Toe die Gautengse sakeman mnr. Ray Strydom die plaas Nassau in die Franshoekvallei buite Ficksburg gekoop het, was hy die sewende eienaar in byna vyf dekades. Die vorige eienaars, die bank inkluis, het alles probeer – van vrugte tot suiwel, konvensionele mielies en koring – maar niks wou werk nie, vertel sy buurman, mnr. Christian Findlay van Franshoek.

Mnr. Ray Strydom in een van sy Lespedeza- lande wat hy drie jaar gelede geplant het.

Ray, wat in Walkerville grootgeword het, het as skoolseun vakansies op sy oom se plaas langs Slabberts buite Fouriesburg gekuier en die Oos-Vrystaat liefgekry.

“Dit was nog altyd, van kleins af, my droom om ’n plaas in dieselfde gebied te hê. My oom het my iets gewys van die Oos-Vrystaat.” Toe hy uiteindelik in die finansiële posisie kom om ’n plaas te kan koop, het hy Nassau, Franshoek se buurplaas, bekom as belegging, ’n soort “bankrekening” met vee, en vir rus en vrede.

Toe kom haal Christian hom een dag en sê hy moet na een van sy lande gaan kyk. “Dit was ’n land waarop al alles probeer is – groenvoer, mielies, koring, sonneblomme, pampoen, aspersies en nog ’n klomp ander – en hulle het nie een oes afgehaal nie. Die grond was te droog en te swak. Maar toe ons daar inry, staan die Lespedeza hoër as my bakkie.”

Op Nassau self was ’n nog mooier kol wat Christian daar gevestig het. Dit was nog nie bewei nie, maar Christian het voorspel dat dít die verskil op daardie plaas gaan maak sodat daar uiteindelik winsgewend geboer kan word, met Sericia lespedeza as die ruggraat.

Hy het aanbeveel dat Ray benewens die plaas se koopprys, wat pas betaal was, nog ’n paar honderdduisend rand vir Lespedeza-saad uithaal. Ray se belangstelling was geprikkel en hy het navorsing begin doen. Een van die eerste wetenskaplikes wie se raad hy gevra het, was emeritusprofessor Gareth Bath, ’n veearts verbonde aan Onderstepoort.

Hy het vir Ray gesê hy weet nie waar die Afrikaanse naam armmanslusern vandaan kom nie. Hy sou dit rykmanslusern of minstens wysemanslusern noem. “Hy het nog gesê as hy ’n plaas van ’n ryk tannie in Engeland erf, sal hy eerste Lespedeza plant voor hy ’n draad span of ’n hek of ’n huis opsit.”

Dit is een van die gewasse wat die beste parasietonderdrukking van enige spesie bied. Dit onderdruk byvoorbeeld haarwurm besonder goed, het Gareth gesê.

SPESIEVERSKEIDENHEID

Ray was taamlik oortuig, maar skepties oor ’n monokultuuraanplanting omdat hy sterk in die mag van spesieverskeidenheid glo. Die rondbellery het hom op die plaas van mnr. Tabs Fox op die Lesotho-grens laat beland.

Wyle mnr. John Fair, bekende bewaringslandboukundige, het al dekades gelede op Tabs se plaas proewe met ’n hele reeks peulplante begin doen – van assegaaiklawers tot sainfoin. John was een van drie Suid-Afrikaners wat destyds op ’n studietoer na Amerika die sukses van die meerjarige Lespedeza in die stabilisering van geërodeerde en afgetakelde grond daar ontdek het.

“Ek kry toe in een dag ’n toer om al die verskillende proewe te kyk, en Tabs wys vir my die Lespedeza produseer tien keer meer as al die ander goed. En ek kon nie met hom stry nie, want ek het dit met my eie oë gesien, op dieselfde plaas waar die verskillende spesies in dieselfde omstandighede gegroei het. Ek plant toe net armmanslusern,” vertel Ray.

Daarna het hy ook met sy ou polovriend, mnr. Henry du Preez, ook ’n boer van Ficksburg, gepraat. “Toe kom ek by die eintlike antwoord uit. Henry het ’n groot geloof in armmanslusern. Hy het aan my verduidelik hoe dit die regte verhouding tussen koolstof en stikstof terugbring, die C:N-verhouding.

