Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vrou ná dekade se gesukkel ’n dokter
22 Julie 2021


Hierdie is ’n verhaal van uithou en aanhou, ondanks baie teleurstellings. Dis ook ’n verhaal met ’n gelukkige einde, al het dit baie lank gevat om daar te kom. Einde verlede jaar, net duskant haar veertigste verjaardag, kon Jaqueline Matroos uiteindelik “dokter” voor haar naam skryf.

Dié 39-jarige boorling van Windvogel in Gqeberha het geweier om moed op te gee, al is sy vir langer as ’n dekade by al wat ’n mediese fakulteit is toelating geweier. Dit was nou tot 22 Januarie 2014 – nogals op haar verjaardag – toe wyle prof. Russel Bothman, destydse rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), onverwags haar aansoek goedgekeur het.

Haar véértiende aansoek daar. Jaqueline, die oudste van twee susters, het in beskeie en moeilike omstandighede grootgeword. Haar pa het maar altyd tussen werke rondgeval. “Hy het baie gedrink en was verbally abusive. As hy so dronk huis toe gekom het, moes ek in die middel van die nag na my ouma toe hardloop,” onthou sy.

Deure klap toe

Met haar ma se skamele inkomste as skoonmaker kon sy maandeliks eintlik maar net die heel nodigste vir hul gesin bekostig. Daarom sou Jaqueline klokslag elke aand omgaan na ouma Spaas toe. “Sy het sulke rooi en geel en pienk enamelbakkies gehad waarin sy dan vir ons aandkos ingeskep het.” Toe Jaqueline so twaalf, dertien jaar oud was, het haar ma weens depressie in ’n inrigting beland.

“Ek moes na my suster, Flaurencia, kyk en huis skoonmaak agter my dronk pa.” Dit was toe dat ouma Spaas hulle kom haal het. Hulle het nooit weer teruggetrek nie.

Sy ondersoek ’n pasiënt.
Dis my roeping om mense te help, maar ook om op hulle level te explain wat fout is met hulle.

“My ouma was my ma en my protector,” sê Jaqueline met net die grootste deernis. Dis vir haar moeilik om te verwerk dat haar ouma oorlede is voor sy kon deel in haar dokterwees-vreugde. Jaqueline het aan Hillside Sekondêr naby hul huis gematrikuleer. Hier teen graad 11 het sy besef sy wil medies gaan studeer.

Die aanvanklike dryfveer, sê sy eerlik, is dat sy regtig moeg was vir swaarkry. Maar swaarkry sou nog lank met haar wees. In 1999 het sy met matriekvrystelling geslaag, maar sy kon nie vir medies aansoek doen nie omdat sy nie wiskunde en natuur- en skeikunde as matriekvakke gehad het nie. Dis toe wat sy besluit het om matriek oor te doen. Hoewel sy sowel wiskunde as natuur- en skeikunde deurgekom het, het sy nie met vrystelling geslaag nie.

Tog het sy bly glo dat sy iewers vir medies gekeur gaan word. Toe haar aansoek die eerste keer by elke liewe mediese skool afgekeur word, het sy haar by die destydse Vista-universiteit in Gqeberha vir ’n BSc-IT-graad ingeskryf. Die finansiële bystand wat sy van NSFAS, ’n regeringskema, ontvang het, was nie genoeg nie en sy was genoodsaak om ook ’n voltydse werk by die Wimpy te aanvaar.

“Dit was baie, baie hectic.” Sy onthou hoe sy eendag net eksamen wou begin skryf toe iemand haar telefonies ingelig het dat die oond van die Wimpy aan die brand geslaan het. Daar was geen ander uitweg as om haar daarheen te haas nie.

“Ek het die vraestel gedruip omdat ek daar was, maar dit nie geskryf het nie.” Dit het daartoe bygedra dat sy haar vierjaargraad uiteindelik in vyf jaar voltooi het. “Maar daar was ook my family issues, en IT was nie my passie nie.”

Werk om te oorleef

Haar doktersdroom wou maar nie wyk nie en sy het besluit om aan te hou studeer in die hoop dat sy uiteindelik by ’n mediese fakulteit toegelaat sou word. In ’n stadium het sy haar op Stellenbosch bevind, waar sy besluit het om ’n tweede BSc, dié keer in menslike wetenskap, aan te pak. Sy was op haar eie, sonder blyplek of ’n inkomste, terwyl daar oor haar aansoek besluit is.

