Op die plaas De Hoek by Prieska, waar die wenopbrengs van bykans 22,3 ton per hektaar by besproeiingsmielies aangeteken is, wentel alles om grondgehalte. De Hoek is mnr. Conrad Coetzee se pa, Connie, se trots. Conrad woeker daar én op die buurplaas Spitzkop, waar hy sy eie heil uitwerk.

Die tweemanskap se samewerking in die Wercon-boerdery bied die voordele van skaalekonomie en die gesamentlike gebruik van die werktuie op albei plase, terwyl die werkmag van 22 heeltydse werkers en een plaasbestuurder, mnr. Adriaan Wessels, ook saam benut word. Al dié gunstige praktyke het vroeër vanjaar tot die sukses van sy wenblok bygedra.

“Toe ek en Adriaan deur die geil mielies stap, vertel hy my van sy pa se gesegde dat die mielies besig is om te smile van geluk wanneer die skutblare met sulke punte van die kop af wegstaan,” sê Conrad. Sy weninskrywing van die Pioneer-kultivar Phb 33Y74 op ’n spilpuntblok van 50 ha het sy verwagting met bykans 1,7 t/ha oortref. Die gemiddelde opbrengs was 20,6 ton/ha in die groot blok, en die wenblok van 2 ha het 22,3 ton/ha behaal.

BEWARINGSBEGINSELS

Die Wercon-boerdery verbou mielies, koring, lusern en suikerbone op altesaam 550 ha besproeiingsgrond. Hy boer ook met 5 ha pimperneute op De Hoek en ’n nuwe aanplanting van 8 ha pekanneutbome is in ’n ou pimperneutboord op Spitzkop aangelê. Connie woel ook met sy Boerbokstoetery en Wit Dorpers op De Hoek.

Die plaas se oorlê-landerye, wat gewoonlik met vroeë mielies begin word, word deur die skape bewei. Oesreste word soos goud bewaar en in die grond ingewerk. Bewaringsboerdery bepaal elke besluit. Dit verseker dat Conrad mielie-opbrengste van selfs meer as 20 t/ha behaal. Hy meen Prieska se grond is uiters geskik vir mielieverbouing. “Ek dink nie daar is vir mielies nog ’n gebied soos Prieska nie,” sê hy.

“Ons koringverbouing is wel marginaal, veral omdat dit weens wisselende weerpatrone betreklik warm in die koring se blomtyd geword het.” Conrad meen sy streek kon nog nooit voorheen ’n opbrengskompetisie wen nie vanweë die praktyk om voortdurend mielies met koring af te wissel. “Sowat 90% van ons boere benut ál hul besproeiingsgrond jaarliks op dié wyse. Dit is ’n praktyk wat sy tol op grondgesondheid eis.”

Die Coetzees pas verminderde bewerking toe met ’n diep tandbewerking van 350 mm. Indien probleme met grondverdigting tot op die vlak van sowat 400 mm op die sandleem van De Hoek ondervind word, sal die tandbewerking tot 500 mm diep wees. Die oesreste word meer as een keer ingewerk om siektes, soos fusarium, ná die koring te voorkom.

“Ons probeer ’n goeie balans handhaaf tussen ’n chemiese en biologiese benadering deur die grondstatus te verbeter en uitputting van die hulpbron te voorkom. Daarom word ’n wisselbougewas, soos lusern, ingespan.” Lusern is selfs geskik op landerye met onkruidprobleme. Derhalwe word lusern vir drie tot vier jaar gevestig op landerye waarvan die opbrengspotensiaal afneem. Suikerbone word ook verbou, maar aalwurms in hul grond is ’n beperkende faktor.

WISSELBOUPRAKTYKE

Mielies word regstreeks in die koringreste geplant. Die mieliereste word vir drie tot vyf jaar agtereenvolgens ingewerk, waarna dit een keer afgebrand word om van siekte- en onkruidprobleme ontslae te raak.

“Gewoonlik het ons genoeg tyd tussen oes- en planttyd om die oesreste een keer in te werk, dan ’n rukkie in die sonskyn te laat bak, nat te maak en ’n tweede keer met ureum, ’n suikerbron en stikstof in te werk om die organismes se afbreekwerk aan te wakker. Dit is moontlik omdat ons kultivars met ’n lang, medium- en kort groeityd afwissel.”

Hulle stroop mielies al in Mei. Die eerste koring, wat in Junie geplant word, is langgroeitydkultivars op landerye waar vroeë mielies in Maart gestroop is. Mediumgroeiers word teen einde Junie op die lande geplant waar die eerste van die laat mielies in Mei gestroop is. Die kort groeiers word teen einde Julie geplant op die mielielande wat laaste gestroop is. Die verbouingspatroon ná lusern is vroeë mielies (wat in Prieska goed vaar), waarna die koring-mielie-siklus drie tot vier produksiejare voortduur. Die Coetzees maak op die kundigheid van GWK se presisieboerderyspan staat vir onder meer wisselbou-aanbevelings.