“Grasse het baie voordele, maar jy het ’n peulgras ook nodig. Vir die mees biodiverse en winsgewendste weiding moet jy ’n mengsel van grasse en peulplante plant, en Lespedeza werk ideaal hiervoor om die regte produksiebalans weer te bewerkstellig,” sê Ray.

Die klimaksgrasspesie rooigras, eens afwesig, het weer begin groei waar Lespedeza op mnr. Christian Findlay se plaas Franshoek vastrapplek gekry het.

GEWAS HOU JOU OP JOU KNIEË

Dit is wat Ray en Christian nou inderdaad ervaar. Die Lespedeza-plante verdring bankrotbos, groot en klein en selfs in veld wat daarvan oortrek is, terwyl dit die inheemse klimaksgras, soos rooigras, help terugkom. Christian sê dit het sy veld en ou lande se drakrag vir beeste, skape en poloperde ten minste agt keer verhoog, indien nie tien keer nie.

Sy poloperde, wat voortdurend vir sport gebruik word, het geen voedingsaanvulling meer nodig nie. “Almal sê nog altyd jy kan nie bankrotbos uitploeg of uit plant nie (omdat dit so allelopaties is), maar Lespedeza bewys dit nou hier verkeerd,” sê Christian.

Ray vestig Lespedeza nou op sy lande namate sy geldsake hom toelaat, en sy mikpunt is om uiteindelik minstens die helfte van sy plaas onder dié gewas te hê. Die groot probleem met armmanslusern is om dit gevestig te kry, maar dit gee vir jou gratis kunsmis en daar is net ’n eenmalige vestigingskoste. Hulle bemes glad nie vooraf of met plant nie, sê Ray en Christian.

“Jy moet geduldig wees, vir omtrent drie jaar. Dis ’n gewas wat jou op jou knieë op die grond hou soos jy soek vir plantjies wat opgekom het. Maar hy gee vir my verniet kunsmis,” sê Ray. “Die meeste boere sê hulle het probeer, maar die plante het nie opgekom nie. Moenie te gou moed verloor nie. Gee dit drie jaar kans, en moenie snoep wees op die saad nie.”

Nassau en Franshoek is juis besonder moeilike plase met koue winters, suurveld, gereelde droogtes, baie hael en besonder hellingagtige grond wat van sand tot turf wissel. Die reënval is gemiddeld 700 mm per jaar, en dit sneeu jaarliks op die omringende Malutiberge.

Mnr. Christian Findlay op sy plaas Franshoek buite Ficksburg in ’n weikamp met van die swakste grond waar hy ’n jaar gelede Lespedeza gesaai het. Die jong armmanslusernplantjies is reeds oral sigbaar en begin die kaal grond bedek.

Christian boer al 45 jaar daar, en sedertdien het al die plase om hom al minstens drie eienaars gehad, sê hy. Wat Lespedeza daar laat aard, is sy gehardheid en die feit dat dit enige beskikbare vog optimaal benut. Dit het ’n lang penwortel, en sodra die wortel gevestig is, het navorsing elders gewys, kan die plant met vanaf net 350 mm reën per jaar produseer.

Ray verduidelik dat die plante in die winter heeltemal dormant raak, met die groeipunte onder die grond. Dit is ook in die lente die heel eerste spesie wat weer gereed is om bewei te word, selfs lank voor die veld. Ray se plantraad om Lespedeza op die beste manier te vestig, is: Week die helfte van die saad oornag.

Meng die droë én die deurweekte saad die volgende oggend saam met entstof. Berei ’n saadbed voor en plant dan met die ou trekkerwielmetode, waar jy saad voor die wiel uitstrooi, of iets anders waarmee jy druk kan toepas. Ray meen dis onwys om minder as 25 kg saad per hektaar te plant, maar Christian glo 20 kg/ha is genoeg.

Die groot hoeveelheid plantmateriaal wat Lespedeza lewer, sorg vir ’n digte en diep laag organiese grondbedekking (die Amerikaanse gonswoord hiervoor is armour) sodat mikrobes kan floreer en vog bewaar word.

“Dis dom om so ’n belegging te maak en nie dig genoeg te plant nie,” sê Ray. Christian sê hy het al met sukses 8 kg/ha geplant, maar dit was in baie gunstige toestande. Sou jy in rye of met ’n geenbewerkingplanter plant, stel Ray voor mens plant 10 kg (die helfte geweek en die helfte droog) en 10 kg saad ’n week later dwarsoor die eerste ry.

