Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Werkplek: 'Reinvent' jouself om werk te kry
7 Januarie 2020


Met Suid-Afrika se hemelhoë werkloosheidsyfer – aangehelp deur Covid-19 – moet mense aan innoverende maniere dink om kos op die tafel te sit. Om te dink dat sy van alle dinge deesdae lekkers verkoop, sê Yolanda Lourens, en skud haar kop in ongeloof. “Dis die absoluut teenoorgestelde van wat ek voor lockdown gedoen het.”

Yolanda was ’n personal trainer by ’n gewilde gym, maar Covid-19 het haar skielik – soos so baie mense wêreldwyd – werkloos gelaat. Hoewel enkele kliënte haar aan die begin steeds betaal het, het hierdie enkelma van twee besef dat sy enigiets sou moes aangryp om te oorleef.

Yolanda het in daardie stadium ’n meenthuis in Stellenryk, Bellville, in die noorde van Kaapstad, gehuur. Haar bejaarde buurvrou het kort tevore ’n arm en ’n been gebreek, maar nie met haar versorgers oor die weg gekom nie. Toe sy hulle aan die begin van lockdown laat gaan, het Yolanda ingespring om te help. Sy het geen versorgingsondervinding gehad nie en dit was ontsettend moeilik, vertel sy van daardie drie weke, maar deurdruk was die enigste opsie. Daarna het sy maskers gemaak en verkoop. Dit het aanvanklik baie goed gegaan totdat die mark versadig geraak het omdat so baie ander desperates dieselfde pad gevolg het.

Begin klein en brei uit

Toe onthou Yolanda dat sy op ’n kennis se WhatsApp-profiel gesien het dat sy lekkers verkoop. Met letterlik haar laaste R300 het sy vyf pakke lekkers aangekoop. Dit was absoluut senutergend, maar nadat sy op haar kerk se WhatsApp-groepe geadverteer het, het dit vinnig uitverkoop en het mense bestellings begin plaas.

Toe Yolanda kort daarna hoor van ’n plek “in die gopse” waar sy duur sjokolade en lekkers teen billike pryse kan kry, het haar besigheid verder spoed opgetel. Sy kon nog nie haar volle huur dek nie, maar het elke maand minstens die helfte betaal. Die aanmanings het egter begin instroom en ná die derde maand het die eiendomsagent haar meubels kom opskryf.

“Met elke aanmaning was dit soos iemand wat jou keel toedruk,” onthou sy. Sy het uiteindelik vrywillig uitgetrek, woon nou in ’n tuinwoonstel in Durban-ville en betaal steeds af aan haar amper R50 000 se agterstallige meenthuishuur. Die goeie nuus is dat haar besigheid so uitgebrei het dat sy nou ook items soos bevrore bessies en roomys verkoop, en selfs soetgoed aan ’n familielid in Gansbaai verskaf sodat sy dit kan verkoop. Yolanda het intussen haar bemarking op sosiale media uitgebrei na platforms soos Facebook, en het ná die verslapping van die lockdown-regulasies met privaat personal training en huis-oppas begin vir ’n bykomende inkomste.

“Hou jou hoop op God en moet nooit opgee nie. Daar is altyd, altyd hoop,” is haar raad aan ander werkloses. Tog sukkel baie mense om hulself ná ’n terugslag te reinvent. Indien jy tans werkloos is, moet jy vasstel wat die uitwerking van die pandemie op jou industrie was en jouself toerus om binne die nuwe normaal te funksioneer, sê Re-an Müller, senior dosent in bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit.

“Daar’s tans ’n groot skuif na aanlyn werk en aanlyn besigheid doen. Rus jouself toe om aanlyn te funksioneer deur jou rekenaarvaardighede en alles wat daarmee gepaardgaan, op te skerp.

As jy in bemarking is, rus jouself toe om aanlyn bemarking te doen. Daar is soveel goeie kursusse wat jou hierdie vaardighede kan leer,” sê Re-an en lig die volgende uit:

www.coursera.org

learndigital.withgoogle.com/digitalgarage/courses

www.skillshare.com

“Moenie ’n ‘victim’-mentaliteit aanneem, passief wees en dink jou kwalifikasie en ervaring tot op hede gaan genoeg wees nie,” vervolg hy. “Jy moet jou vaardighede deurlopend opskerp om relevant te bly, en dit geld of jy werkloos is of nie.”

Aanvaar dat jy dinge gaan probeer wat nie gaan uitwerk nie, maar beskou dit as ’n stap vorentoe en nie terug nie, sê Niel Johnson, ’n business coach van Kaapstad. “Uit elkeen leer jy ’n les en iets oor jouself. Dis belangrik om nie moed op te gee nie.”

