Die koste-plus koringprys wat eenkanaalbemarking verseker het, het monokultuur en hoë toedienings van sintetiese stikstof sonder veel risiko winsgewend gemaak.

Die afskaffing van dié bemarkingstelsel het die risiko na koringboere verskuif. Die storie van hoe die broers mnre. Cobus en JP Bester van UD Boerdery by Moorreesburg stikstoftoediening tien maal minder gemaak het, begin saam met die verwagte groot veranderinge in steun aan die landbou ná 1994.

“Van 1971 tot 1994 kon ons koring in monokultuur toepas en winsgewend boer met tot 120 kg stikstof/ha.”

Teen 1994 het die Besters besef die skrif is aan die muur. Hulle het besluit om na wisselbou oor te skakel en koste te begin bestuur. “Ons moes verander as ons wou oorleef.”

Cobus het onlangs op die Bewaringslandbou Wes-Kaap Jack Human-bewaringslandbouweek en in Februarie tydens ’n onderhoud gesê die geskiedenis was nie goed vir hul grond nie. Dit is iets wat hulle probeer regstel. “Die kwessie vir ons is om te kyk met hoe min sintetiese stikstof ons ’n vol oes kan realiseer.”

Omdat hulle destyds in ’n kontantgewasstelsel “vasgevang” was, het die Besters begin om koring met kanola af te wissel. In die beginjare is tot 180 kg stikstof/ha vir kanola aanbeveel. Toe lupiene bykom, kon hulle die stikstoftoediening vir die koring verlaag tot 80 kg/ha.

Dié verandering was maar net die begin van hul pad met laer stifstoftoediening.

Met die regte chemiese balans en suurheidsgraad in die grond, goeie bewaringsboerderyprak­tyke en twee jaar van peulgewasse voor koring, is dit moontlik om ’n koringopbrengs van 3 t/ha met so min as 9 kg sintetiese stikstof per hektaar te behaal. Foto: Ter illustrasie

LANG leerPROSES

Die broers het nie oornag daarby uitgekom om in 2019 ’n oes van 2,99 ton met net 9 kg stikstof/ha te behaal nie. Dit was ’n lang proses.

In 2000 het hulle vir die eerste keer medics gevestig. Hulle het ook in daardie tyd begin om kalk veranderlik toe te dien om die grond se suurheid (pH) konstant op 6 te hou, en die kalsium-magnesiumverhouding tot 68:12 te herstel.

Cobus sê hulle het gips (kalsiumsulfaat- dihidraat) begin strooi om swael in die grond te kry. “Met die vars kalsium in die grond het ons dit reggekry om die doeltreffendheid van die stikstof te verbeter. Ons het ’n beter graad koring gekry met dieselfde hoeveelheid stikstof saam met die gips. Toe kon ons die stikstoftoediening verder verlaag.”

Dit was gedurende die goeie jare van 2005 tot 2014, toe hulle genoeg reën gekry het en redelike oeste en graangehalte kon afhaal. “Ons wou net so bemes dat ons 11% tot 11,5% proteïen op koring kon kry.”

Toe dit alles so begin uitwerk, kon hulle al hoe minder stikstof begin toedien, tot hulle later gemaklik met 50-60 kg stikstof/ha geboer het. Ongelukkig het raaigras die boerdery baie probleme besorg. Daarom het die Besters ’n langer rotasie met meer verskeidendheid begin oorweeg.

Prof. Stephen Powles, nou afgetree maar toe hoof van die Australiese inisiatief vir onkruidweerstand in Perth, het die Swartland in 2006 besoek. Hy het voorgestel die boerdery skakel oor na ’n derdestelsel, waarin hulle op enige kamp net een keer elke drie jaar koring plant.

Die Besters het die waarde van Powles se voorstel ingesien en in 2010 begin om ’n volle derdestelsel toe te pas. In die stelsel word koring gevolg deur “vuil” medics waarin hulle net grasse in September met parakwat doodspuit en ’n deel daarvan met ’n dekgewasmengsel van swarthawer, radyse en rog beplant vir weiding. In die derde jaar hou hulle die medics “silwerskoon”.

“Die medics is ons bemestingsfabriek wat sorg dat ons met min chemiese of sintetiese stikstof kan boer,” sê Cobus.

