Sy wou een vir 2020 maak, maar toe gebeur die pandemie en saam met afleggings en ander uitdagings, het sy besluit om dit te los. Nou wil sy ’n nuwe jaar met ’n nuwe houding begin. “Ek wil myself motiveer deur daaglikse inspirerende bevestigings en briefies vir myself te los. Dan wil ek ook weekliks, maandeliks en langtermyndoelwitte vir myself stel,” sê Nabilah.

“Ek voel as dit iewers in my kamer opgeplak is, sal ek meer gemotiveerd wees om daaraan te werk. Op die oomblik vergeet ek dikwels van dinge wat ek graag wil doen en dan kom ek nooit daarby uit nie. Ek dink my idee van ’n vision board het ook ná 2020 verander. Voorheen wou ek graag ’n vision board met groot glamorous langtermyndrome opgeplak gehad het, maar ek dink ná 2020 het dit my geleer dat dit dalk ’n bietjie onrealisties was.”

Nabilah besef “nou” is nie vir ons gewaarborg nie en sy wil meer op korttermyndoelwitte konsentreer wat vinniger bereikbaar is. Wanneer jy korttermyndoelwitte bereik, is dit goeie motivering om vas te byt vir jou langtermyndoelwitte. So of jy nou verkies om jou doelwitte neer te skryf, ’n Pinterest-inspirasiebord te maak of dalk prentjies op ’n plakkaat te plak, is daar geen reg of verkeerde manier om ’n vision board te maak nie. Begin klein en laat jou drome saam met jou groei en verander.

Maak so jou eie vision board

Om ’n vision board te maak, sê Sonja . . .

STAP 1: Dink aan goed wat jy graag oor die volgende weke, maande of jaar wil doen, bereik of voor wil spaar. Moenie te veel dink oor hoe klein of groot dit is nie, begin met dit wat regtig op jou hart is.

STAP 2: Knip of skryf woorde uit wat by jou gedagtes of begeertes pas. Moenie bekommerd wees oor of dit realisties of onrealisties is nie. ’n Vision board is daar om jou te inspireer, enigiets is moontlik, al sal dit nie onmiddellik kan gebeur nie. 

STAP 3: Voeg prentjies of kleur by sodat dit uitstaan en plak dit iewers in jou huis waar jy gereeld daarin sal vaskyk. Jy kan dit rangskik nes jy wil, dit kan van korttermyn tot langtermyn geplak wees of dit kan deurmekaar gedoen word. Daar is geen spesifieke manier nie, jy moet dit net kan verstaan en dit moet uitstaan. 

STAP 4: Evalueer jouself gereeld om te sien hoe jy vorder en soms kos dit ’n bietjie meer werk om dinge te laat gebeur. Visualiseer jou doelwitte en maak ’n raamwerk vir hoe jy dit moontlik kan bereik. As jy oorsee wil gaan, werk ’n maandelikse spaarplan en sperdatum uit. 

STAP 5: As jy nie self seker is oor wat jy wil hê of doen nie, is dit soms ’n goeie plan om professionele hulp te kry deur iemand soos ’n lewensafrigter te besoek wat jou kan help.


Vir meer inligting oor Sonja se vision-board-werkwinkels of haar life coaching besoek sonjamckaiser.com of haar sosiale-mediaplatforms. Sessies is nou ook aanlyn beskikbaar, aangesien Sonja ook as gevolg van die pandemie aanpassings moes maak.
Meer oor:  Kuier  |  Nuwejaarsvoornemens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.