“Ons kan minstens lusern goed verbou, aangesien ons oor al die nodige toerusting beskik,” sê Conrad. Hulle verkies om nie van kontrakteurs met die regte werktuie afhanklik te wees nie, soos in die geval van katoen en grondbone. “Wanneer jy van ander spanne afhanklik is, gee dit gewoonlik ’n gejaag af. Ek wil die bewerkings aanpak soos ék dit wil doen.” Hulle oorweeg weer die produksie van saaduie, aangesien die boerdery droërs het. Dié gewasse verg egter baie hande-arbeid.

GIPS EN HOENDERMIS

Chemiese kartering van die landerye word elke drie jaar gedoen om die landerye se voedingstofsamestelling reg te stel. Gips, hoendermis, mono-ammoniumfosfaat (MAP) en kaliumchloried (KCl) word dan wisselend toegedien. Dit word ook gedoen wanneer gewasse, soos lusern, afgewissel word, aangesien lusern baie kalium en fosfaat nodig het. Dit is een van die voordele van lusernverbouing – dit werk die neerlegging van fosfate in die kontantgewasse ietwat teë.

Die plantmengsels vir die mielies waarmee die grondmikrobes aangevul word, bevat Mycorrhiza, asook siektevoorkomende Trichoderma in Sidi Parani se groen aanvulling. Atlas se 12:1:7 (stikstof, fosfor en kalium), wat 40% organies is, word sowat 150 mm onder die pit gebandplaas. “Ons het self dié produk met die samewerking van mnr. Rossouw Olivier, verteenwoordiger by Atlas, saamgestel nadat vorige blaarontledings telkemale ’n tekort aan sink en boor uitgewys het. Dit is ’n chloorvrye produk, want ons glo eerder in die werking van kaliumsulfaat, al is dit twee keer die prys van kaliumchloried. Die plant se ontwikkeling vind baat by die omgewing waarin die wortels ontwikkel.”

SPILPUNTBEMESTING

Om in die stikstofbehoefte te voldoen, word ureum en ammoniomsulfaat saam met hu- mate in die spilpuntmengsel toegedien as buffer om nie die plante en organismes in die grond te “brand” nie. Heel in die begin word Probio se BioAg – organismes wat die reste afbreek – toegedien.

Stikstof en kaliumchloried word hoof- saaklik deur die spilpunt toegedien en die fosfaat en kalium in die band onder die saad, waar dit baie beter opgeneem word. Conrad gebruik die gebruiklike presisietoerusting en -hulpmiddels op sy werktuie. Hy het hom die afgelope paar jaar baie op die gewasse se blaarvoeding toegespits, veral ná die verkryging van die selfaangedrewe Case 3230-hoogloopspuit verlede jaar.

Daarna het die oesopbrengs merkbaar verhoog. “Daar is deesdae talle produkte wat met so ’n spuit toegedien kan word en nie deur die spilpunt nie,” sê Conrad. Hy meen ook dat hy voedingsprobleme baie vinnig ná ’n blaarontleding met ’n pasmaakmengsel kan regstel. Wat hom betref, is die groeistadium van die mielie op vier weke en sewe weke van deurslaggewende belang wanneer twee opbrengswendings plaasvind.

Die mielie bepaal op week vyf hoeveel rye per kop ontwikkel en op nege weke die getal pitte en die uitswel daarvan. Die mielies word in die voorafgaande ontwikkelingsweek kunsmis deur die spilpunt toegedien, maar kry ook blaarvoeding om optimale groei te verseker.

PRESISIETOERUSTING

Sy Equalizer-planter kan saad onder meer elektronies plaas. Al hul trekkers is met John Deere se FarmSight-tegnologie toegerus waarvolgens die planter beheer kan word om die plantestand te wissel na gelang van die grond se potensiaal. Hul hoogloopspuit het ook GPS-toerusting. Die boerdery se Valley-spilpunte het gespesialiseerde presisiebeheer wat wisselende watertoediening moontlik maak. Vogmeters in die landerye dui elke 30 minute die watertoediening aan.

’n Mieliekop met skutblare wat in punte van die kop af wegstaan in die wenblok. Dit is volgens Conrad Coetzee ’n aanduiding dat die mielie “glimlag” en gunstige produksie-toestande ervaar.
’n Mieliekop uit die wenland wat die skaal op 536 g laat stilstaan het.

LBW vra . . .

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JY NOG GEKRY HET?

Konsentreer op die basiese beginsels van graanverbouing en kry dit eers reg om jou bestaande grond ten volle te benut.

