Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vra dr. Patricia: 'n Skildklier wat sukkel
1 April 2021

Skildklier

VRAAG

Kan dokter asseblief ’n artikel oor die skildklier doen? Ek is 67 jaar oud. My vingers en voetsole asook dele van my gesig het wit gevlek. Die dokter sê ek het ’n thyroid imbalance. Wat is dit en wat kan met ’n mens gebeur? bekommerd

ANTWOORD 

Die wit vlekke is heel waarskynlik vitiligo of “wit lewer” wat geassosieer word met outo-immuunskildkliersiektes en kan ’n mens se voorkoms heelwat verander.

Vitiligo word veroorsaak deur te min kleurpigment (melanien) in die vel. Dít kan lei tot die ontwikkeling van wit vlekke oor groot areas van die vel asook wit hare.

Dit kan enige deel van die vel aantas, maar is meer algemeen op die gesig, hande en in die nek wat vir mense erge emosionele stres kan veroorsaak. Dis veral opsigtelik in diegene met ’n donkerder gelaatskleur.

Toetsing van vitamien D word aanbeveel omdat lae vitamien D-vlakke algemeen gesien word in pasiënte met outo-immuunsiektes soos vitiligo en Hashimoto se siekte. Die skildklier is ’n klein, skoenlappervormige klier in jou nek net onder jou adamsappel. Die skildklier se hooffunksie is om tiroïedhormoon te maak wat noodsaaklik is vir al die funksies in die liggaam.

Illustrasie: Ryan Carolisen

Dit beheer die liggaam se metabolisme, speel ’n groot rol in die geestestoestand of gemoed en is belangrik vir voortplanting. Oorsake van skildklierprobleme is blootstelling aan omgewingsgifstowwe, oorerflike siektes, stres, jodiumtekort, outo-immuunsiektes (byvoorbeeld Hashimoto se siekte), infeksies (virus of bakterieë), medikasie soos Lithium, Amiodarone, sekere TB-pille, skildklieroperasies en ander hormoonwanbalanse.

Wanneer die skildklier te min (onderaktief) of te veel (ooraktief) hormone vervaardig, veroorsaak dit ’n wanbalans met onaangename simptome wat jou lewe drasties kan beïnvloed.

Onderaktiewe skildklier lei tot moegheid, depressie, spierpyne, hardlywigheid, gewigstoename, koulikheid, menstruasieprobleme, droë en harde hare, dik en droë vel, geswelde ooglede, diep stem, stadige hartklop, doofheid, dik tong, vroegtydige grys hare en afname in seksdrang. Indien te veel tiroïedhormoon afgeskei word, veroorsaak dit simptome soos angs-tigheid, hartkloppings, gewigsverlies en menstruasie- en vrugbaarheidsprobleme.

’n Bloedtoets is die akkuraatste manier om skildklierprobleme te diagnoseer. Skildklierbloedtoetse (TSH, T4/T3) meet die hoeveelheid tiroïedhormoon in bloed is en dit dui aan hoe goed die skildklier werk. Die bloedtoets word dan ná ses tot agt weke herhaal nadat die medikasie aangepas is totdat die vlakke normaal is en daarna word dit jaarliks gemonitor.

Hashimoto se siekte lei tot ontsteking en vernietiging van die skildklier oor ’n paar jaar met gevolglike hipotireose. Dis ’n outo-immuunsiekte, wat beteken dat jou immuunstelsel jou skildklier aanval deur teenliggaampies wat die liggaam self maak. Die toestand kan oorerflik wees en kom meer algemeen voor by middeljarige vroue, maar kan ook kinders en mans affekteer.

Soms is daar fases van ooraktiwiteit (hipotireose) wat die risiko verhoog vir tiroïedknoppies, goiter (’n vergrote skildklier) en ’n effens verhoogde risiko vir skildklierkanker. Die behandeling van ’n onderaktiewe skildklier is pille (Levothyroxine) om die tiroïedhormoon terug te sit. Dit moet daagliks geneem word om die bloedvlakke te normaliseer. Lewenslange behandeling is meestal nodig.

’n Ooraktiewe skildklier word behandel met medikasie en dikwels radioaktiewe jodium. Daar is ook baie tiroïedaanvullings beskikbaar by apteke of gesondheidswinkels om die skildklierfunksie te ondersteun.

Probeer ’n gesonde gewig handhaaf asook matige aktiwiteit of oefening in jou daaglikse roetine inwerk. Lees aanlyn op oor jou siektetoestand of vra vir inligtingspamflette by die kliniek, jou dokter se spreekkamer en apteke. Vind ’n goeie dokter wat jou verstaan, wat jy kan vertrou en met wie jy ’n goeie verstandhouding kan bou.

WhatsApp die woorde KUIER DOKTER en jou vraag na 0607840589, of stuur ’n e-pos na kuier@kuier.co.za met DOKTER in die onderwerplyn.


Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.