Volgens beskikbare inligting is dit is die eerste keer dat die siekte, wat ook geelroes genoem word, in Zimbawe waargeneem is, skryf proff. Zakkie Pretorius, Willem Boshoff (albei van die Universiteit van die Vrystaat), drr. Tegwe Soko van Seed-Co International en Tarekegn Terefe van die Landbounavorsingsraad in ’n verklaring.

Hoewel dié streeproesras nie in die stadium in Suid-Afrika voorkom nie, is dit nie bekend of dit na die suide sal versprei of eens die somer in Zimbabwe sal oorleef nie. Pretorius sê hul verklaring is ’n “voortydige bekendmaking” om mense bewus te maak sodat hulle bedag is daarop. “Dis belangrik om nie paniek te saai nie.”

Soko, ’n koringteler van Seed-Co International, en mnr. Nyasha Chiuraise, ’n plantpatoloog van dieselfde maatskappy, het verlede September die ernstige besmettings in verskillende proefpersele in die Hoëveldstreek, wat meer as 1 200 m bo seevlak is, waargeneem. Streeproes is ook in ’n kommersiële koringland naby Cheguto waargeneem.

Só lyk streeproes wat op koring in Zimbabwe gevind is. Foto: Dr. Tegwe Soko
Só lyk streeproes wat op koring in Zimbabwe gevind is. Foto: Dr. Tegwe Soko

“Die wêreldwye roesverwysingsentrum in Denemarke wat roes-isolate van reg oor die wêreld versamel en inligting daaroor verskaf, het bevestig dat die siekte volgens sy rekords nie vantevore in Zimbabwe voorgekom het nie.”

’n Ontleding van die Zimbabwiese streeproes-isolate toon dat dit van ’n ander ras is as die streeproes wat in Suid-Afrika voorkom. Dit is ook aggressiewer. “As ’n mens na die siekteveroorsakende eienskappe van die ras teenoor sekere belangrike weerstandsgene kyk, toon dit ooreenkomste met streeproesrasse wat in Rwanda, Tanzanië en Ethiopië voorkom.”

Simptome en gevolge

As streeproes vanjaar weer in Zimbawe voorkom, moet koringboere en navorsers op die uitkyk wees vir tekens en simptome van streeproes op hul koring.

Pretorius sê simptome sluit in geel sporulerende roespuisies op die blare wat parallel aan die nerwe van die blare voorkom. “Na gelang van die besmettingsvlakke kan dit een of twee strepies wees met klein puisies in elke strepie of dit kan die hele blaaroppervlak bedek.”

Hy sê roesbesmettings vernietig fotosinterende plantweefsel soos die blare, stamme, are en selfs die baard. “Die resultaat is dan verkrimpte pitte van swak gehalte met ’n laer gewig. Dis moeilik om ’n persentasieverlies aan roes te koppel, want die uiteinde hang af van die groeistadium van die gewas wanneer besmetting begin, die vatbaarheid van die kultivar, die patogeniese vermoë van die swam en of die omgewing gunstig bly vir herbesmetting.

“Geelroes en stamroes kan oeste feitlik vernietig as alles saamval en plante voortydig vrek. Chemiese bekamping is doeltreffend as dit betyds toegepas word.”

Volgens hom en sy kollegas kan heelparty van die streeproesrasse wat in ander dele van die wêreld opgespoor is, by warmer toestande aanpas. “Benewens die vermoë om te akklimatiseer, kan koringkultivars wat in dié stadium geklassifiseer is om weerstand teen streeproes te hê, deur die ras van Zimbabwe bedreig word.”

Plantpatoloë van die Landbounavorsingsraad se Kleingraaninstituut by Bethlehem en die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein hou die situasie dop en werk saam met navorsers van Seed-Co International om die risiko wat dit vir koringproduksie in albei lande inhou, te bepaal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.