Vyf jaar gelede het mnr. Christo Beukman (46) van Ladybrand by ’n kruispad gestaan. Hy moes besluit of hy die korporatiewe wêreld gaan verlaat en sy naweekboerdery voortaan heeltyds uitleef. Boerdery was immers sy eerste liefde en hy wou graag iets nuuts aanpak.

Hy het in daardie stadium vir OVK gewerk as hoofbestuurder van nywerhede. “My passie is projekte, om iets van die grond af te ontwikkel en dit te maak werk. Maar jy moet darem ’n ding aanpak wat sin maak.”

Vir Beukman het ’n heeltydse boerdery baie sin gemaak, pleks daarvan om dikwels weg van die huis te wees en min tyd saam met sy vrou, Yolanda, en hul drie kinders, Isabelle (12), Christiaan (10) en Carine (8), deur te bring.

Die deeltydse boerdery is aanvanklik aangepak saam met sy pa, Chris, wat jare lank ’n apteker op Ladybrand was. “Ons het lande gehad, maar ons het nie gesaai nie. Ons het met vee (Bonsmarabeeste) geboer en net so nou en dan geplant. Toe ek betrokke raak, het ek ’n grondklassifikasie gedoen om te sien of dit die moeite werd sou wees om te saai. Die uitslag het gewys hier is wesenlike potensiaal en ek het die saaikomponent deel van my boerdery gemaak.”

Om somme te maak, is tweede natuur vir dié ouditeur. “Omdat ek uit die rekenkundige wêreld kom waar syfers moet balanseer, glo ek nie aan ’n maklike middeweg nie. Dit is reg of verkeerd.” Toe Beukman vyf jaar gelede, in een van die mees ondergemiddelde reënvaljare vir die distrik, die eerste keer oes, wou die somme nie klop nie. Die opbrengs wat hy geweet het sy grond kan lewer, is nie behaal nie.

Belowende reënwolke pak saam oor die sonneblomme op die plaas Roodebloem by Ladybrand. Op die agtergrond steek Platberg uit. Foto’S: CHRISTO BEUKMAN, TENSY ANDERS VERMELD

AANPASSINGS NODIG

Ná ’n tweede jaar waarin die opbrengs weer nie na wens was nie, het Beukman besef hy moet sy kunsmistoediening aanpas. Hy het gaan kers opsteek by die Kotzé-familie van Senekal, wat die Nutrigrun-kunsmisaanleg bedryf, en het saam met die grondkundige mnr. Charl Marais riglyne ontwikkel om ’n optimale opbrengs selfs in droogtetye te verkry.

“Die eerste jaar toe ons die program gevolg het, was die reënval hier by my steeds ver ondergemiddeld. Die resultate was dus nie so goed nie. Ons het aanhou verfyn en ewe skielik het die resultate begin draai. Ondanks ál minder reën en al hoe groter druk met planttyd, het ons toe dinge begin regkry.”

Hy sê die sleutel was die grondontleding wat vooraf gedoen is as deel van die Nutrigrun-plan. Dit het gewys waar die tekortkominge is. “Die Oos-Vrystaatse grond het oral tekorte. Ons het moeilike grond in dié sin dat jy in een land ’n klomp verskillende tipes kry. Elke land is uniek en het sy eie behoeftes gehad.

“ ’n Wesenlike tekort wat by almal voorgekom het, was boor, sink en swael. Die kalsium:magnesiumverhouding in baie van die lande was ook nie ideaal nie, en ons moes dit regstel. Ons het aanpassings begin maak en was nege uit tien keer in die kol.”

Elke seisoen word ’n grondontleding gedoen en risiko’s word met blaarvoedings bestuur. “Dit is nie nuwe dinge wat ons doen nie – grondregstellings, kunsmisregstellings en verstellings aan die planter – maar die beginpunt is die grondontleding. Dit is uiters belangrik.”

Beukman sê hy is nog nie by die punt waar hy planters met wisselende toediening gebruik nie. “Dit maak vir my nie sakesin nie. In ons wêreld is die grond eintlik net té marginaal. ’n Mens moet mooi dink of die opbrengs daardie uitgawe regverdig.”