Landbouweekblad het al oor hul derdestelsel geskryf [“Derdestelsel maak weer sin (en wins)”, 19 Oktober 2018].

Medics is die Besters van Moorreesburg se “stikstoffabriek”, wat help om min sintetiese stikstof te gebruik.

DROOGTE BRING KOPSKUIF

Teen 2015 en 2016 kon hulle die stikstof tot net minder as 40 kg/ha verlaag, sê Cobus. “Toe kom die uiters droë jare waarin ons nie meer 4 t/ha oes nie. Ons gemiddelde opbrengs het met ’n ton per hektaar gedaal. Ons het besef ons boer nou in ’n ander sone, met reënval wat net 50% tot 60% van normaal is, en ’n derdestelsel.”

Hulle het maniere gevind om vas te stel hoeveel stikstof daar in hul grond is en ’n formule geskryf waarvolgens hulle afsnytye van die hoeveelheid reën en datums gebruik om net genoeg stikstof toe te dien.

Die afgelope vier jaar het hulle met net 9-10 kg stikstof/ha geplant. Daarna het hulle na gelang van die reënval en opbrengspotensiaal bobemesting toegedien. “Dit gaan daaroor om met die minimum stikstof te boer en steeds met ’n vol oes by 11,5% proteïen en watergebruiksdoeltreffendheid van 15 kg graan per mm reën uit te kom.”

Verlede jaar het die Besters se oë oopgemaak vir die moontlikhede van die stelsel. Dit was weer nie ’n gunstige jaar in die Swartland nie, dog dit was die eerste jaar dat hulle die moed gehad het om nie bobemesting toe te dien nie. Hulle het steeds 2,99 t/ha geoes by Moorreesburg en 2,2 ton by Koringberg, waar net 150 mm reën in die groeiseisoen gemeet is.

Hulle het ook op ’n deel van die kamp nie ’n korrel kunsmis toegedien nie, en ’n skaflike 2,7 t/ha geoes. “As ons 25 jaar gelede niks kunsmis toegedien het nie, sou ons net 1 t/ha geoes het. Ek dink daar is baie groot vordering wat die doeltreffendheid en lewering van die grond betref.”

Cobus sê as dit goed reën, sal hulle weer stikstof toedien. “Ek kan my egter nie indink hoe ons weer met méér as 40 kg stik- stof/ha gaan boer as ons die grond se status reg hou nie.”

Die onlangse aanpassing aan die koringgraderingstelsel werk ook ten goede mee, sê hy. “Die grootste verskil is dat die eerste graad se proteïenvereistes van 12% verlaag is tot 11,5%. Dit beteken ek kan met minder stikstof boer, want ek hoef nie meer vir 12% te mik nie. Dit verlaag ook my koste en risiko.”

’n Dekgewasmengsel van swarthawer, radyse en rog help om meer skape en beeste aan te hou.

BEMESTINGSTOWWe

Hulle bandplaas ’n aanvangsbemesting van Atlantic Fertiliser se hoenderkorrels (6:10:3) in ’n mengsel van 60% hoendermis en monoammoniumfosfaat (MAP). Die hoenderkorrel is ’n goeie draer van fosfaat. Hulle meng ook spoorelemente soos yster, koper, mangaan, sink en molibdeen in, en van vanjaar ook gips.

Dit word veranderlik toegedien volgens die kalsiumkaart en met die hulp van ’n globale posisioneringstelsel (GPS). “Ons dien meer stikstof toe waar die kalsium laag is, en minder waar dit hoog is.”

As hulle bobemesting toedien, word KAN (kalksteenammo- niumnitraat) van Yara gebruik. “Omdat ons met min stikstof kan boer, verkies ons Yara s’n. Ons gebruik ’n kunsmiskorrelgrootte van 2,5 mm omdat ons dit op 36 meter strooi.

“Ons wil nie ureum gebruik nie, want dit is ’n risiko uit ’n klimaatsoogpunt. As dit te koud is, neem dit te lank om te werk, en as dit te warm is of te veel reën, verloor jy.”

Die formule wat die Besters geskryf het om bobemestingsinkremente vas te stel, is spesifiek vir hul grond se omstandighede en geskiedenis geskryf.