Terwyl sy moedeloos met haar sakke voor die Administrasiegebou gesit het, het sy en ’n skoonmaker, Katriena Davids, begin gesels. Toe sy hoor Jaqueline het nie slaapplek nie, het sy net gesê: “Nee, my kind, jy kom bly by my.” Jaqueline se stem breek. “Ek het toe by haar in Idasvallei gaan bly. Elke dag is ek saam met haar in universiteit toe totdat hulle my goed kon uitsorteer.

En stuk vir stuk het als reggekom. Ek het beursgeld en verblyf in die koshuis Metanoia gekry.” Haar tyd op Stellenbosch was die beste tyd van haar lewe, weet sy nou in retrospect. Maar dinge was steeds nie maklik nie. Sy het vir die verlengde kursus van vier jaar aansoek gedoen, maar dit uiteindelik in ses jaar klaargemaak.

In daardie tyd het sy verskillende werke gedoen – van hulle gelyktydig – net om te oorleef. Sy was ’n deurwag by koshuise, het tydskrifte soos die Matieland uitgedeel, etenstye vir sekretaresses in die Administrasiegebou ingestaan, in die universiteitsbiblioteek gewerk, skoonmaakwerk in die rektor se kantoor gedoen, mense tydens gradeplegtighede by die deur verwelkom . . .

Sy en haar seun, Caleb-Joshua, nadat sy haar mediese studies voltooi het.

Teen die tyd wat sy haar kursus voltooi het, was sy primaria van die koshuis Huis de Villiers. Toe sy nie werk as wetenskaplike kry nie, het sy as kassier by die plaaslike Pick n Pay ingeval. Ná twee jaar is sy terug na haar grootwordstad, waar sy vir nóg vier jaar ’n kassier by Spar was. Steeds het sy getrou elke jaar wyd aansoek gedoen om tot medies toegelaat te word.

In ’n stadium het sy haar bed en twee bedkassies verkoop vir reiskoste Noorde toe om self te gaan uitvind hoekom die destydse Medunsa – volgens haar ’n mediese universiteit met laer toelatingsvereistes as die res – haar ook nie aanvaar nie. Terwyl hulle daaraan aandag gegee het, is sy terug Stellenbosch toe, waar sy aansoek gedoen het vir toelating tot ’n nagraadse onderwysdiploma.

Kort daarna het ’n universiteitswerknemer haar telefonies na die Administrasiegebou ontbied. Toe Jaqueline hoor dit het niks met haar onderwysaansoek te doen nie, het sy sommer by voorbaat ’n humeur opgebou omdat sy oortuig was sy gaan net weer hoor haar aansoek is by die mediese fakulteit verwerp. Die werknemer het ’n boekie na haar toe gedraai en gesê: “Lees.”

Jaqueline aan diens.

Dit was asof Jaqueline niks kon inneem nie. Maar toe die vrou van agter die lessenaar opstaan en om die tafel begin loop, was dit vir haar soos déjà vu – asof sy dié toneeltjie al vantevore gesien het. Die vrou het gewys na die deel wat in rooi geskryf was: Accepted by Prof. Bothman. “Ek het net begin skree.” Hoe was dit toe om op die Tygerberg-kampus medies te studeer?

“Slegter as wat ek gedink het,” sê sy prontuit, hoewel sy die vakke baie geniet het. “Ek was baie ouer as die ander studente en die finansies was steeds ’n struggle. Ek moes eksamenvraestelle merk om myself te onderhou en het elke jaar hereksamens gehad. En daar was altyd family issues.” Gelukkig het sy in haar derde jaar haar sakeman-boyfriend, Bradley Plaatjies, ontmoet. Hy kon haar daarna finansieel dra. Jaqueline het die sesjaarkursus uiteindelik in sewe jaar voltooi, en einde verlede jaar het sy virtueel graad gevang. “Ek het net gehuil.”

Tans doen sy haar internskap by die Livingstone-hospitaal in Gqeberha. “Dis my roeping om mense te help, maar ook om op hulle level te explain wat fout is met hulle.” Sy weet dis waar sy behoort, al het sy studieskuld van amper R800 000. “Dis die prys wat ek vir my droom moet betaal,” sê sy gelate.

“Ek wil almal in my familie help, maar besef ek kan nie nou nie. Eendag sal ek kan.” En dis ’n vreugde om haar storie te deel, veral omdat sy daarmee eer aan God kan bring.

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.