“Ek glo julle fundamentele probleem is die gebrek aan mededingers om julle graan te koop,” het prof. Matt Roberts, ’n graanmarkkenner van Amerika, die koringpryssituasie by Graan SA se streekvergadering op Rietpoel opgesom.

Roberts, wat in Suid-Afrika is om die liggingsdifferensiaal te ondersoek, sê dié probleme gaan nie opgelos word deur die differensiaal af te skaf nie. Volgens hom moet boere besef dat, sou hy sy vingers kon klap en die differensiaal in die niet laat verdwyn, hy hulle kan waarborg dat Suid-Afrika se landbousektor in sy geheel swakker daaraan toe sal wees. Hy het ook gesê boere moet dink wat met die Safex-prys gaan gebeur as die differensiaal afgeskaf word. 

Dieselfde slotsom

Roberts, wat hier is op uitnodiging van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE), het die Safex-liggingsdifferensiaalstelsel ook in 2009 op versoek van Graan SA en die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) ondersoek. Hy het toe aanbeveel dat die differensiaal behou moet word en dat die bedryf moet kyk na maniere om inligting en toegang tot inligting in die mark te verbeter. Daarbenewens moet die bedryf ’n gereelde verslag opstel oor markdeelnemers se posisies op die mark en dit oorweeg om ’n elektroniese verhandelingsplatform vir silo-sertifikate in te stel.

Roberts sê een van die dinge wat hierdie keer anders is as in 2009 en ’n groot invloed kan hê, is die interaksie tussen die invoerpariteitsprys en Safex, veral omdat Suid-Afrika ’n netto invoerder van koring is.

Van die boere by die Rietpoelvergadering was ongemaklik daarmee dat Roberts deur die JSE betaal word, maar Roberts het opgemerk dat hy gemaklik is daarmee om die mense wat hom betaal, kwaad te maak.

Prof. Matt Roberts. Foto: Amelia Genis

'Staan saam'

Roberts het einde Januarie geland om vir twee weke met rolspelers in die graanbedryf te praat en inligting in te samel vir die verslag wat hy in opdrag van die JSE moet skryf. Die Graan SA-streekvergadering op 29 Januarie op Rietpoel was een van sy eerste gesprekke. Dit was dus te vroeg om aanbevelings te verwag.

Hoewel hy erken dat ongelyke mag ’n probleem is, is dit iets wat hy nie kan oplos nie. Hy het voorgestel dat koringboere dit weer oorweeg om ’n “koperkoöperasie wat deur kopers besit word”, te stig. “Bou jul eie markmag.”

Mnr. Lourens van Eeden, ’n boer van Swellendam, het gesê hulle hét so iets gehad, maar dit het misluk omdat van die boere hul aandele in die onderneming verkoop het. “Ons moet iets doen aan die ongelyke markmag. Niks gaan verander as ons nie iets daaraan doen nie.”

Volgens Roberts is die enigste ander manier om die magsbalans te verander deur wetgewing, maar dis nie iets wat hy kan takel nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.