Met die laaste sitting van die destydse Driekamerparlement op Woensdag 22 Desember 1993 in Kaapstad is finaal afskeid geneem van ’n (wit) minderheidsregering in Suid-Afrika – en is plek gemaak vir die huidige meerderheidsregering.

Die laaste wit speaker van die parlement het ook by die geleentheid opgetree. Hy het die gesamentlike sitting van die drie huise – dié vir wit, bruin en Indiër – dié dag om 18h57 afgesluit met die woorde: “Orde! Dit sluit dan die geskiedenis van vandag af.”

Met die onlangse dood van die einste speaker is afskeid geneem van ’n veteraan wie se lewe ’n toonbeeld was van iemand wat ondanks nederige kinderjare uiteindelik van die hoogste openbare ampte beklee het.

Hy was oom Eli Louw van die Namakwalandse dorp Loeriesfontein wat in Maart op 88 jaar in ’n aftree-oord op Worcester oorlede is. Sy vrou, tannie Gezina, ’n getroue Landbouweekblad-leser en stigter van die windpompmuseum op Loeriesfontein, het hom vier maande tevore ontval.

Oom Eli was jare lank familieprokureur, afslaer, burgemeester en veeboer op Loeriesfontein voordat hy op 50-jarige ouderdom politiek toe is. In sy 16 jaar in die politiek het hy gevorder van agterbanker tot minister van verskeie portefeuljes en speaker van ’n parlement wat die weg vir die bedeling ná 1993 gebaan het.

Sy lewensverhaal getiteld Oor my pad het in 2009 verskyn. Hy het die boek geskryf en laat uitgee met die samewerking van sy skoonseun prof. Attie Gerber, dosent in dokumentêre video en fotografie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Oom Eli het nederige kinderjare gehad. Sy pa en ma was trekboere sonder ’n huis of ’n plaas en het ’n bestaan gevoer deur met hul vee rond te trek.

Klein Eli is in die vroeë lente van 1927 in ’n tent langs ’n trekwa op die plaas Hou Hoek in die Agter-Hantam van Calvinia gebore. Hy was die naasjongste van sewe kinders. Sy pa-hulle het in daardie stadium weiveld by die eienaar van Hou Hoek gehuur.

Hy was ses jaar oud met die groot droogte in 1933 en die gepaardgaande wêreldwye ekonomiese depressie. Omtrent 80 persent van sy pa se kudde het van maerte gevrek. Hul stapelvoedsel was maer vleis, boermeelpap en boerbrood.

In 1935 is hy skool toe op Loeriesfontein, 100 kilometer van waar hulle gesetel was. Die tog met ’n ysterbandkar, getrek deur vier donkies, het twee dae geduur.

Op die dorp was hy ’n inwoner van die NG kerk se koshuis vir behoeftige kinders. Hy en sy skoolgaande broers en susters het net elke kwartaal huis toe gegaan.

Op skool is hy oor sy naam gekonfronteer. Sy pa, Nico, het klein Eli ná sy geboorte as Hendrik Jacobus geregistreer. Dit was die manlike verwerking van sy ma, Hendrika Jacoba, se name.

Sy ma wou egter haar suster, Bettie, vernoem. Gevolglik is hy ter ere van tant Bettie as Anna Aletta Elizabeth gedoop, hoewel hy as Hendrik Jacobus geregistreer was. Hy is wel Eli genoem, afgelei van Elizabeth.

Oor sy “omkeernaam” – en dit nogal ’n meisienaam – het oom Eli later vertel: “In standerd agt het die inspekteur, mnr. Zuidmeer, ons klas besoek. Terwyl hy na die dogters kyk, vra hy Anna Louw om voor te dra uit A.G. Visser se gedigte.

“In die grootste verleentheid staan ek tussen die seuns op en almal lag oor my verleentheid, en oor die inspekteur se verbasing! Ek het nogtans deurgedruk.”

Die kwessie oor sy naam is in dieselfde jaar besleg toe sy ouer suster voorgestel het dat hy die naam Eli behou en dat hul ma se nooiensvan, Van der Merwe, daarby gevoeg word. Sy doop- en geregistreerde naam is toe na Eli van der Merwe Louw verander.

In November 1977 is Eli Louw onbestrede verkies tot parlementslid vir die kiesafdeling Namakwaland en die enklawe Walvisbaai in Suidwes-Afrika (Namibië) wat toe nog deel van Suid-Afrika was.

In die volgende 16 jaar tot met sy uittrede uit die politiek in 1993 was hy agtereenvolgens agterbanker, adjunkminister van finansies, minister van begroting van die volksraad, minister in die kantoor van die staatspresident, minister van Suid-Afrikaanse vervoerdienste, minister van mannekrag en speaker.

Tydens sy termyn as minister van vervoerdienste het die opspraakwekkende Helderberg-vliegramp in November 1987 plaasgevind, is rook op die binnelandse vlugte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens verbied, was hy betrokke by die ontwikkeling van die Victoria & Alfred-waterfront in Kaapstad, is die Hugenote-tonnel by die Du Toitskloof-pas 1988 geopen, en is afsonderlike treine vir blankes en nie-blankes deur hom afgeskaf toe hy in die nag van Dinsdag 7 Junie 1988 stil-stil die eerste apartheidsbordjies in die voorstedelike treine in die Kaap laat verwyder het.

Toe oom Eli as minister oor sy arm grootwordjare gepols is, het hy gesê dit was ’n belangrike element in sy vorming. “Armoede het ’n onuitwisbare indruk op my jong gemoed gemaak; nie in ’n neerdrukkende vorm nie, want die oorgrote meerderheid mense was arm. Dit was die ervarings wat ek beleef en aan eie lyf gevoel het, wat my vindingryk en sterk gemaak het, met ’n vermoë om te oorleef. My waardevolste kwalifikasie is die feit dat ek arm grootgeword het.”