Op dié manier word opkoms en risiko meervuldig versprei. Dit sluit in klimaatsrisiko, soos die tydsberekening van reënval. Omdat die helfte van elke aanplanting se saad geweek is, bewerkstellig dit ’n verdere verskil in die ontkiemingstydperk. En omdat die rye dwarsoor mekaar geplant is, is daar dubbel soveel grondspasie vir die saadjies om op te kom en vir die plante om te vestig.

Hoe nouer die plantrye, hoe beter, sê hy. Sou jy in veld wou vestig, het Ray al sukses behaal deur een glifosaatbespuiting te doen. Dan kan jy óf een snybewerking doen en met die trekkerwielmetode plant óf andersins sonder enige bewerking met ’n geenbewerkingplanter direk in die veld plant.

Oor planttyd sê Ray toe hy met dié gewas begin het, was almal se raad dat dit soos gewone lusern in die najaar geplant moet word om onkruidmededinging te beperk. In die praktyk het hy egter tot die slotsom gekom dat onkruid Lespedeza nie noemenswaardig onderdruk nie.

Hy vind dit dus beter om, ter wille van soveel moontlik vog, in die voorjaar te plant. Hul ondervinding is dat as jy op die lang duur ses plante per vierkante meter sterk kan vestig, gaan die Lespedeza wyd versprei en kaal kolle toemaak. Boere is dikwels lugtig om armmanslusern te plant – nie net omdat dit lank duur om te vestig nie.

Hulle meen ook dit is weens ’n hoë tannieninhoud so onsmaaklik dat diere dit nie wil vreet nie. Ray en Christian stem saam dat die eerste kultivar wat Suid-Afrika destyds binnegekom het, Interstate, ’n té hoë tannieninhoud gehad het, maar intussen het verbeterde kultivars soos Low Tann en AU Grazer beskikbaar geraak.

Ray sê hy verkies steeds Low Tann, veral dié wat die afgelope dertig jaar in Suid-Afrika se harde toestande aangepas het. Ray sê hy het nog nooit ’n probleem gehad dat vee nie sy Lespedeza wou vreet nie, veral as dit in ’n mengsel met gras is. Dan word die Lespedeza hul voorkeurweiding.

Die gewas is wel gevoelig vir ryp, maar vir Ray gaan dit eerder oor tonnemaat produksie per hektaar per jaar.

“Vir my lewer dit van 6 ton tot 10 ton droëmateriaal per hektaar per jaar op in ’n gebied waar niks anders werk nie. Daarom pas ek my boerdery so aan. Daar is genoeg om in die somer te bewei. En dit was oor is, kan jy baal of inkuil vir die winter en op dieselfde land voer. “Hierdie plaas gee nou in die somer genoeg ‘to pay its way’ vir die hele jaar.”

Navrae: Mnre. Christian Findlay, e-pos: fouschama@gmail.com, sel 082 659 1966; Ray Strydom, e-pos: rays@fni.co.za, sel 083 501 1130.


C:N-VERHOUDING

Plantreste met ’n koolstof-tot-stikstof-verhouding van groter as 24:1 is die ideale voedingstof vir grondmikrobes. Hulle ontbind gewoonlik stadiger, en dié met ’n kleiner verhouding ontbind vinniger. Die bestuur van hierdie verhouding bepaal die beskikbaarheid van stikstof in jou grond vir plantopname, asook hoe dik die deklaag bly wat jou grond beskerm.

Tipiese C:N-verhoudings is:

  • Rogstrooi — 82:1.
  • Koringstrooi — 80:1.
  • Hawerreste — 70:1.
  • Mieliereste — 57:1.
  • Rog-dekgewas (blomstadium) — 37:1.
  • Ertestrooi — 29:1.
  • Rog-dekgewas (vegetatiewe stadium) — 26:1.
  • Uitgegroeide lusernhooi — 25:1.
  • Hooi van ’n peulgewas — 17:1.
  • Beesmis — 17:1.
  • Jong lusernhooi — 13:1.
  • Wieke as ’n dekgewas — 11:1.
  • Grond-mikrobes — gemiddeld 8:1.

BRON: SOILS.USDA.GOV/SQI

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.