Hy het ’n kommersiële Bonsmarakudde en pas wisselbou toe met sonneblomme, mielies en tef, wat in derdes afgewissel word. “Dit gee my ’n goeie kans om my veekomponent te vergroot. Wanneer ek tef plant, kry die grond kans om te rus van al die chemiese middels wat ons moet toedien.”

Beukman pas wisselbou met mielies, sonneblomme en tef toe. Hy skryf die mielies se stewige wortelstelsel toe aan die veranderinge wat hy aan die planters aangebring het.

GRONDBEWERKINGSMETODE

Die lande word hoofsaaklik met ’n Kverneland CLC-tandwerktuig bewerk en dan gelos tot net voor planttyd, wanneer Beukman met ’n vlak tandbewerking die lande mooi skoon kry. Hy het ná vyf jaar ’n skaarploegbewerking op sekere van die lande gedoen.

“Dit is nie die ideaal nie, maar ons sien dit is nodig. Ons lande is vir 20 jaar nie met ’n skaarploeg bewerk nie. As ons die lande sowat een keer elke vyf jaar met die skaarploeg omdop, help dit om die risiko van springhaasrotte hok te slaan en in ’n mate om Sclerotinia reg te kry, wat ons baie opdraande gee hier in die Oos-Vrystaat.”

Nadat die saadbedding met ’n vlak Vibroflex-tandbewerking voorberei is, plant hy sodra daar genoeg reën geval het. Hy het die wensonneblomme op 17 Desember 2019 met ’n Equalizer-planter (8 rye) begin plant.

Beukman gebruik drievoet- (91 cm) rye. Die plantestand is 42 000 plante/ha vir sonneblomme en 24 000 plante/ha vir mielies. Die plantdiepte hang van die beskikbare vog af. “Soms jaag ons die vog na. Ons probeer mielies 5-7 cm diep plant en sonneblomme ’n bietjie vlakker.”

Hy verkies om mielies in November te plant en sonneblomme nie later as begin Desember nie. “Ons het die afgelope vier jaar elke keer laat geplant omdat ons vir reën gewag het. Hier by my word dit te koud om ná Kersfees te plant. Die plant lyk baie mooi, maar die opbrengs is teleurstellend.”

Die streek se gemiddelde reënval is sowat 650 mm per jaar, maar die vorige twee jaar het Beukman geplant met enigiets van 300 mm tot 460 mm per jaar. In die 2019-’20-seisoen, toe sy wensonneblomme geplant is, was die reënval nie net ver onder die gemiddelde nie, maar dit het ook eers laat begin reën. Weens die droogte was die beskikbare weiding beperk en was hy genoodsaak om tot op die laaste nippertjie sy oesreste te laat bewei.

Beukman se wenopbrengs van 3,499 t/ha is behaal met die Pioneer-kultivar 65LP54. “Dié kultivar se opbrengspotensiaal is indrukwekkend. Dit bied kragtige ontkieming wat dit makliker uit die grond laat kom.”

In die winter word oesreste swaar bewei. Die teflande word klaar benut teen einde Mei. Dan begin hy die lande vir die nuwe seisoen met die Kverneland CLC bewerk.

Beukman pas wisselbou met mielies, sonneblomme en tef toe. Hy skryf die mielies se stewige wortelstelsel toe aan die veranderinge wat hy aan die planters aangebring het.

BEMESTINGSPROGRAM

Omdat die grond so sanderig is, het kunsmistoediening voor die planttyd nie lekker gewerk nie, sê Beukman. Sy bemestingsprogram behels ’n kalkregstelling en dan word ’n pasgemaakte plantermengsel per land toegedien. “Die lande agter die berg het byvoorbeeld ander behoeftes as dié aan die duskant. Party benodig meer kalium en ander meer sink of yster. Ons probeer die tekorte in ons plantermengsel regstel.”

Wanneer die plante vier tot ses weke oud is, word bobemesting toegedien. “Daardie land het in die ontleding vir my gewys wat hy nodig het, dus weet ek hoe ek hom moet behandel.

“Ons dien ook blaarvoedingbespuitings toe. Vir die sonneblomme spesifiek is dit ’n blaarbespuiting met die nodige mikro-elemente om tekorte reg te stel. Ek verkies eintlik om eers ’n blaarontleding te doen om te bepaal wat nodig is.”

