Gisteraand gesels ons familie oor veeartse se tariewe om na honde om te sien. My swaer se worsie is pas reggemaak en Skoonpa vertel toe van sy Jack Russell wat raakgery is en 'n beenbreuk opgedoen het.

Pa het hom na 'n veearts in die Strand geneem, maar die was bietjie "onder die weer" en Pa is toe inderhaas met sy hond daar weg, Caledon toe, waar die been gespalk is.

Dit laat my toe dink aan ons verblyf in Pretoria, toe ons 'n redelike groot hond gekry het na 'n inbraak. Ewenwel, die hond moes sy inspuiting kry en op 'n Saterdagmiddag sit ek toe met hom af na die naaste veearts.

Daar was geen ander kliente in die praktyk nie en die man het gesit en rugby kyk op 'n klein swart/wit tv-stelletjie, en op die lessenaar staan 'n glas CBY. (Dis nou Piketberg se nommerplaat, en die boere vertel sommer waarvoor dit staan: Coke, brannewyn en ys.) 

In die afwesigheid van 'n ontvangsdame moes ek en die man die hond se boekie invul. Hy vra: Wat is die hond se naam: Boland, vertel ek.

Watse ras? vra hy. Ek kon nie die herkoms so mooi onthou nie, en se toe: Afgaanse Berghond. (Boland was eintlik 'n kruising tussen 'n Bull Mastiff en 'n Pirenese berghond, of so iets.)

Ek sien hoe ruk die veearts se kop, en hy se hy het nog nooit van so 'n hond gehoor nie. Ek ook nie bieg ek, en ons lag al twee baie lekker, en ons kyk al twee vir die CBY.

22 Oktober 2009