Wors, lekker sappig. Net genoeg kruie, niks oorheers nie, jy moenie seker wees wat is alles daar in nie. Tiemie en koljander, naeltjies en sout en peper, asyn en “woestersous”. My skrywe oor die vegetariërs het my mond laat water vir regte boerwors, ja so word dit genoem, in Kook en Geniet. Wors, nie te gaar nie, hap hom, dan moet jy jou sluk ken dat die sous nie by die mondhoek afloop nie. Dreig nou al geruime tyd om weer te maak. Lekker veelsydige wors, ontbyt met wors en pap en ´n lekker sous, middagete met fyn aartappels en vanaand op die kole.

Hier tussen die Duitsers, is ´n groot verskeidenheid worse beskikbaar: Beerwurst, Bratwurst, Knackwurst, Fleischwurst, Thüringer Rotwurst, Kochwurst, Beutelwurst. Meesal net gemaak van vark, vol knoffel. Niks, naasteby, soos wat ons aan gewoond is nie.

Wors het baie goed eetbaar gekom, was te lui vir daardie spek, in blokkies gesny, dít maak tog ´n verskil. Net 12 kilogram gemaak, goeie vleis en vark gebruik. Met die vark in, word dit gou galsterig en moet mens dit binne 3 weke opeet. Regte, egte derms gebruik. Dít, is nog beskikbaar, by slaghuise hier, mooi wit gekrap. Dalk te puntenerig, voel of daardie stopper die wors te ferm stop. Voel of die ou handmodel vleismeule die wors beter gestop het. Wat sê die kenners?

Baie Suid-Afrikaners ken nie meer die smaak van egte Boerewors nie. Gebruik daardie kommersiële mengsels, wat wors, maar net soos slaghuis wors laat smaak. Het dit agter gekom toe ek en my oorlede vriend Prentis, gereeld by die krieket daar in Bloem, gebraai het, maar te lui was om ons eie braaier saam te neem, wat maak jy tog met hom as jy ´n seisoenkaartjie op die pawiljoen het. Soek dan iemand wat klaar gebraai het, die weldoener is dan met ´n lekker stuk beloon. Deur die bank, was daar groot entoesiasme vir ons wors en wou almal weet waar dit te koop was.

Dit lyk asof die tradisie van daardie slagbees vir die winter,  self te bewerk, aan die uitsterf is. Baie bees word eenvoudig by die slagter afgelaai om alles te doen en natuurlik ook die wors volgens sy resep te maak.

Goeie tuisgemaakte wors, bly ´n wenner. Natuurlik soveel resepte as wat daar smake is.

Hasta la proxima