VAN PLETTENBERG SE BAKEN: Die Bloemfonteinse Konvensie van 1854 het die Oranje Vrystaat as ‘n onafhanklike republiek tot stand gebring. Die grense van die nuwe republiek is hierin onder andere gedefinieer as die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier. Dit was dus die gebied noord van die Kaapkolonie.

 

Die Oranjerivier, soms ook genoem die Grootrivier maar eintlik die Gariep, ontspring in Lesotho aan die westelike hang van die Drakensbergreeks. Dit kronkel vir meer as tweeduisend kilometer ver deur berge, koppies, grasveld, Karooland en woestynwêreld om die onbenutte porsie van sy water uiteindelik in die Atlantiese oseaan uit te stort. Nadat dit Lesotho verlaat, vloei dit verder deur Suid-Afrika om eers die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap te vorm en dan tussen die Vrystaat en die Noord-Kaap. Daarna vloei dit steeds weswaarts deur die Noord-Kaap om uiteindelik die grens tussen die Noord-Kaap en Namibië te vorm.

 

Die naam “Oranje” het hy in 1779 amptelik gekry toe dit deur kolonel Robert Jacob Gordon so vernoem is om die Nederlandse prins Willem van Oranje te vereer maar dit was baie amper anders gewees. In 1778 is ‘n baken op die vlaktes van die Karoo in die naam van goeweneur Van Plettenberg opgerig. Die doel daarvan was tweeledig: eerstens om aan te toon dat Van Plettenberg daar was en tweedens om die noordelike grens van die Verenigde Oost-Indiesche Compagnie (VOC) se gebied van die “Land van Bosjesmans en wilde Hottentots” aan te dui. Hierdie baken is 200 treë oos van die Seekoeirivier opgerig. Tans is die presiese plek van die baken op die plaas Quaggasfontein, ongeveer 50 km Noordoos van Hanover, 28 km effe Suid van direk Wes van Colesberg en 8km Suid-Suidoos van Sjineeshoed, ‘n prominente koppie in die omgewing.

 

Die Seekoeirivier is ‘n sytak van die Oranjerivier en die spesifieke plek waar die baken opgerig is, is sowat 50km kort van waar die Oranjerivier vloei, wat uiteraard ‘n baie beter grens vir die VOC se kolonie sou wees. Die vraag is nou waarom Van Plettenberg nie die “grenspos” by die Oranjerivier opgerig het nie? Twee redes word aangevoer en beide van hulle het betrekking op kolonel Gordon wat deel van Van Plettenberg se geselskap was. Gordon was van Skotse herkoms maar is in Nederland gebore. Hy  was ‘n soldaat en verkenner en met sy aankoms in die Kaap in 1777 was hy tweede-in-bevel van die garnisoen. Hy het verskeie ekskursies die binneland in onderneem en was terloops ook die inisieerder van die Suid-Afrikaanse merinobedryf. Dit is ook na hom wat Gordonsbaai vernoem is. van-plet-blog

Die eerste teorie is dat Gordon tydens die tog na die Seekoeirivier op ‘n plek in ‘n slaggat geval het wat as strik vir seekoeie gegrawe was. Hy is toe sodanig beseer dat die geselskap moes omdraai en nie verder met die tog kon aangaan nie. Die ander meer waarskynlike teorie is dat Gordon doelbewus nie die “groot rivier” vir Van Plettenberg wou wys nie. Hy was vantevore in die omgewing en het vermoed die “groot rivier” 50 km noord van hulle dieselfde een is wat heelwat verder wes in die Atlantiese oseaan uitmond. Hy wou eerder die rivier na die prins van Oranje vernoem maar wou seker maak of dit wel dieselfde rivier is wat so ver wes gevloei het. Uit vrees dat Van Plettenberg die geleentheid sou aangryp om die rivier na homself te vernoem, het hy oor die bestaan van die rivier geswyg en die Kaapkolonie se grens was vir etlike jare dus 50 km kort van waar dit moes wees. Toe Gordon wel later kon bevestig dat die “groot rivier” die Grootrivier is, het hy dit die Oranjerivier genoem en dit het toe die noordelike grens van die Kaapkolonie geword.

Die baken by die Seekoeirivier het mettertyd in onbruik verval omdat niemand dit toe uiteraard meer as die grens beskou het nie. Buiten enkele sporadiese verwyings in 1830 en weer in 1844 was kennis oor die bestaan van die baken dus later totaal tot niet totdat die broers Henry en George Murray dit in 1892 herontdek het, kort nadat hulle Quaggafontein gekoop het. George was ‘n landmeter en was daarvan bewus dat die baken in ‘n opmeting van 1838 op die plaas aangedui was. Na ‘n soektog het die twee broers die roetbevlekte, gebreekte baken gekry en dit as Van Plettenberg s’n uitgeken. Vir dertien jaar het hulle die fragmente op die woonhuis se stoep uitgestal maar in 1905, op aandrag van sir Walter Hely-Hutchinson, die laaste goewerneur van die Kaapkolonie en ‘n besoeker aan die plaas, is die stukke uiteindelik na die Suid-Afrikaanse Nasionale museum in Kaapstad vir bewaring gestuur. ‘n Gedenkteken dui vandag die plek aan waar Van Plettenberg oorspronklik sy baken opgerig het.

 

En Gordon? Hy het op 27 Oktober 1795 selfmoord gepleeg, klaarblyklik omdat hy nie die Britse okkupasie van die Kaap kon verhoed het nie.

Bronne:

Mary Sadler-Altena, Gariep: Kleurryke verhaal van die historiese Khoi-naam vir die Oranje.

 Roger Stewart, Van Plettenberg’s Seekoei River Beacon.

 Wikipedia, Robert Jacob Gordon.