Cobus sê dit werk vir hulle, maar die formule is nie iets wat net so na ander plase oorgedra kan word nie. “Jy moet jou grond baie goed ken, baie jare se data hê en jou eie formule kan skryf. As jy nog nie kalk vir ’n paar siklusse veranderlik toegedien het en dus nie genoeg data oor kalsiumvlakke vir kalsiumkaarte het nie, kan jy dit nie doen nie. Jy kan nie bloot die inligting van jou stroperkaart af kry nie.”

Vee maak ’n noodsaaklike deel van die stelsel uit. Hulle verwerk die plantmateriaal tot mis en urine, wat bydra tot grondgesondheid.

KRY KALSIUMVLAK REG

Kalsium is die hoofelement in kalk en gips. Die Besters wil dit op 1 000 dele per miljoen in hul grond hê om te verseker dat stikstof wat hulle toedien, doeltreffend werk.

Sowat een derde van hul grond is op daardie vlak. “As kalsiumvlakke nie hoog genoeg is nie, moet jy die plant met stikstof help. Dis hoekom kalk so belangrik is. As die kalsium reg is, kan jy met moord wegkom, so min stikstof hoef jy te gee. Maar as jy die kalk en gips los, moet jy kunsmis saai.”

Hul formule help om stikstoftoediening aan te pas volgens omstandighede. Dit het ook afsnypunte. “Ons saai die eerste bobemesting as ons 50 mm reën gekry het op sekere ligte grond, maar eers ná 100 mm reën op die swaarder grond.

“Daarna werk ons volgens datums. As die omstandighede teen 30 Junie nog nie reg was om bobemesting te saai nie, moet ons mooi dink of dit wenslik is om dit te doen.”

Cobus sê hulle begin deesdae met 9 kg stikstof/ha en dien dan bobemesting volgens hul formule toe. Verlede jaar met oestyd het hulle gesien dit werk op hul plase omdat die grond oral dieselfde behandel word.

STIKSTOF

Cobus sê daar is min plekke in Suid-Afrika wat op groot skaal stikstofvlakke in die grond kan toets. “Soos ek dit verstaan, moet jy die monsters neem as die grond nat is, net voor plant, maar dit is nie prakties vir ons wat in die droë grond plant nie.”

Hulle kon bereken dat hul grond 100 kg organiese stikstof, (saamgestel uit die koolstof en die medics se bydrae) lewer. “Met die hoeveelheid stikstof wat ons toedien, moet die res uit die grond kom. Die uitslae van blaarmonsters toon dikwels tekorte, maar daar kan nie bepaal word hoeveel organiese stikstof in die grond losgemaak word as dit in Augustus warmer begin word nie.

“Sodra die grond se temperatuur hoër as 13 °C word, begin die wiel draai. Dan kom groot hoeveelhede stikstof los, maar jy kan dít net weet as jy die geskiedenis van jou plaas ken.”

Só BEGIN JY

Boere wat mettertyd gesonder grond wil hê en minder stikstof wil gebruik, moet seker maak hulle ken hul grond, sê Cobus.

“Neem grondmonsters, kry die kalsium-magnesiumverhouding en die suurheidsgraad reg. Sorg dat jy die regte wisselboustelsel met peulgewasse toepas.

“Ná waarnemings, inligting en ondervinding van 25 jaar, kan ons sê jy het ten minste ses jaar plus nodig om goeie resultate te kry indien jy alles reg doen. As jy nou daarmee wil begin, is veranderlike regstellings met kalk ononderhandelbaar.” 

Navrae: Mnr. Cobus Bester, 083 229 1389.
Mnr. Cobus Bester

LBW vra . . .

Mnr. Cobus Bester

Wat is die slimste ding wat julle gedoen het?

Om gedurig aan te pas.

Dit lyk asof julle iets leer by elke kundige wat die Wes-Kaap of jul plaas besoek. Hoe kweek ’n mens so ’n ingesteldheid?

Ek dink dit help baie as jy in ’n huis grootword waar dit belangrik is om nuttige inligting te versamel.

By wie het julle die meeste geleer?

Ek gaan niemand uitsonder nie. Almal wat ons pad gekruis het, het ’n aandeel gehad.

Wat kan OF moet julle nog verander of verbeter

Om met minder reën beter oeste teen ’n lae risiko te behaal.

Sonder watter tegnologie kan julle nie klaarkom nie?

Die internet, GPS en weervoorspellings.