WAT IS DIE GROOTSTE FOUT WAT JY AL BEGAAN HET?

Ek het een keer die sproeierkoppe van ’n spilpunt op Spitzkop verander om ’n fyn sproei te gee. Dit was egter nie geskik vir waterindringing in dié land se kleiagtige grond nie. In die winter het die aanpassing goed gewerk, maar in die somer het die koring plek-plek tot 2 ton per hektaar minder opgelewer omdat die water en voedingstowwe in die winderige Augustus en September weggewaai het.

WAT IS JOU GROOTSTE BOERDERYSTRUIKELBLOKKE

Die natuurelemente, soos wisselende weerpatrone en windskade aan gewasse, en die wisselvalligheid van graanbemar- king. My wenland het twee keer erge windskade gely.

EN DIE GROOTSTE GELEENTHEDE?

Die gebruik van nuwe tegnologie by werktuie en toerusting en die tegnologiese vordering ten opsigte van kultivars en chemiese hulpmiddels.

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR IN JOU BOERDERY?

In ons bedryf is spilpuntontwikkeling en plantertegnologie, soos die plant van individuele saad, onmisbaar. Ons gebruik ’n kombinasieplanter van Equalizer en het ook ’n Case 3230-hoogloopspuit aangeskaf.

WATTER OPLEIDING HET JY GEHAD?

Ek is as siviele ingenieur opgelei en het twee jaar lank met wateringenieurswese as my spesialisveld in die Kaap gewerk. Daarna het ek ’n jaar lank die doeltreffendheid van besproeiingstelsels vir GWK ondersoek. Toe die plaasbestuurder op De Hoek in 2014 bedank het, het ek die geleentheid gekry om terug plaas toe te kom.

Mnre. Conrad (links) en Connie Coetzee van die Wercon-boerdery by Prieska.

VAN WINDSKADE TOT WENLAND

Mnr. Conrad Coetzee se wenblok mielies het twee keer erge windskade ervaar. Op FOTO 1 is die aanplanting te sien sowat 7-10 dae ná opkoms. ’n Week later (FOTO 2) is nog wind- skade ondervind. Toe hy moedeloos vir pa Connie oor die skade raadpleeg, was die aanbeveling dat hy die aanplanting doodspuit en oorplant.

“Koring kan jy van die begin af afskeep en dit sal herstel, maar mielies wat swak begin, is gedoem,” sê Conrad. “Dit is waarom ons die pop-up toedien om sake vir die mielie-ontwikkeling lekker te maak.” Hy en sy pa het toe ooreengekom om die mielies ’n week kans te gee om te herstel, met ’n vervroegde spilpuntdoediening van kunsmis met bykomende sink en stikstof.

Conrad het ’n bykomende stresmengsel, Alexin van Nulandis, die Spaanse Codamin 150 en Omniboost (vir energie) as blaarbespuiting toegedien. Dit het vrugte afgewerp. Op FOTO 3 is die wonderbaarlike herstel van die mielies op 4-5 weke oud duidelik te sien. In week sewe is ’n lae konsentrasie ureum as blaarbespuiting toegedien nadat blaarmonsters geneem is.

Toe Conrad ná sy Desembervakansie verlede jaar sy pligte hervat het, was hy verras oor die opbrengsbelofte wat die land getoon het en waarvolgens toe met die bemestingsprogram voortgegaan is. Die enigste ander hupstoot wat die grond anders as die ander landerye gehad het, is die stikstofvoordeel van die voorafgaande boontjie-oes. Die gemiddelde opbrengs van die 50 ha was 20,6 ton/ha, en die wenblok het 22,2591 t/ha opgelewer.

“Dit was moontlik deur die regstelling van die tekorte in die grond van die vorige jaar en die tydige toediening van onkruiddoder met die hulp van Pieter-Paul de Vries van BayAgro,” sê Conrad. Die hoogloopspuit help veral met die tydige afhandeling van die spuitprogram binne sowat vier dae teenoor die twee weke vantevore. Die Bt-vrye kultivar Phb 33Y74 van Pioneer vaar baie goed by Prieska teenoor naasliggende omgewings. Omdat die Coetzees steeds konvensionele kultivars plant, moet hulle veral aan bolwurm- en stronkboorderbekamping aandag gee. 

NAVRAE: Mnr. Conrad Coetzee, e-pos: conradcoetzee@hotmail.com; sel 072 347 9319

FOTO 1: is die aanplanting te sien sowat 7-10 dae ná opkoms.
FOTO 2: is nog wind-skade ondervind.
FOTO 3: is die wonderbaarlike herstel van die mielies op 4-5 weke oud duidelik te sien. In week sewe is ’n lae konsentrasie ureum as blaarbespuiting toegedien nadat blaarmonsters geneem is.