As ’n mens werkloos is, is dit uiteraard meer uitdagend om jouself te reinvent as wanneer jy steeds werk omdat tyd nie aan jou kant is nie, voeg hy by. “Fokus in so ’n geval aanvanklik op jou sterkpunte eerder as om jou swakpunte te probeer ontwikkel. Begin deur vas te stel waar jou vaardighede en kennis lê, en probeer om gapings in die mark te sien.” Jy sal die vinnigste vooruitbeweeg as jy tap uit jou reeds bestaande netwerk, is sy raad aan entrepreneurs.

“Maak kontak met almal met wie jy al vantevore kontak gehad het en kyk of daar nie dalk deure vir jou oopgaan nie.” En onthou, in vandag se tye is sosiale media jou vriend as dit by bemarking kom, sê Niel.

“Jy kan met min moeite by baie mense uitkom as jy dit reg gebruik.” Hy weet van heelwat klein besighede wat Instagram ernstig en met goeie resultate inspan. Só het ’n vriend onlangs begin om meubels van hoogstaande gehalte te vervaardig en dit op Instagram te bemark. Hy sorg egter dat die fotografie ook van hoogstaande gehalte is. ’n Bed word byvoorbeeld nie net as ’n stuk hout bemark wat in ’n kamer staan nie – daar word ook op goeie beligting en mooi prente teen die mure gefokus sodat dit ’n lewenswyse oordra.

Jy moet jou vaardighede deurlopend opskerp om relevant te bly, en dit geld of jy werkloos is of nie.

Pas aan en floreer

Mauritz Bekker, wat vroeër ’n entrepreneur-sakeskool bedryf het en deesdae op entrepreneursontwikkeling fokus, het die volgende raad as jou besigheid gevou het:

• Doen selfondersoek om seker te maak wat werklik jou passie(s) is. Bly fokus op dit wat jy geniet om te doen.

• Onthou dat enige produk of diens ’n oplossing vir ’n probleem bied. Fokus daarom altyd op probleme om sakegeleenthede te vind. Dis soos ’n diamant wat onder die grond lê en ’n doel kry wanneer jy dit uithaal.

Covid-19 dwing almal om nou buite die boks te dink, sê hy – iets wat hy self moes doen. Sy korporatiewe finansiering vir aanlyn vaardigheidsontwikkeling het opgedroog en hy was verplig om vir die eerste keer ernstig op die internet en op sosiale media te bemark.

Boonop het hy kort voor lockdown ’n heup gebreek toe sy perd geskrik en agteroor geval het terwyl hulle langs die see gery het. ’n Nuwe produk het egter hieruit voortgevloei. Terwyl hy fisies aan bande gelê was, het Mauritz besluit om ’n video te vervaardig waarin die betrokke perd die hoofrol speel. “Perdry is my passie en ek weet dat baie mense hul probleme met perde deel,” verduidelik hy.

Die gedagte was dat sy perd kinders sou help wat om watter rede ook al moeilik kommunikeer. Hy het die perd as rescue gekry en Mauritz het gevolglik ’n draaiboek geskryf waarin die perd – oftewel ’n virtuele weergawe van hom – sy “sad-nice” lewensverhaal vertel, met genoeg tyd wat oopgelaat word sodat ’n kind ook sy of haar probleme of stories met die perd kan deel.

Die video het net voor Kersfees op die mark gekom. Nog iemand wat die bul by die horings gepak het, is Louise van der Walt van Bellville, wat joga- en pilatesklasse privaat sowel as by gyms aangebied het. Toe die lockdown aangekondig word, het sy dadelik haar totale sakemodel verander deur aanlyn te gaan. Sy beskryf dit as ’n wonderlike nuwe geleentheid wat aan haar toegang gegee het tot baie meer mense en ’n heel nuwe audience terwyl sy haarself herontwikkel het.

Terselfdertyd het die druk op haar verminder omdat sy meer mense met een sessie kon bereik. Sy bied vyf klasse per week aan en hou die maandelikse koste veel laer as wat net een privaat klas elders kos. Die grootste uitdaging was ’n geskikte plek tuis om die aanlyn klasse aan te bied en om oor beligting en klank te leer. Haar nuwe sakemodel werk egter so goed dat dit selfs ná die harde lockdown steeds die kern van haar besigheid uitmaak. “Moenie bang wees vir verandering nie en moenie bang wees om foute te maak nie,” is haar raad aan ander mense.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Kuier  |  Werkplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.