Vraag: Vloei ná 60
Ek is 66 en het weer ná baie jare begin vloei. Dis een tot twee keer per week. Ek het ook ’n bietjie maer geraak. Kan dit stres wees en wat maak ek nou?-
- Bekommerd
Antwoord
Bloeding ná menopouse (PMB) is beslis nie iets wat geïgnoreer moet word nie, want dis gewoonlik ’n waarskuwing van ’n onderliggende toestand. Menopouse is ’n natuurlike toestand in elke vrou se lewe ná die ouderdom van 45 jaar wanneer die maandstonde permanent ophou as gevolg van homoonveranderings in die liggaam.
Elke vrou wat bloeding ná menopouse ervaar, moet so spoedig moontlik ’n dokter raadpleeg om die onderliggende oorsaak te soek en te behandel. Daar kan verskeie oorsake wees, waarvan kanker die grootste kommer is om uit te skakel.
Gelukkig is dit een van die minder algemene oorsake, maar dit moet steeds uitgeskakel word weens die kans vir endometriële kanker in vroue met PMB. Van die algemeenste oorsake van PMB is vaginale atrofie (wegkwyning/uitdroging) wat veroorsaak word deur die natuurlike daling van estrogeen en verdunning van die vaginale vel. Estrogeenvaginale room of hormoonpille waarvan Premarin baie gewild is, werk effektief.
Daar is wel vele ander hormoonvervangingsopsies wat met jou dokter bespreek kan word. Groeisels (poliepe) op die baarmoedernek en endometrium is gewoonlik nie kwaadaardig nie en kan verwyder word met ’n klein eenvoudige operasie. Oorgroei of verdikking (hiperplasie) van die endometrium of voering van die baarmoeder is ook algemeen en kan vanself opklaar of met hormoonvervanging (progesteroon) behandel word.
Dit kan in die vorm van ’n pil, inspuiting, vaginale room en intra-uteriene apparaat (loop) geneem word. Estrogeenhormoonbehandeling is een van die oorsake van so ’n verdikking. Daar is ook ’n baie klein risiko dat die groeisels kankeragtig kan word. Van die minder algemene oorsake is infeksies soos tuberkulose van die vroulike organe wat behandel word met anti-tuberkulose medikasie vir ’n minimum van ses maande.
Endometriële kanker kom voor in 5% tot10% van vroue met PMB en dit gaan nodig wees om ’n ultraklank (sonar) en ’n aspirasiebiopsie van die endometrium te doen. Dis ’n eenvoudige prosedure soortgelyk aan ’n papsmeer wat in ’n spreekkamer gedoen word behalwe dat ’n klein stukkie van die voering geneem word wat dan gestuur word na ’n laboratorium vir ontleding.
Baarmoederkanker is ook een van die minder algemene oorsake wat uitgeskakel moet word met ’n inwendige ondersoek en papsmeer indien nodig. Bloeding van die urienweg of rektum word soms ook verwar met vaginale bloeding en dis ook hoekom ’n dokter of gesondheidswerker geraadpleeg moet word. Daar is ook heelwat ander seldame oorsake van PMB wat die dokter met jou kan bespreek.
Wat kan verwag word tydens ’n doktersbesoek?
Die dokter sal ’n deeglike mediese geskiedenis neem en ’n liggaamsondersoek doen wat rigting gaan gee in terme van verdere ondersoeke. ’n Inwendige ondersoek is absoluut noodsaaklik.
’n Urienetoets en bloedtoetse kan aangevra word asook ’n sonar. ’n Endometriële biopsie kan terselfdertyd gedoen word asook ’n papsmeer indien aangedui. Afhangend van die uitslae kan dit nodig wees om ’n histeroskopieprosedure te doen waartydens die endometrium deur ’n kameratjie besigtig word in die teater onder narkose of sedasie.
Dit word gewoonlik as ’n dagprosedure gedoen. Indien kanker gediagnoseer word, is histerektomie (baarverwydering), chemote-rapie en radioterapie behandelingsopsies afhangende van hoe vroeg dit ontdek is asook of dit al versprei het. Hoe gouer jy na ’n dokter toe gaan, hoe beter vir jou gesondheid.
WhatsApp die woorde KUIER DOKTER en jou vraag na 0607840589, of stuur ’n e-pos na kuier@kuier.co.za met DOKTER in die onderwerplyn.