DRIE BENNIES Op Saterdagoggend, 3 Mei 1947, verlaat 'n vragmotor vol opgewonde hoërskoolseuns Vryburg van waar hulle vroeër voor die Grand Hotel bymekaar gekom het. Dit is twee rugbyspanne wat met ‘n toe militêre vragmotor op pad is om kragte teen hul medeskoliere op Christiana te gaan meet. Voorin sit drie onderwysers naamlik mnr. Van der Linde, wat die vragmotor bestuur, die afrigter mnr. Calitz in die middel en dan mnr. Klue teen die linkerkanste deur. Nog ‘n onderwyser, Mnr. De Villiers, klim agter by die seuns in. Hy het die gesogte skoolvlaggie by hom en sal die middag een van die vlagmanne wees. Al die spelers en ook die drie seuns wat as toeskouers saamgaan, sit agter in die bak met die dakseil hoog bo oor die traliewerk gespan. Die heelagterste seuns maak hulleself gemaklik op die bak se klap met 'n kombers wat hulle dubbeld vou en op die borand laat lê. So sit hulle op die klap met hulle voete na binne: Noël Dent heel links, dan Bennie van Niekerk, mnr. De Villiers in die middel, Bennie Kühn aan sy anderkant en Bennie Kruger heel regs.

Die voertuig volg nie die korter pad van Schweizer-Reneke direk na Christiana nie. Daar is te veel hekke en die pad is gewoonlik nie goed nie. Hulle ry oor Bloemhof maar 'n paar myl voor die dorp bars 'n band. Dié ruil hulle vinnig om met die vele gewillige hande tot hulle beskikking en met die inry in Bloemhof sê mnr. Van der Linde dat hy net die wiel stywer wil pomp wat hulle flussies vervang het. Langs die garage is daar ‘n kafee en mnr. Calitz stel voor dat hulle koffie gaan drink. Dié voorstel word  van die hand gewys omdat van die ander onderwysers hom daarop wys dat dit reeds half twaalf is en dat hulle liewers moet aanstoot. Met singende kinders agterin vertrek die vragmotor weer uit Bloemhof en ry in ‘n westelike rigting parallel saam met die treinspoor wat op sy beurt weer ‘n reguit lyn teen die Vaalrivier se kronkels trek.

Net voor die spoorwegoorgang by Ferndale sien die drie voorste insittendes aan hul regterkant ‘n stoomlokomotief en die hoek van hulle uitsig laat dit lyk of die trein langs die halte se perron staan. Die hekke by die oorgang is toe maar toe die vragmotor voor die hek tot stilstand kom, maak 'n jong seun die hek vir hulle oop. Hy was waarskynlik oorywerig om 'n guns aan die bestuurder te bewys en onder die indruk dat die trein dan wel by die halte staan, sit mnr. Van der Linde die vragmotor in rat en ry deur die hek om die spoor oor te steek. Die trein het helaas nie stilgestaan nie maar teen 45 mpu deur die Ferndale-halte gestoom! Daar was 'n geweldige slag toe die swaar lokomotief die vragmotor net agter die regter voorwiel tref. Met dié wat hy die voorste deel van die vragmotor van die spoor af wegstamp, ruk die bakdeel binnetoe en teen die trein vas. Die drie Bennies wat agter op die klap gesit het word tussen die vragtmotor en die lokomotief vasgedruk terwyl die ander kinders op die plat grond voor die spoor uitgeslinger word.

Bennie van Niekerk en Bennie Kühn is op slag dood terwyl Bennie Kruger en mnr. Van der Linde sterwend was. In die verwarring het dié wat kon die ander probeer help. Motors het begin saamdrom en 'n passasierstrein moes noodgedwonge voor die toneel stilhou. Noodhulp is aan die beseerdes verskaf terwyl die polisie en dokters ontbied is. Mnr De Villiers het ‘n geleentheid by van een van die motors wat op die toneel stilgehou het gekry en by Wildehoen, die volgende halte, ‘n telefoonoproep na Vryburg gemaak om die mense daar van die ramp in kennis te stel. Intussen is besluit om die agt kinders wat ernstige beserings opgedoen het met die passasierstrein na Klerksdorp se hospitaal te vervoer.  Teen hierdie tyd het Bennie Kruger en mnr. Van der Linde ook reeds aan hulle beserings beswyk. Nadat die passasierstrein met die ernstig beseerdes vertrek het, is die ander kinders met motors na Bloemhof geneem waar hulle in die hotel versorg is. Hier het mnr. De Villiers ‘n verklaring aan die polisie oor die voorval afgelê terwyl die ouers vanaf Vryburg begin opdaag het. Toe een van die ouers verneem dat sy seun op die passasierstrein is, vertrek hulle ook inderhaas na Klerksdorp. Kort voor Wolmaransstad het dié motor omgeslaan en moes hulle in die hospitaal aldaar behandel word.

Van die 34 seuns wat agterin die vragmotor gesit het, is 32 uit die bak geslinger. Naas die vier sterfgevalle en agt ernstig beseerdes het net drie totaal ongedeerd uit die ongeluk gekom terwyl die skoolvlaggie in die ramp verlore geraak het.

 

Hoërskool Vryburg herdenk hierdie ramp vandag nog deur jaarliks ‘n krans by die Drie Bennie Monument op die skoolterrein te lê. Die skool se hoogste toekenning, naamlik die Drie Bennie-beker, word steeds elke jaar aan die veelsydigste matriekleerder van Hoërskool Vryburg toegeken.

Bronne:

http://vryburg.net/index.htm