Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Wayde van Niekerk se pad na herstel
28 November 2018
Wayde van Niekerk

Hy is ons land se goue seun en al het ons hom meer as 18 maande laas op die baan gesien, hou Suid-Afrikaners asem op vir wanneer hy weer die wêreld aan die brand gaan hardloop.

Dié boorling van Kraaifontein in die noordelike voorstede van Kaapstad, is trots Suid-Afrikaans en om die groen en goud by internasionale atletiek-byeenkomste te dra, bly vir hom ’n groot voorreg. Wie sal ooit daai glorieryke oomblik vergeet toe Wayde in 2016 lag-lag onder die res van die deelnemers by die Olimpiese Spele in Rio De Janeiro, Brasilië, uitgehardloop het?

Hy het egter voor ’n groot terugslag te staan gekom wat die hele land laat skrik het.

Wayde is ’n groot rugbyliefhebber en het in Oktober 2017 in ’n voorwedstryd vir die Springbokke se kragmeting teen die All Blacks op Nuweland in Kaapstad ’n ernstige kniebesering in ’n touchrugby-wedstryd opgedoen. Dit was ’n groot terugslag vir Suid-Afrika se groot sport fans, want dit het beteken dat Wayde nie met sy spanmaats Suid-Afrika vanjaar by die Statebondspele en ander internasionale atletiekbyeenkomste kon verteenwoordig nie.

OORKOM BESERING

Wayde en Chesney op hul troudag.

Ná sy besering in 2017 moes hy vele besoeke aan dokters en spesialiste regoor die wêreld aflê. Hy het ’n operasie in Amerika ondergaan en daarna sy herstelproses in Suid-Afrika en Doha, Qatar, voortgesit. Wayde het sy rehabilitasieproses onder die wakende oog van die wêreldbekende dr. Louis Holtzhausen begin. Dr. Holtzhausen is ’n voormalige spandokter vir Suid-Afrika en ken dus vir Wayde baie goed.

Wayde sê: “Dr. Holtzhausen het my onder sy vlerk geneem en gesê dat alles reg sal kom en dat ek weer sal kan hardloop. Sy gerusstelling het baie vir my beteken.”

Wayde is nou besig met die laaste ronde van sy rehabilitasieproses en gaan binnekort weer ’n spesialis in Doha sien om te hoor wanneer hy weer sy spikes kan aantrek om sy land op die hoogste vlak te verteenwoordig.

Hoewel sy anterior kruisligamentbesering in sy knie baie ernstig was, was daar nie vir een oomblik twyfel by die 26-jarige spoedvraat dat dit nie die einde van sy loopbaan sou wees nie. Hy wou net herstel en is nou meer as ooit vasbeslote om weer aan atletiekbyeenkomste deel te neem en ook sy tye te verbeter.

“Ek wil nou net die besering agter my sit en weer op die baan kom. Gedurende my tyd op die kantlyn, kon ek my loopbaan en die items waarin ek deelneem herevalueer en ook beplan hoe om my vertoning te verbeter. Ek hardloop alreeds ’n maand voluit en ek en my afrigter, tannie Ans Botha, is besig met beplanning vir die pad vorentoe,” vertel hy.

Wayde werk hard om weer fiks te word.

Hoewel Wayde die Statebondspele in Australië weens sy besering misgeloop het, is hy trots op wat sy landgenote daar vermag het. “My ingesteldheid was nie om kwaad te wees omdat ek nie aan die Spele kon deelneem nie. Ek het eerder op die sukses van my landgenote gefokus. Ek was baie trots op die 37 medaljes wat hulle huis toe gebring het.”

Gedurende sy tyd op die kantlyn reken Wayde hy het baie lesse geleer, maar dat dit ook vir hom ’n tyd was om op dinge anders as atletiek te fokus. Hy het ook sy geliefdes en ondersteuners bedank vir hul ondersteuning en geduld gedurende sy besering.

Op ’n persoonlike vlak het sy lewe net vooruitgegaan, want op 27 Oktober 2017 het Wayde met die liefde van sy lewe, Chesney Campbell, getrou.

Wayde reken dat die besering dalk ’n bedekte seën was. Hy en Chesney (25) is kort ná sy besering getroud. “As gevolg van my besering hoef ek nie baie gereis het nie. Ek kon dus vir ’n groot gedeelte van ons eerste huweliksjaar baie meer tyd met haar spandeer,” vertel hy.

Chesney en Wayde het mekaar as studente in Bloemfontein ontmoet en dit is ook waar sy deesdae as sosioloog werk.

SIEN UIT NA FEESTYD

Wayde sê Chesney se ondersteuning het geweldig baie vir hom beteken. “Om met haar getroud te wees, is ’n unieke ervaring en een wat vir my as persoon laat ontwikkel en verbeter het. Selfs voor ons getroud was, was sy altyd daar vir my en het sy my loopbaan ondersteun. Sy motiveer my ook as ek ongelukkig of moeg is. Sy is my rots en ek is regtig geseënd om haar in my lewe te hê.”

Wayde beklemtoon ook dat dit vir hom belangrik is om ’n goeie balans tussen sy privaat lewe en dié van sportster en atleet te hê. Tussen die herstelproses en getroude lewe kon hy ook aan borge se vereistes voldoen en tyd met sy familie spandeer.

Sy neef, Cheslin Kolbe, het juis vroeër vanjaar sy debuut vir die Springbokke gemaak. Wayde sê hulle het ’n baie noue band. “Toe ek hoor hy is in die groep het ek hom net gelukgewens, maar toe hy in die wedstryd vir die kragmeting teen die All Blacks gekies is, het die opwinding eers begin. Veral omdat dit teen die All Blacks was – ’n span wat ons as kinders gevolg het en mal was oor die tipe spel waarmee hulle vorendag gekom het. Toe Cheslin sy drie gaan druk het, was ek buite myself van opgewondenheid. Ek het altyd geweet hy is goed genoeg om op die hoogste vlak te speel. Ek is bly vir dit wat hy sover bereik het en ek glo hy het ’n blink toekoms in die Springboktrui.”

Met 2018 wat nou einde se kant toe staan, sê Wayde hy gaan die komende feestyd met sy familie spandeer.

“Sedert ek in 2015 die eerste keer wêreldkampioen geword het, kon ek nie gereeld Kersfees by die huis wees en my familie sien nie. Maar hierdie jaar gaan ek dit beslis doen en soveel tyd moontlik met my familie en vriende spandeer en ook hier vakansie hou.”

Wayde en sy familie bly in Bloemfontein en dit is ook hier waar hy en sy afrigter, tannie Ans, besig is om hom beseringvry en fiks te kry – gereed om weer wêreldatletiek te oorheers.

Sy boodskap aan Kuier-lesers is: “Om ’n geseënde Kersfees te hê en die jaar goed af te eindig en wanneer dit aanbreek, die beste van 2019 te maak.”

Maar wat kan ons in 2019 van Wayde van Niekerk verwag? “Alles hang af van wat binnekort in Doha gaan gebeur. Indien ek daar goeie nuus kry, sal ons ’n datum vir my terugkeer na die atletiekbaan bekend maak. Ek wil nie nou al ’n datum gee nie, want dit sal onnodige verwagting en druk op my en my span plaas. Vir nou wil ek eers net volkome herstel en die feestyd met my geliefdes geniet.”

Meer oor:  Kuier  |  Wayde Van Niekerk  |  Atleet  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.