Die pasgemaakte mengsels vir elke land word in noue samewerking met Nutrigrun saamgestel. Mnr. Meyer Kotzé, bemarkingsbestuurder van Nutrigrun, beskryf die bemestingsprogram wat op die wensonneblomland gebruik is, as volg:

“Grondmonsters is volgens die Charl Marais-metode geneem. Dit bepaal wat in die grond aangaan. Daarvolgens het ons die volgende kunsmismengsel saamgestel: 5:2:1(32) + 0,5% Zn + 3,5% S +10% Groen + 5% Mamba-Zn + koolstof. Blaarbespuitings met baie van die mikro-elemente wat benodig word om tekorte reg te stel, is ná ontleding gedoen.

“Die mengsel is saamgestel om die plant sterker te maak om weerstand te bied teen Sclerotinia. Die nodige swamdoder is ook bygevoeg. Dit alles het tot ’n reuse-opbrengs bygedra.”

Beukman gaan nie ophou om aan sy bemestingsprogram of boerdery te verfyn nie.

“Dit is maar hoe ek is. Ek bedink elke land. Ek gaan kyk wat het daardie spesifieke land gelewer en beskou dan die situasie van alle kante. As die opbrengs nie na wens is nie, probeer ek bepaal wat verkeerd kon geloop het. Ek kyk na my grondontledings en my bemestingsprogramme, bel die grondkundiges, en probeer aanhoudend kyk wat ek beter kan doen.”

MNR. CHRISTO BEUKMAN

BEMARKING

Soos met alles wat hy aanpak, doen Beukman sy bemarking ook strategies en bestuur die risiko’s wat hy kan. “Ek werk van ’n kontantvloei-uitgangspunt af terug. Ek werk uit watter prys het ek nodig om te oorleef, te boer en te groei. Die prys wat vir my hierdie uitkoms sal gee, benut ek.”

Sy graanbemarking word hoofsaaklik deur OVK gedoen. Hy hou daarvan om reeds voor die seisoen sy strategie uit te werk en dan daarby te hou. “Dit kry die emosies uit die weg as die pryse wipplank ry.”

’n Gedeelte van sy oes se prys word voor planttyd vasgemaak en die res as die gesaaides begin opkom. “En dan los ek dit.”

Beukman volg ’n doelgemaakte bemestingsprogram wat deur Nutrigrun uitgewerk word volgens die metode wat deur die grondkundige mnr. Charl Marais ontwikkel is.
Henke Bester (links) en Christiaan Beukman wys hoe groei 2021 se sonneblomme.

DIE PAD VORENTOE

Een ding wat Beukman baie van sy loopbaanverandering geniet, is die kans om ’n bydrae te lewer op die dorp waar hy grootgeword het. “Gemeenskapsdiens, om eerder te gee as om te neem, is iets waarop my pa gesteld was en wat ek by hom geleer het.”

Beukman lewer sy bydrae deur by die georganiseerde landbou betrokke te wees. Hy is voorsitter van die plaaslike boerevereniging en lid van Vrystaat Landbou.

“Jy kan nie op ’n eiland funksioneer nie. Ons as boere is afhanklik van mekaar en van ons plaaslike verskaffers op die dorp. Dit is ’n nou kringetjie en ’n netwerk wat mekaar ondersteun. Ons omstandighede bly onseker. Ons moet in liefde, harmonie en omgee vir mekaar optree.”

Oor die pad vorentoe is hy opgewonde en hy glo daar is nog altyd iets te leer. “Ek is 46 jaar oud. Ek het seker 15 plantseisoene oor, miskien 20 as ek gelukkig is. Daar is nie tyd vir rondval nie. Ek moet bestuur wat in my hande is.

“Die liewe Vader sal vir ons reën op Sy tyd gee. Ek moet doelgerig doen wat ek kan, so goed as wat ek kan, met die kundig- ste mense wat my kan help. Die beloning is dat wanneer jy iets aanhou probeer het, jy dan kan sien hoe alles uitwerk soos dit moet.” 

NAVRAE: Mnr. Christo Beukman, e-pos: christojb1974@gmail.com